KZN vra vir ramptoestand ná oorstromings

Bayhead-pad in Durban is gesluit weens vloede (Foto: Traffic SA, Twitter)

Die KwaZulu-Natalse regering vra dat ʼn ramptoestand in die provinsie verklaar word nadat stormweer en oorstromings sedert Maandag verwoesting in die provinsie gesaai het.

Volgens die regering sal ’n ramptoestand die provinsie in staat stel om aansoek te doen vir noodfinansiering by die nasionale tesourie en dat magtiging toegestaan word om huidige begrotings te herprioritiseer ten einde aandag te gee aan herstelwerk.

Lennox Mabaso, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê die provinsiale uitvoerende raad, onder voorsitterskap van die premier Sihle Zikalala, het Dinsdagaand ʼn spesiale uitvoerende raadsvergadering afgesluit waar hy verslae ontvang het oor rampvoorvalle, die uitwerking van rampreaksie en ingrypings van die provinsiale interministeriële komitee oor rampbestuur.

Zikalala, saam met lede van die uitvoerende raad, lede van die provinsiale wetgewer, burgemeesters en raadslede het Dinsdag verskillende dele van die provinsie besoek om self die skade te assesseer, maar ook om respek te betoon aan diegene wat hul lewens tydens die oorstromings verloor het.

Pres. Cyril Ramaphosa beoog om Woensdag die vloedgeteisterde gebiede te besoek.

Die dodetal in die provinsie weens die vloede het teen Dinsdagaand op 59 gestaan. Altesaam 45 van hierdie sterftes is in Ethekwini (Durban-metro) aangemeld. Die oorblywende 14 is in die iLembe-distrik bevestig.

Die provinsiale regering het vasgestel dat daar ongetwyfeld miljarde rande se skade aan huise, werkplekke, paaie, brûe, krag- en watervoorsiening en ander kardinale staatsinfrastruktuur aangerig is.

Die munisipaliteite wat die meeste deur swaar reën, sterk winde en oorstromings geraak is, is Ilembe, Uthukela, uMgungundlovu, King Cetshwayo, Ugu, Ilembe en Umzinyathi.

“EThekwini Metro was die episentrum van die ramp waar die meeste reën uitgesak en die ergste skade aangerig is,” sê Mabaso.

Impak op die onderwyssektor

Die stormweer het ook die onderwys beïnvloed aangesien verskeie leerders by die huis moes bly omdat hul skole moes sluit of beskadig is. Meer as 140 skole is tot dusver deur vloedskade geraak.

Altesaam 40 leerders en 12 onderwysers van Tholulwazi High in Molweni was by die skool vasgekeer nadat die brug wat hulle gebruik om die rivier oor te steek, ineengestort en die pad verspoel het. Die gr. 12-leerders en hul onderwysers het op die betrokke dag agtergebly vir ekstra onderrig.

“In die lig van bogenoemde is ʼn spesiale vergadering deur die LUR’e van Cogta, die departement van onderwys en die departement van gesondheid belê om te bespreek hoe die betrokke onderwysers en leerders gered sou word. Daar is besluit dat helikopters deur die departemente gestuur sal word.

“Die LUR’e vir onderwys, gesondheid en vervoer het die skool besoek om die nodige hulpbronne te ontbied om die vasgekeerde leerders en opvoeders by te staan terwyl hulle gewag het op die helikopters.”

Mabaso sê die provinsie het ook seisoenale gebeurlikheidsplanne van verskeie sektore geaktiveer, en provinsies en munisipaliteite is geaktiveer om multisektorale reaksiepogings te koördineer. “Koördinering van pogings deur alle relevante belanghebbendes is aan die gang met die fokus op skadebepalings, verligting en reaksiemaatreëls en om aandag te gee aan die onmiddellike behoeftes binne geaffekteerde staatsorgane.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Daizee ·

Én die Ouens wie se goed laas jaar geplunder is, is seker dié wat nou moet help??!!!

Misky ·

Kan nie help om te wonder oor die meer as R200 miljoen wat Zandile Gumede soos mis voor die son laat verdwyn het, die situasie kon verhelp het nie. As daardie geld aan infrastruktuur bestee was, sou ons nie soveel smart nou moes verduur nie.

Daai vrou het indirek bloed op haar hande!!!!

Swerwer ·

Die werkersklas sal sekerlik maar weer gemelk word want die R350 word mos uitgedeel, sommer aan immigrante ook. Pensioen word toegestaan aan wesens van 58 sonder dat bankstate ingesien word, slegs die wit velle moet bankstate voorsien aan Sassa.

Cherokee ·

Geen beurtkrag gisteraand asook vanmôre beurtkrag vrygespring. Later ‘n Engelse berig gesien dat Eskom nie beurtkrag (tot Vrydag) sal toepas op Ethekweni, want ons het ons share gehad. Dit help.

Alfred E Neuman ·

Die ramp in natal is die zuma familie en die plunderaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.