KZN-vrou al meer as ʼn maand lank vermis

Wendy Alice Rowan (Foto verskaf)

Wendy Alice Rowan, ʼn 39-jarige vrou van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal, word al meer as ʼn maand lank vermis en die familie het geen teken van waar sy haarself bevind nie.

Wendy het op 14 Desember verdwyn en is laas in Amanzimtoti gesien.

Jame-Lee Longman, een van Wendy se susters, het aan Maroela Media gesê Wendy het op 13 Desember laas met hul ma gesels en hulle het nog nie weer van haar gehoor nie. “Sy het nie oor Kersfees of Nuwejaar huis toe gebel nie. My ma het 12 Januarie verjaar en my sussie se kinders op 15 Januarie. Sy het nie een van hulle gelukgewens nie. Dit is heeltemal buite haar aard om ons nie oor Kersfees, Nuwejaar of met verjaarsdae te kontak nie.”

Jame-Lee het bygevoeg Wendy het haar ma gewoonlik weekliks gekontak.

“Die ondersoekbeampte is Eddie de Bruin in Amanzimtoti. Haar selfoon is blykbaar gesteel en daar was nie enige beweging op haar sosiale media nie. Haar besittings is nog net so by haar huis,” het sy bygevoeg.

Volgens Jame-Lee is Wendy bekend in die Amanzimtoti, Umkomaas en Scottburgh-gebiede.

Aangesien die familie in ander dele van die land woon, het ʼn lid van die familie na Amanzimtoti gereis om te kyk of hy enigiets kan uitvind. “Ons glo regtig iets het met haar gebeur.”

Wendy is ongetroud en het nie enige kinders nie. Sy was nie werksaam toe sy verdwyn het nie.

Wendy het ʼn Betty Boo-tattoe op haar rug en voorletters agter haar oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anne Swart ·

Vra net? Lyk van vrou uitgespoel by Mosselbaai. Weet nog nie wie? Geen leidrade. Donker hare. Kan dit dalk sy wees?

SP ·

Ek is amper vas oortuig dat ek die dame soos sy lyk in die foto waar sy blonde hare het, Vrydag in Brooklyn, Pretoria gesien het. Sy het my by die Brooklyn Mall voorgekeer en vir geld gevra. Sy was net baie maerder as op die foto. Sy het gesê sy kom vanaf Witbank en moes vir ‘n werksonderhoud gegaan het, waar sy toe laat was a g v dat sy verdwaal het. Die geld wou sy gebruik het om petrol in te gooi om weer terug te kom in Witbank. Het getwyfel aan haar storie, maar het toe vir haar geldjie gegee (so af en toe doen ek my goeie daad vir die maand). Sy het netjies gelyk, was liggies gegrimeer. Het kar sleutels en die voorgesig van die kar radio by haar gehad. Of sy wel vanaf Witbank afkom sal ‘n mens nou nie weet nie, maar as dit wel sy is, is sy in die Pretoria omgewing, spesifiek Brooklyn. Sy het vir my gesê sy soek nou al ‘n jaar lank na werk. Hoop haar mense spoor haar gou op.

JN ·

Nee SP – dit is nie dieselfde vrou nie. Dit is wel ‘n slenter (die vrou by Brooklyn). Dié ‘Brooklyn-vrou’ het my en my man laas jaar, seker al in Sep of Okt met min of meer dieselfde storie ook gevra vir geld. Ook sleutels in hand, voorgesig van radio. Nie die Witbank detail of verdwaal gedeelte, maar wel dat sy moet gaan vir onderhoud en brandstof geld kort, vertel hoe teleurgesteld haar ouers in haar gaan wees indien sy nie werk kry nie . . . ek kom nie gereeld by Brooklyn Mall maar in my opinie vang sy onskuldige, goedhartige mense en indien ek weer daar kom sal ek dit tog aanmeld by hulle sentrum sekuriteit. Sy is redelik goed versorg, lyk netjies, praat mooi en maak dit maklik vir mens om jammer te voel vir haar – maar sy misbruik mense en is tien teen een verslaaf aan een of ander middel.

Erwee ·

Nee, die “witbank-antie” met die motorsleutels en radio voorkant het my ook uit R150 “verlos” met haar brandstof en “werks-onderhoud” storie. Ek wou haar nog volg om te kyk of sy na haar motor gaan, maar sy het soos ‘n “groot speld” verdwyn. Dit was oorkant die Centurion Mall. Miskien het sy op daardie stadium vir Brooklyn Mall ‘n bietjie ruskans gegee. Regtig goeie aktrise!! Sy moet voorwaar ‘n goeie loopbaan en inkomste he!! Ek wonder waarom sy nie maar net haar werklike storie vertel nie. Dit behoort seker net so hartseer te wees. Dalk kan sy nie agv die een of ander verslawing en mense sal dan nie in hulle sakke delf om haar eintlik dieper in die moeilikheid te laat kom nie. Eisj ………… waar gaan die wereld heen?

Pop ·

SP ek twyfel of dit sy is, tensy haar katjie dood is. Sy is inderdaad meestal op straat. Maar haar kat het n kathandsak en die kat sit doodstil saam haar op straat. Altyd netjies en bedel nie eintlik nie. Was bekende gesig in Toti omgewing.

Storie ·

Hoop haar familie vind haar / kry antwoorde.
Haar laaste foto is skokkend. Hierdie vrou het hulp nodig. Iewers het sy die pad buister geraak.

Dit is so hartseer. Sterkte aan haar familie.

Adele ·

Definitief dieselfde vrou wat ek al ‘n paar keer opgemerk het in Amanzimoti oorkant die taxi rank en Kingsway cafee. Het haar meeste keer gesien vra vir geld. My hart het so uitgegaan na haar. Hoop regtig sy word lewend gevind. Ek sal haar so graag vir help. Het juis nou die dag vir my man gese dat ek haar baie lanklaas gesien het. Sterkte aan die familie.

Ekke ·

Hoop regtig sy word gevind. My uitkyk op die lewe het baie verander van jongmens na nou. Lyk vir my na ‘n kosmossie wat hulp, liefde en aandag nodig het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.