KZN-vrou deur Facebook-vriend besteel

Die vrou gesels met beamptes van die Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) (Foto: Rusa/Facebook)

ʼn 29-jarige vrou wat 150 km van Port Shepstone na Verulam in KwaZulu-Natal gereis het om ʼn Facebook-vriend vir die derde keer te ontmoet, is by ʼn plaaslike kitskoswinkel deur die man besteel.

Prem Balram, woordvoerder van die Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa), het gesê die vrou, ʼn nooddienswerker, het ʼn Rusa-voertuig Maandagoggend omstreeks 10:30 voorgekeer om hulp te vra ná die man, wat sy as haar kêrel beskou het, haar van haar besittings beroof het by die McDonalds-restaurant.

“Die vrou het aan Rusa-beamptes gesê sy en die man is al sowat 14 maande lank vriende op Facebook. Hy het haar twee keer vantevore in Port Shepstone ontmoet en hulle het sedertdien via video-gesprekke in kontak gebly.”

Sy het Maandagoggend van Port Shepstone na Verulam gery om die man in die McDonalds te ontmoet. “Die man het glo voorgestel dat hulle mekaar ontmoet sodat hulle ʼn perseel kan bespreek waarheen hulle kan verhuis om saam te bly,” het Balram bygevoeg. Die vrou sou ook ʼn verplasing kry van haar huidige werksplek tot ʼn mediese fasiliteit nader aan die nuwe huis.

“Tydens die gesprek het die man daarop aangedring dat die vrou vir hul bestelling by McDonalds betaal en het onderneem om die volgende rekening te betaal. Ná hulle ʼn paar minute gesels het, het die man haar Samsung J7-selfoon, ʼn Calvin Klein-horlosie en beursie met haar bankkaart en ID-dokument gevat en daarmee gevlug.”

Die horlosie was ʼn geskenk van haar ma vir haar 30ste verjaarsdag wat sy Dinsdag (1 Junie) vier.

“Sy het verskeie foto’s van die man met beamptes gedeel en ʼn volledige beskrywing verskaf van die voertuig wat hom afgelaai het. Rusa-beamptes het na die man gaan soek, en hulle kon sy identiteit, blyplek en familielede identifiseer. Hy was egter nêrens te sien nie,” het Balram gesê.

Die soektog is afgelas toe die vrou nie ʼn strafregtelike saak teen die man aanhangig wou maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Die aangeleentheid maak nie sin….

Chris

Sussie, so ‘n verhouding werk nie! Heel moontlik het sy ‘n verskuilde agenda, dat sy hom strafregtelik aankla nie. Stem saam, iets maak nie sin nie

Sarel

Maak nie sin dat sy nie klag wil mask nie. Hoeklm dan vra vir hulp.
Ken die man skaars en wil saam intrek????

ᛄᚪᚾ

Sy mors nou almal rondom haar se tyd. Wil skielik nie `n strafregtilike saak open teen die man nie, het sy ook iets om weg te steek?

Misky

Sy dink seker hy gaan terugkom met al haar besittings en hulle is dol gelukkig vir ewig……. ai sisi, ai