KZN-vrou word glo in lykshuis-yskas wakker

Mahatma Gandhi-hospitaal (Foto: Inkatha Freedom Party)

Die DA eis behoorlike antwoorde nadat ʼn pasiënt van die Mahatma Gandhi-hospitaal in Durban glo in die lykshuis-yskas wakker geword het nadat dokters haar dood verklaar het.

Constantia Junior Govender (52) van Phoenix in KwaZulu-Natal is verlede maand glo dood verklaar – net om na bewering later te ontwaak.

Die DA sê Nomagugu Simelane-Zulu, die LUR vir gesondheid in die provinsie, moet omvattende terugvoer oor die voorval gee. Volgens Edwin Baptie, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, het die departement die voorval tot dusver ontken en aangevoer dat hospitaalrekords nie die bewering staaf nie.

Die departement het nietemin aangedui dat hy die voorval ondersoek, sê Baptie.

“Dit is kommerwekkend dat nie een van die betrokke partye na ʼn spesifieke datum, tyd, plek of personeellid rakende die voorval kan verwys nie.

“Ons doen dus ʼn beroep op die departement en Govender om dit te doen sodat ʼn spoedige en onweerlegbare ondersoek moontlik gemaak kan word,” sê Baptie.

Die party sê die voorval stem ooreen met ʼn ander voorval in 2016, toe ʼn pasiënt ná ’n motorfietsongeluk in dieselfde hospitaal se lykshuiskoelkamer beland het terwyl hy steeds geleef het. Hy het enkele ure later aan sy beserings beswyk.

“Die mense van hierdie gemeenskap verdien ʼn duidelike en oortuigende openbare verklaring van die LUR; een wat bespiegeling en twyfel wat spruit uit berigte met gebrekkige detail, in die kiem smoor.”

Baptie sê mense in die provinsie gaan reeds gebuk onder die plaaslike regering se onvermoë om die behoorlike gesondheidsorg wat mense verdien aan hulle te lewer en dat die LUR dadelik stappe moet doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

Van erg tot erger. Niemand in hd land is voorbereid vir die ergste en die totaal onmoontlike nie.

Sandra ·

Watter soort dokter verklaar jou dood as jy nog leef? Ek sal jou se ongekwalifiseerde dokters.

Gerhard ·

Ek kan die heeltemal goed glo….ons sit met ‘n hele regering wat uit die dood opgestaan het, die verskil is net, hulle almal het ‘n klomp zombies gebly

Juanita ·

Dit het al menigte kere wereldwyd gebeur en daar kan baie redes daarvoor wees. Nie noodwendig iemand se skuld nie. Mense is so gou vir vinger wys.

Dandeleen ·

Dit maak nie saak in hoeveel lande dit al gebeur het nie, Punt bly staan dat dit nie veronderstel is om enige plek ter wereld te gebeur nie. Dit is uiters onaanvaarbaar.

TruthDealer ·

Dit het gebeur met n dierbare swart dame van Soshanguwe, wat baie jare gelede vir my gewerk het, toe ons in Pretoria gewoon het. Sy was dood verklaar en al in die lyksak geplaas maar nog nie toegemaak. Sy het n beroerte gehad. Deur die groot genade het n dokter weer probeer hartklop kry, en vind toe dat sy nog die vaagste tekens van lewe het. Dit het haar lank geneem om te herstel, maar sy het nog vir baie jare daarna geleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.