KZN-vroue ‘platgeslaan’ deur onluste

Pippa Bertacco (heel regs) en haar gesin.

Inwoners van KwaZulu-Natal, waar voortslepende onluste reeds grootskaalse verwoesting gesaai het, vrees vir hul lewens en maak reeds planne om vinnig te ontruim, sou die ergste gebeur.

Sedert onluste Vrydag in dié provinsie uitgebreek het, is talle winkelsentrums en ondernemings geplunder en afgebrand, paaie versper en beskadig en is openbare geweld aan die orde van die dag.

Dit het ook reeds meer as 72 lewens geëis, terwyl minstens 1 234 mense al in hegtenis geneem is.

“Ons moet hulpeloos staan en luister hoe geweerskote die hele dag deur die lug weergalm, terwyl plunderaars alles wat ons koester, vernietig,” het Pippa Bertacco, ’n inwoner van Hillcrest, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Dié ma van twee het die bietjie besittings wat sy van haar oorlede man oorgehad het, verloor toe betogers Sondag by ’n stoorfasiliteit in dié dorp ingebreek en dit aan die brand gesteek het.

Sy en haar drie dogters, Ruby (8), Gemma (7) en Kayla Rix (25), het ’n week gelede in die Cotswold Downs-landgoed ingetrek om die stukkies van hulle “gebroke lewe” weer op te tel nadat haar man, Marco, vyf maande gelede weens Covid-19 dood is.

Dié virus het ook haar skoonpa, Tony, ses maande gelede geëis.

“Soveel sentimentele herinneringe, foto-albums, briewe, prente en verskeie ander besittings en erfstukke was nog in die stoorplek toe die betogings uitgebreek het. Ek dink ek kon 1% van alles red. Hoe sê ek vir my twee klein dogtertjies dat al die sentimentele herinneringe aan hulle pa weg is?”

Onluste in Durban. (Foto: AFP)

Bertacco sê sy is platgeslaan en moeg om dapper te wees.

Sy moes ook sedert haar man se dood sy meubelonderneming oorneem en het nog baie om te leer.

Kayla, wat self haar voete na ’n tragedie moet vind, help haar tans hiermee.

Haar verloofde, Mike van Rooyen, is nege maande gelede in ’n gru-ongeluk buite die Pavillion op die N3 dood.

Bertacco het ook ’n seun, Keaton Rix (19), wat tans op Stellenbosch studeer.

“Ek is net ’n pootuit Suid-Afrikaanse ma van vier kinders wat platgeslaan is deur die lewe en my bes doen om geluk te vind. Ek is lief vir my land, maar haat wat dit nou geword het.

“Ek weet egter ons sal hierdeur kom. Dis ook wonderlik om te sien hoe die gemeenskap hande vat om mekaar te ondersteun.”

’n Ander inwoner van Hillcrest, Maritza Kruger (38), sê sy en haar gesin lewe die afgelope week in vrees.

“Wanneer ek in my tuin staan, hoor ek nie die gefluit van voëls of die geritsel van blare nie, maar ontploffings en geweerskote,” sê Kruger, ʼn eiendomsagent.

“Die Watercrest-winkelsentrum is ’n paar minute van my huis af. Hy was hard getref. Net na die anderkant toe lê Pinetown, ook onder skoot.”

Die plek waar haar man, Cobus (42), werk se fabriek is ook geplunder en Kruger sê hulle bid net dat dit nie afgebrand word nie.

“Buiten die miljoene rande se skade wat reeds aangerig is, is soveel mense se werk op die spel.”

Betogings in die Durbanse middestad. (Foto: AFP)

Boonop kan Kruger ook nie op die oomblik werk nie en is sy bekommerd oor die impak van die onluste op haar beroep.

“Ek dink nie my huis was al ooit so skoon nie want dis al wat ek op die oomblik doen. Ek vermoed die huispryse gaan ook in hul kanon in wees en die aktekantoor was reeds agter. Hulle was eers toe weens Covid-19 en nou weens die onluste.”

Wat haar egter nog banger maak, is dat sy en Cobus die afgelope week gebeurlikheidsplanne met hulle kinders, Ruben (12) en Juhan (9), moes bespreek sou die geweld moontlik na die woongebied oorspoel.

“Hulle weet waar hulle moet wegkruip indien iets gebeur. Dis maar scary want jy weet nie wat lê in die nag vir jou voor nie,” sê Kruger. “Ons tasse is reeds gepak om na ʼn vriendin te gaan indien dit nodig is.”

Om die provinsie te verlaat, is egter nie ʼn moontlikheid nie.

“Selfs al wou ons oppak en terug Middelburg toe gaan waar ons familie bly, kan ons nie alles net so los nie. Ek gaan ook nie my kinders se lewe in gevaar stel nie en boonop is ons huis, lewe en alles waarvoor ons gewerk het, hier. Ons het met niks begin nie.”

Sy sê voedselsekerheid en brandstof is nóg ’n bekommernis.

“Daar is nie diesel nie. Ons motors is tans of kwart- of halfvol en Cobus ry saans patrollie. Ek weet nie wat ons gaan maak nie.”

Sy sê voorts soos dinge nou lyk gaan kos “teen Vrydag op wees”.

“Hier is ’n Spar en Pick n Pay in die omgewing oop, maar daar is baie min voorraad en mense staan ure in ’n ry om in te kom. Dan is dit nog die middel van die maand ook – daar is nie nou geld om ’n hele maand se inkopies vooruit te koop nie.

“Ek is te bang om te sê waar dié winkels is, want netnou lees die verkeerde mense dit raak en dan word dit ook geplunder.”

Maroela Media het vroeër berig dat winkelrakke in verskeie dorpe leeg is – hetsy weens plundery of omdat verskaffers nie by dorpe kan uitkom nie. Paniekbevange motoriste het ook Woensdag tougestaan by talle vulstasies ná berigte van brandstoftekorte.

“Dit voel asof die land van ons vergeet het. Ek dink nie pres. Cyril Ramaphosa besef werklik wat hier aangaan nie. Hy sê mense moet ophou fopnuus oor die onluste versprei, maar daar is niks fake aan wat hier in Durban aangaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Trek Kaap toe. Hopelik sal daar een dag onafhanklikheid van die ANC wees.

Elize ·

So jammer vir julle. Ons kan niks vertrou nie. ‘n Mens weet nie wanneer hulle ‘n U draai maak en na ons kant toe kom nie. Sterk wees en glo my ons bid vir hierdie land.

Vanessa ·

Liewe hemel, dit maak my hart so seer om te lees waardeer julle gaan. Mag God julle veilig hou. Ek het nie woorde nie. Ek bid vir julle. Daar is soveel onsekerheid, maar wees verseker dat God nie Sy rug op julle sal draai nie. Hou net aan bid. Ons verstaan nie al die goed nie.

Kwikkie12 ·

Dis nie die land wat ek in opgegroei het nie….Here kom help ons asb.!!

Frik ·

“Dit voel asof die land van ons vergeet het. Ek dink nie pres. Cyril Ramaphosa besef werklik wat hier aangaan nie”
Nee, hy weet nie. Hy sit in sy “Ivory Tower” omring deur lyfwagte en oorvloed en wend miskien nou en dan ‘n mislukte poging aan om sy ruggraat te vind, terwyl die land in vlamme is.

Anna ·

Ons is ook geteiken deur die plunderaars, ook alles wat ons besit gevat en sekerlik die res verbrand. Ons besittings was sedert verlede jaar in stoor in Amanzimtoti. Die store is totaal vernietig. Storage City. Ons is teen die grond. Alles wat ons ooit gehad het, elke herinnering, resepte van my ouma, oor die 100 jaar oud, my kinders se briefies, tekeninge, alles van hul kleuterskool en skooldae, fotos, alles vernietig. Ek het geen idee hoe ek dit moet verwerk. Ja ons het geen meubels ook, kosbare stukke vernietig, maar die hartseer is oor daardie fototjies resepte en kinder kuns. Verstaan die land se politieke leiers dit? Hoekom, hoekom vra ek is daar nie vroegtydig maatreels getref om groot militere teenwoordigheid ingebring om ons bates te beskerm? Is dit nie elkeen van ons se reg nie? So waar kan ons enige van ons kosbare herinnering opspoor? Julle stelers wat dit gevat het, weet julle wat het julle, verstaan jul die taal?

katara ·

Anna, ek is so jammer vir julle! My hart bloei vir KZN en ek bid dat God julle deur hierdie sal help.

Sanet ·

Dit maak mens verbitterd. Dit wat nou in KZN gebeur was volgens my vooruit beplan. Sterkte vir julle Anna. Ons bly op ons kniee vir hierdie land van ons.

Wanda ·

Dis goor mense.Ons het nie meer n dorp oor nie,alles weg,klere winkels,checkers,pic n pay,game,mica net weg.Het twee spar’s oor maar mens staan ure en wag.Garage is leeg.Ekt twee seuns en voel so goor dat ek vir hulle sē om spaarsammig te wees met die bietjie kos wat ons oor het

Jr ·

Maar hulle bekommer oor n kriminele ( side in Afrikaans) wat op sy rug deur die premier geslaan is. Aagh shame.

Heinrich ·

Baie jammer om te hoor.. Sterkte. Ek se nog steeds SA moes so gebly het soos in Junie 1991 net toe Apartheid afgeskaal was. Niks meer en niks minder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.