Laaste Amy-Leigh-ontvoeringsverdagte óók in beskuldigdebank

Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl tydens ‘n vorige verskyning. (Foto: Christel Cornelissen)

Die vierde vermeende betrokkene in die Amy-Leigh de Jager-ontvoeringsaak het Woensdag vlugtig in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn.

EWN berig die 24-jarige Mohlomohi Bafokeng, ʼn burger van Lesotho, het vandag in die hof aangevoer hy het geen vorige veroordelings nie. Die saak teen hom is tot 2 Oktober uitgestel. Sy status in Suid-Afrika moet ook deur die departement van binnelandse sake bevestig word.

Bafokeng is Maandagoggend in Muvhango, ʼn informele nedersetting naby Vanderbijlpark, in hegtenis geneem.

Hy het die polisie bykans drie weke lank ontwyk. Hy word soos sy medebeskuldigdes, Tharina Human (27), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), van ontvoering en afpersing aangekla.

Amy-Leigh is op Maandag 2 September voor Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, waar sy en haar vyfjarige boetie leerders is, by haar ma gegryp. ʼn Man in ʼn wit Fortuner het met haar weggejaag. Bafokeng is oënskynlik dié man.

Hy het op dieselfde perseel as Van Zyl gewoon, maar het die hasepad gekies toe die polisie aanvanklik daar toegeslaan het, het die ondersoekbeampte in die saak, konst. Clayton Motlaung, tydens die eerste drie beskuldigdes se aansoek om borgtog getuig.

Uitspraak in Human, Nel en Van Zyl se aansoeke om borgtog sal na verwagting op 1 Oktober, wanneer hulle weer in die hof verskyn, gelewer word.

Daar is aanvanklik aangevoer daar was vier mans in die Fortuner wat met Amy-Leigh weggejaag het.

Mohlomohi Bafokeng tydens sy hofverskyning Woensdag. (Skermgreep: EWN Reporter/Twitter)

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het vandeesweek egter gesê die polisie is tevrede dat ál die vermeende betrokkenes by die ontvoeringsage nou agter tralies is en dat die moontlikheid van nóg inhegtenisnemings skraal is.

Op die Facebook-blad Amy-Leigh’s Missing Kids was daar Dinsdag ʼn inskrywing wat gelui het dat daar in die daaropvolgende chaos ná Amy-Leigh se ontvoering foute kon insluip oor hoeveel mense werklik in die wegkommotor was.

“Dit was ʼn absolute chaos en almal was paniekbevange. Dit is dus nie vreemd dat die getal mense wat gerapporteer is en die werklike getal van mekaar verskil nie. Dit is aangemeld te midde van groot chaos, verwarring en paniek.

“Ons is tevrede dat die polisie ʼn deeglike ondersoek gedoen het en wil die geleentheid gebruik om hulle te bedank vir hul deursettingsvermoë en werk van hoogstaande gehalte in die saak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

toy ·

Hoe kan mens so iets doen aan mense en hulle kind en jy sal dit nie eers aan jouself gedoen wil he nie!

Vicky ·

Dis baie maklik om daai antwoord te kry… Geld…. vandaf se lewe is geld baie werd maar eintlik niks…

Michael P ·

My vraag is nog steeds toe die kind ontvoer was het hulle gese 4 mans het met haar weg gejaag. Nou is daar net een in die hof wat het van die ander drie geword. Of was dit die ander 3 wat nou in die hof verskyn het in die fortuner en weereens n buitelander betrokke by misdaad.

HB ·

Michael P
Lees asseblief elke berig goed deur voordat hierdie vraag weer gevra word.
Dink ook soms net bietjie wyer en verder

Kwaaitjie ·

Die juffrou het gesê 4 mans….. Sit twee en twee bymekaar

Genieve ·

Ok in n ander berig, berig sy vrou hy wou nie deel wees van die ontvoering nie dis hoekom hy weggehardloop het wie praat dan nou die waarheid??

Michael P ·

Dankie H B. Ons vra maar net vrae want alles is so confusing En Genieve ek stem saam wie praat die waarheid hierdie gaan nie n maklike saak in die hof wees nie.

Gesiggie ·

Lekker man…. slim het sy baas gevang?? hoe lank wou jy nog wegkruip. Jul al 4 hoort agter tralies… as die een praat, praat die ander, hul gaan nie alleen wil sit. Goeie werk aan die Polisie. Hoop die saak word vining opgeklaar, sodat die ouers kan berus met wat gebeur het.

Michael P ·

Verstaan jy Michael alles is so confusing hier gaan nog baie dinge uitkom wag vir die hofsaak as hulle eers begin met die blame game. Dan sien jy wat dop alles hier uit

Landvaneensydigheid ·

As hulle maar net sulke swak fotos geneem het van wit beskuldiges ook….

Ana ·

Sy hare afgedkeer om anders te lyk.watch it hy gaan aanvoer hul het hom gedryg om dit te doen. Hy gaan nog wegstap Met ligste vonnis.

Kobus Roets ·

Dis heeltemal reg wat Michael P sê, in die berig wat op 2 September 2019 geplaas is, word daar gesê dat 4 mans in ‘n wit Fortuner met haar weg gejaag het.

KL ·

@Kobus, die juffrou het die inligting gegee van 4mans. Sit dit bymekaar.

Attie. ·

Die polisie hoef nie hard te werk aan die saak nie want die MM lesers ondersoek die saak namens hulle. Die regters moet ook hier lees om te weet wat die uitslag en vonnisse behoort te wees.

Hartseer ·

Hahaha Attie, jy’s reg. Die lesers is almal speurders. Ek hoop die saak is nou amper afgehandel, want ek is al moeg om hiervan te lees. Ek kan net dink hoe die ouers voel met al die berigte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.