Laaste eenheid by Medupi eindelik in werking

‘n Argieffoto van die Medupi-kragsentrale in Limpopo. (Foto: Hitachi Power Africa)

Die laaste van ses eenhede by Eskom se Medupi-kragsentrale is Saterdag aanlyn gebring.

Dit het nou sogenaamde kommersiële status bereik en is aan die kragvoorsiener se opwekkingseenheid oorhandig.

Alle bouwerk aan die 4 764 MW-projek is afgehandel nadat dit in Mei 2007 begin is.

Ontwerpfoute met die ketels is egter steeds nie uitgestryk nie en het veroorsaak dat die kragsentrales by Medupi en Kusile beduidend onderpresteer het. Dit het ook tot gereelde onderbrekings gelei.

Mining Weekly het vroeër berig Eskom en Mitsubishi Hitachi het glo ooreengekom om die koste om die fout te herstel gelyk te deel, hoewel geen finale bedrag daarvoor bekend gemaak is nie.

“Wat oorbly by die Medupi-projek is die laaste gedeelte van die inwerkingstelling van die ooreengekome tegniese oplossings wat verband hou met die ketelontwerpfoute. Wanneer die herstelwerk oor die volgende 24 maande afgehandel word, sal Medupi teen volle kapasiteit betroubare krag aan die netwerk kan lewer en energiesekerheid vir die land help verseker,” sê Bheki Nxumalo, uitvoerende groephoof van Eskom se groepkapitaalafdeling.

Die beoogde operasionele lewensduur van die kragsentrale is 50 jaar en die kommersiële status wat bereik is, beteken tegniese voldoening aan spesifieke wetlike en veiligheidsbepalings is nagekom.

“Die kommersiële bedryf van die eenheid is ʼn geskiedkundige mylpaal omdat dit die afhandeling van die Medupi-kragsentrale beteken,” sê Nxumalo.

“Dit is ʼn belegging wat Suid-Afrikaners nog geslagte lank gaan dien en die ekonomie vir minstens die volgende halfeeu gaan aandryf.”

Medupi se eenheid 1 is op 27 Augustus 2019 aanlyn gebring en het in Desember 2019 sy volle ladingskapasiteit van 794 MW bereik. Tydens die toets- en optimaliseringsfase het die eenheid van tyd tot tyd krag aan die netwerk gelewer.

Op 23 Augustus 2015 het eenheid ses kommersiële status bereik en vier ander eenhede het oor die volgende vier jaar gevolg.

Die Medupi-kragsentrale gebruik weens ʼn gebrek aan oorvloedige water ʼn droëverkoelingstelsel en is die vierde grootste steenkoolaangedrewe droëverkoelingskragsentrale ter wêreld, sê Eskom. Die aanleg word teen veel hoër temperature bedryf as Eskom se vroeëre ketels en turbines en die tegnologie stel die kragsentrale in staat om meer doeltreffend bedryf te word, wat lei tot ʼn beter gebruik van natuurlike hulpbronne soos water en steenkool.

Eskom sê tydens die piek van bouwerk het Medupi meer as 18 000 mense regstreeks by boubedrywighede betrek, terwyl nog 2 000 ander steunpersoneel in diens geneem is. Die kapitaalkoste van die projek beloop tot dusver R122 miljard en Eskom sê hy gaan na verwagting minder as R135 miljard bestee om alle werk af te handel.

Eskom sê hy het tydens die projek ook nou saam met omliggende gemeenskappe gewerk en meer as 4 600 ambagsmanne, tegnici, ingenieurs en bestuurders is formeel deur kontrakteurs opgelei – veel meer as die ontwikkelingsteiken van 3 071 wat Eskom aanvanklik gestel het.

Meer as 60% van begunstigdes was plaalike inwoners van Limpopo.

As deel van sy Medupi-nalatenskapsprojek, het Eskom ook meer as R2,9 miljard belê in sosio-ekonomiese projekte om uitdagings in plaaslike gemeenskappe te help takel. Meer as R415 miljoen is bestee aan maatskaplike korporatiewe beleggings waarby 80 000 mense gebaat het. Daar is spesifiek gefokus op landelike ontwikkeling, onderwys en gesondheidsinfrastruktuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Esme ·

Ironies hoe Andre de Ruyter op soveel fronte moes vure doodslaan maar tog dinge laat gebeur. Ek dink die Regering en Eskom moet baie styf vashou aan daai ‘Ruyter en Oberholzer’ – dit wil tog voorkom of hulle dinge laat gebeur.

Kokerboom ·

Ek Beaam. Die twee staar ‘n byna onmenslike taak in die gesig!!

Martie Smartie ·

Maw AS hulle die probleme uitstryk (teen groot koste vir verbruikers/ belastingbetalers) neem dit Eskom 16 jaar om n kragstasie te bou en te laat werk. Pragtig, moet n wereld rekord wees.

Kokerboom ·

Dit alles ten koste van SA belastingbetalers. Gemeenskapsspandering kan net gespog mee word indien projek binne oorspronklike teikens voltooi was!!Wanner gaan skuldiges aan die kaak gestel word en AL die name bekend gemaak word ?!!! Met die koste van ANC wanbestuur kon ELKE mens in SA al werk en ‘n woning gehad het!!!

Jean ·

Ek het op Medupi en Kusile gewerk en die minderheid van die werkers was “local” en die “non locals” het groot toelae gekry.

Baardman ·

Eskom en Mitsubishi het nou n lekker “blank” tjek om die foute reg te maak. Ons sal maar kyk of die R135 miljard die finale bedrag gaan wees.

annie ·

Nie te gou bly word nie, daar’s nog 24 maande (lees 4 jaar minimum) nodig vir die ketelprobleem. En ‘n paar miljard meer vir die deskundiges en helpers…

Keith ·

According to my understanding of this report the “thing” is NOT completely finished, and will NOT be used to generate electricity for at least another two years. The enigine has been installed but is still missing a carburettor, air cleaner and starter motor.

Joggie ·

Hoeveel van die R122 miljard het in kaders se sakke beland?

Anoniem ·

Ontwerpfoute met die ketels steeds nie uitgetryk nie maar hul het voortgegaan. ‘n Ontwerpfout moet mos eers reggestel word voor daar voortgegaan kan word. Dit laat mens maar net wonder wie in beheer was.

B-Man ·

En Kusile ploeter voort? Beide moes al jare terug klaar gewees het.

koos10 ·

Ek weet nie of die realitiet in my nou oor neem nie, maar ek het gesidder toe ek die berig gelees het.
1. Moet nog R135 mijard spandeer word, of is dit die perk (in SA is dit eerder ‘n aanduider.)? Oorspronklike koste moes R80 miljard gewees het, en aanduidinge is dat dit alreeds R234 miljard gekos het in 2019. Iemand by ESKOM weet hoe om met getalle en woorde te speel.
2. As ESKOM en Mitsubishi Hitachi die ketels saam saam gaan regmaak, beteken dit dan ook dat albei skuld daar aan het. Dan kan ESKOm mos maar net die bedrag verhoog en Mitsubishi Hitachi se gedeelte dan betaal? O ja, Mitsubishi Hitachi is mos hoeka deel van die ANC.

Mieke ·

Ja.. en lyk my die ooreenkoms is sommer maklik afgehandel… geen teenstribbeling van enige kant af nie.. baie onopsigtelik amper, sou ek sê. Net nie té veel moeilikeid maak anders maak julle slapende honde wakker?

Hendrik ·

Die rede hoekom dei regering so vasklou aan die Steen kool kragstasies en nie meer alternatiewe krag gebruik nie is omdat die regering almal ‘n hand het in die geld kassie. Bewerings in die krag omgewing
is dat 60c uit elke R1 wat gespandeer word op steenkool land in hulle sakke.

Hennie ·

Hoeveel van die 4 764 MW gaan daar werklik beskikbaar wees EN bygevoeg word tot die netwerk?

#Maarnetmyopinie ·

Dis eintlik belaglik dat ESKOM projekte (lees “alle staats projekte”) gebruik word om geld na die gemeenskappe te “kanaliseer”. Hoekom kan dit nie direk in die plaaslike gemeenskappe ingespuit word nie? Hoekom gebruik hulle dit nie eerder om ander infrastruktuur op te gradeer nie? Maar nee daar moet rekenaars gekoop word hier en opleiding gegee word daar… Gee die geld vir universiteite en stuur die mense soontoe om te leer, bou paaie en treinspore om mense te vervoer ens… Die gevolg is dat die mense in die “gemeenskappie” bly en niks met die nuwe “skills” kan of wil doen nie, want die staat sorg mos nou lekker, “als moet na my toe kom, ek hoef nie uit te gaan en iets te doen nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.