Laaste kans om jou kind in te skryf

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Argieffoto

Aansoeke vir die 2017 akademiese jaar by enige openbare skool in Gauteng sluit môre, 1 Junie 2016.

“Ouers en voogde wat nog nie aansoek gedoen het nie, moet dit voor môreaand om middernag by www.gdeadmissions.gov.za doen,” het Oupa Bodibe, waarnemende hoof van kommunikasie by die provinsiale departement van onderwys, gesê. “Ouers en voogde wat nie toegang het tot die internet nie, moet hul naaste skool of distrikskantoor besoek.”

Volgens Bodibe het die departement sedert die begin van April 2016 reeds bykans 674 000 aansoeke ontvang en geprosesseer. “Vir Graad 1 het ons 109 121 aansoeke ontvang en 83 113 vir Graad 8-leerders.” Die departement het ook ongeveer 17 000 aansoeke hanteer vir leerders van Graad 2 tot Graad 7, alhoewel die stelsel hoofsaaklik aansoekers vir Graad 1 en Graad 8 teiken.

“Leerders sal tussen 24 Junie en 25 Julie 2016 by die onderskeie skole geplaas word,” het Bodibe bygevoeg. “Tydens hierdie periode sal skole leerders se plasings aanlyn kan prosesseer. Ouers sal ʼn outomatiese SMS ontvang wanneer ʼn aanbod om plasing gedoen is.”

Volgens hom sal ouers en voogde ook ʼn brief ontvang om aan te dui of die aansoek suksesvol of onsuksesvol was.

Ouers het daarna sewe dae om die aanbod te aanvaar of te verwerp. Ouers wat nie die aanbod binne die gegewe tyd aanvaar of verwerp nie, sal die aanbod verbeur en die volgende leerder sal in die beskikbare spasie geplaas word.

Leerders wie se aansoeke ná 1 Junie 2016 ontvang word, se plasing sal eers oorweeg word nadat alle ander leerders aanbiedings om plasing ontvang het.

“Die departement wil ouers spesiaal bedank wat aanlyn geregistreer het en hul vertroue in die stelsel geplaas het,” het Bodibe gesê.

Maroela Media het vroeër berig oor haakplekke in die stelsel. Lees alle vorige berigte oor die aanlynregistrasieproses op Maroela Media.

“Diegene wat steeds probleme ervaar, kan ons inbelsentrum kontak by 0800 000 789 of 011 355 0000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.