Laaste kans vir 2019 se Gauteng-skoolaansoeke

skool-21.jpeg

Argieffoto

Ouers in Gauteng wat nog nie by skole aansoek gedoen het vir hul kinders wat volgende jaar in graad 1 of graad 8 moet wees nie, moet vinnig reageer.

Die Gautengse departement van onderwys het in ʼn verklaring gesê ouers kan aanlyn aansoek doen tussen Woensdag 28 November 2018 om 09:00 tot 7 Januarie 2019. Ouers kan aanteken by www.gdeadmissions.gov.za om aanlyn aansoek te doen vir graad 1- en graad 8-leerders.

Laat aansoeke word beperk tot skole wat nog nie volle kapasiteit bereik het nie. Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het ouers aangeraai om noukeurig te wees wanneer skole gekies word. Ná die aansoek voltooi is, moet dokumente dadelik by die betrokke skool ingedien word en plasings sal slegs bevestig word ná alle vereiste dokumentasie binne sewe dae ingedien is.

Die aanlyn aansoekstelsel sal tydens die skoolvakansie, van 12 Desember 2018 tot 7 Januarie 2019, steeds aktief wees. “Geen beamptes sal beskikbaar wees om ouers by te staan met die aansoeke nie. Daar is egter aanlyn videohulpbronne en ʼn stap-vir-stap-gids op die webwerf om ouers te wys hoe om aansoek te doen,” het Mabona bygevoeg.

“Dis belangrik dat ouers kennis neem dat, sodra die dokumente ingedien is en die stelsel dienooreenkomstig bygewerk is, sal ʼn ouer ʼn SMS ontvang wat aandui in watter skool die leerder geplaas is. Geen appèlaansoeke sal tydens die proses vir laat aansoeke toegelaat word nie.”

Persone wat tydens die amptelike aansoekperiode (16 April 2018 tot 28 Mei 2018) aansoek gedoen het, sal nie toegelaat word om ʼn laat aansoek in te dien nie. “Ondanks verskeie pogings om in verbinding te tree met ouers wat nie dokumente ingedien het nie, is dit kommerwekkend dat 17 445 nog steeds nie die betrokke dokumente ingedien het nie en dié leerders is nog nie in skole geplaas nie.”

Gebiede in Johannesburg-sentraal, Johannesburg-oos en Tshwane-suid-distrikte, beleef steeds uitdagings waar skole reeds kapasiteit bereik het en nie bykomende leerders kan plaas nie.

Altesaam 944 van die 2 013 skole waar graad 1- en graad 8-leerders kan aansluit oor die 15 distrikte in die provinsie, het reeds kapasiteit bereik en is nie beskikbaar vir laat aansoeke nie, het Mabona bygevoeg. Altesaam 1 069 van die 2 013 skole wat kapasiteit beskikbaar het, is beskikbaar vir laat aansoeke. Die lys van beskikbare skole sal op die Gautengse departement van onderwys se webwerf gepubliseer word.

Persone met navrae kan die departement kontak by 0800 000 789 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.