Laaste kans vir Gauteng-skoolaansoeke

gauteng-aanlyn-registrasie-toelating-skole

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel vir gr. 1- en 8-leerders in 2020. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Gautengse departement van onderwys het ouers gewaarsku dat hulle net meer as 24 uur kans oor het om aansoek te doen vir gr.1- en gr.8-leerders vir toelating in die provinsie se skole vir 2020.

Aanlynaansoeke het op 20 Mei oopgemaak en sal Maandag om middernag sluit.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het in ʼn verklaring ouers wat nog nie hul aansoeke ingedien het nie gemaan om op te skud. “As ʼn provinsie is ons in ons skik dat ouers en belanghebbendes in Gauteng die gebruik van die aanlynaansoeke aanvaar het,” het Lesufi gesê.

“Hierdie baanbreker-aanlynaansoeke het die departement van geloofwaardige inligting voorsien. Ons sal daarom voortgaan om die stelsel te verbeter en dit te verbind met ander bestaande regeringstelsels om die geloofwaardigheid van die inligting wat ontvang word nog verder te versterk.”

Vanjaar is reeds altesaam 298 003 aansoeke vir die 2020 akademiese jaar ontvang. Altesaam 154 264 aansoeke is vir gr.1-toelatings en 143 739 aansoeke vir gr.8-toelatings. “Ons is egter baie bekommerd dat 62 028 van die 298 003 aansoeke nie hul nodige dokumente by die skole ingedien het nie. Ouers sal nié ʼn aanbod vir plasing ontvang van skole waar geen dokumente ingedien is nie,” het Lesufi gesê.

Die LUR sê om ouers te akkommodeer wat tydens die skoolvakansie aansoek gedoen het (en dus nie toe dokumente by die skole kon indien nie), asook ouers wat nou eers aansoek doen, sal skole op 31 Julie tot 14:00 nog dokumente aanvaar. Geen verdere uitstel sal ná hierdie datum toegestaan word nie.

Lesufi het ouers herinner dat hulle ʼn strokie moet ontvang ter erkenning dat hulle die nodige dokumente by die relevante skole ingedien het.

Plasing sal van 30 Augustus tot 31 Oktober geskied. Plasingaanbiedinge sal via SMS aan ouers gestuur word. Ouers kan ʼn aanbod aanvaar deur op die aanlynstelsel in te teken of hul naaste skool, distrikskantoor of die departement se hoofkantoor binne sewe dae te besoek.

Indien ʼn ouer nie binne sewe dae ʼn aanbod om toelating aanvaar nie, sal die leerder outomaties geplaas word by een van die skole waar ʼn aanbod gemaak is.

Ouers wat nog moet aansoek doen, kan dit doen deur hier by die aanlynstelsel in te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanna Hoekom ·

Ek is bevrees daardie 62 000+ kinders gaan in Januarie doodeenvoudig by n skool v hul keuse opdaag en “demand” om toegelaat te word. Onderwysers en hul klasbeplannings gaan nie voorbereid kan wees nie. Schweizer Reneke episode 2. Watch this space…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.