Laaste kans vir Tlokwe-kiesers om adresse te gee

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Kiesers in die Tlokwe-Ventersdorp-munisipaliteit in Noordwes het nou ʼn laaste kans om hul adresbesonderhede te verskaf voor die komende munisipale verkiesing, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gesê.

“Al 113 stemstasies in Tlokwe-Ventersdorp sal hierdie Saterdag en Sondag (25 en 26 Junie) van 08:00 tot 17:00 oop wees, maar slegs kiesers wat reeds in die munisipaliteit se 34 wyke geregistreer is, sal toegelaat word om hul adresbesonderhede in te dien of op die kiesersrol by te werk,” het die OVK in ʼn verklaring gesê.

“Geen nuwe kiesers sal toegelaat word om te registreer nie aangesien die kiesersrol vir die verkiesing reeds gesluit het.”

Hierdie besluit volg nadat die konstitusionele hof bevind het dat die 2016 munisipale verkiesing op 3 Augustus mag voortgaan met die huidige gesertifiseerde kiesersrol, met uitsondering van Tlokwe. Die konstitusionele hof het bevind wat Tlokwe betref, moet die OVK “nie sy pligte ontduik” wat in November 2015 deur die konstitusionele hof en later weer deur die verkiesingshof aan die kommissie opgelê is nie.

“Die Verkiesingskommissie het dus besluit dat die kiesersrol vir Tlokwe-Ventersdorp geïsoleer sal word en slegs die kiesers wat reeds op die rol is, sal ʼn finale geleentheid gegun word om hul adresbesonderhede op die lys by te werk.”

Die OVK het gesê hulle sal verskeie gemeenskaps- en kommunikasie-inisiatiewe gebruik om kiesers hieroor in te lig, onder meer deur SMS-boodskappe aan kiesers te stuur wie se adresse nie op die kiesersrol verskyn nie, maar wie se kontaknommers die OVK wel het.

“Veldwerkers is ook van Woensdag af ontplooi om kiesers wie se adresse beskikbaar is te besoek om die akkuraatheid van die besonderhede te bevestig. Hulle sal ook pamflette versprei. Radio- en koerantadvertensie sal oor die volgende paar dae in die Tlokwe-Ventersdorp-gebied ingespan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Die sorghum bier/Ventersdorp area het al reeds deurgeloop onder vandalisme deurdat die Ventersdorp stadsaal afgebrand is deur werknemers van die Ventersdorp Munisipaliteit. Dit volg op die eensydige inlywing van Ventersdorp by sorghum bier deur die ANC pasop dat die res van die Munisipale geboue nie ook in die slag gaan bly nie.Nutteloos om te se dat ek tot dusver nog nie gehoor het van enige vervolging van die vandale nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.