Laaste kiesersregistrasiedatum voor 2019-verkiesing bekend

Foto: Facebook.com

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het aangekondig dat 26 en 27 Januarie aanstaande jaar (dus die laaste naweek in Januarie) die laaste datums vir kiesersregistrasie voor aanstaande jaar se algemene verkiesing sal wees.

Die land se 22 617 stempunte sal van 08:00 die oggend tot 17:00 die middag op Saterdag 26 en Sondag 27 Januarie vir kiesersregistrasie oop wees. Suid-Afrikaanse kieswette bepaal dat jy slegs mag stem by die stempunt waar jy geregistreer is. Enigiemand wat dus getrek het, moet herregistreer.

Dit is die sterkste aanduiding tot dusver dat Suid-Afrika volgende jaar dalk ’n bietjie vroeër verkiesing gaan hou, want in die verlede was die laaste registrasiedatum altyd in Maart. Die verkiesingsdatum word egter deur die president aangekondig, ná oorleg met die OVK.

Intussen het die ANC weer skerp teruggesak in twee tussenverkiesings wat hierdie week in KwaZulu-Natal plaasgevind het.

Die eerste tussenverkiesing was in wyk 9 van die Msunduzi-munisipaliteit wat in Pietermaritzburg setel. Dié gebied omvat ’n landelike gebied langs die pad tussen Pietermaritzburg en Underberg, naby die gehuggie Boston.

Argieffoto

Daar het Nontobeko Khumalo (ANC) wel gewen, maar daar was ’n swaai van 21 persentasiepunte teen die ANC vergeleke met 2016, waarvan die meerderheid na die IVP gegaan het.

Khumalo het 2 087 stemme vir die ANC getrek met die IVP op 1 215 stemme, die NFP op ’n verrassend sterk 385 stemme, ’n onafhanklike kandidaat wat 170 stemme getrek het en die EFF laaste op 113 stemme.

Die ander tussenverkiesing was op Nongoma in die hart van Zoeloeland, in wyk 20, wat die gebied tussen die dorp en die vliegveld insluit.

Die wyk is deur Vusumuzi Nkwanyana vir die IVP behou, met 1 113 stemme teen 746 vir die ANC, ’n nogmaals verrassend sterk 416 stemme vir die NFP en die EFF laaste op 99 stemme.

Die interessante van hierdie uitslag is dat die NFP vooruitgegaan het (hulle het glad nie in 2016 aan die verkiesing in Nongoma deelgeneem nie) en dat hulle sowat twee derdes van hul steun by die IVP afgeneem het, en sowat ’n derde by die ANC.

Die IVP het dus 11 persentasiepunte en die ANC ses persentasiepunte swakker gevaar as in 2016 in dieselfde wyk.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

alida ·

O jinne daardie pronkpou sal moet bontstaan om ID’s uit te reik vir die miljoene wat aangery gaan word om te stem.

zoom zoom ·

Ek kan nie glo dat die lyste korrek is soos wat die Hof beslis het hoe dit moet wees. So iets sê vir my hierdie 2019 se gestem gaan weereens net anc korrek wees

Daan Erasmus ·

As jy nie stem nie mors jy ‘n kosbare stem. Dit geld veral vir Reon. En ‘n paar ander. Dink mooi waar jy gaan stem. Daar is ongelukkig duisende wat nie dink voor hul stem nie.

Nikita ·

Wonder of BLF gaan registreer…het gehoor hulle beplan dit en moet R605 000 registrasie-fooi betaal. Dink volgende jaar se verkiesing sal een vd interessantste wees in SA se geskiedenis.

Alida ·

VBS bank het seker vir hulle registrasie geld “geleen” voor hulle gelikwideer is.

Linda van Mosselbaai ·

Ons is al 29 jaar in dieselfde huis – ons is op die kiesers lys – maar ons adres is nog nie op die lys nie – sal dit jou dan diskwalifiseer om te kan stem?

Kan mens dalk voor Januarie erens jou adres net op die lys kan kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.