Laaste lid van Stander-bende sterf

Allan Heyl (Foto: Facebook)

Allan Heyl, die enigste oorlewende lid van die berugte Stander-bankrowerbende, is Vrydag ná ’n lang siekte in die ouderdom van 69 oorlede.

Twee onderskeie bronne het aan Maroela Media bevestig dat Heyl Vrydag in Johannesburg weens kanker gesterf het.

Heyl het in die vroeë 1980’s bekendheid verwerf toe hy saam met die ander bendelede, André Stander en Patrick Lee McCall, ’n aantal banke in Suid-Afrika beroof het. Heyl het tronkstraf vir die misdade uitgedien waarna sy boek, Bank Robber – My time with André Stander, verskyn het. Heyl was ook ’n motiveringspreker.

Foto: (Penguin Uitgewers)

’n Jong Heyl is in 1977 tronkstraf opgelê vir sy betrokkenheid by vyf bankrooftogte. Hy het Stander en McCall in die tronk ontmoet. Stander was ’n oudpolisiekaptein en veroordeelde bankrower en het saam met McCall ontsnap waarna hulle in 1983 teruggekeer het om Heyl uit die tronk te help ontsnap.

Die trio het die volgende drie maande banke beroof, die polisie ontwyk en in weelde geleef voordat McCall in Januarie 1984 tydens ‘n polisieklopjag in Johannesburg doodgeskiet is. Stander is kort daarna in die VSA opgespoor en doodgeskiet.

Heyl was in dié stadium in Griekeland en het daarna na Engeland gevlug waar hy nog banke beroof het voordat hy eindelik in hegtenis geneem is en tot nege jaar tronkstraf gevonnis is. Heyl het enkele jare tronkstraf in ’n tronk in Engeland uitgedien voordat hy na Suid-Afrika uitgelewer is.

Heyl is in 2005 op parool vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Baie van sy lewensjare was agter tralies deurgebring. Die lewe is vol keuses wat koers en rigting te kies aanbetref. Hy het ongelukkig die misdaad roete gekies.

Michael 1 ·

André en sy bende sal vandag se trio taakmag experts soos narre laat lyk het maar dit gesê Andre sal seker ongesteurd in die polisie gewerk het as hy nou gelewe het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.