Laaste oorblywende renosters geskuif om stropery te verhoed

Argieffoto

Argieffoto

Hierdie berig is nie die waarheid nie. Maroela Media het die sommer vir die lekkerkry as deel van Aprilgekkedag opgelaai om ons lesers om die bos te probeer lei.

Die laaste groep oorblywende renosters gaan binnekort na een enkele terrein verskuif word om hulle veiligheid te verseker en hulle van stropers te beskerm.

“Die aantal oorblywende renosters in Suid-Afrika en die plek waarheen hulle geskuif gaan word, gaan nie bekend gemaak word nie,” het Johan Veldthuizen, woordvoerder van die departement van natuurbewaring, Dinsdag gesê. “Suid-Afrika word geteister deur stropers en die departement is raadop.”

Volgens Veldthuizen gaan die renosters almal saam aangehou word. “Dit vergemaklik die veiligheid van die renosters. ʼn Groot span veiligheidswagte sal dag en nag die renosters bewaak teen stropers.”

Hy sê die departement begin met ʼn spesiale teelprogram om die renostergetalle weer op te stoot. “Die moontlikheid bestaan dat die renosters weer in die natuur vrygelaat sal word indien daar weer genoegsame renosters bestaan en stropery iets van die verlede is,” het Veldthuizen bygevoeg.

Die departement wil nie die ligging of aantal renosters bekend maak nie, om seker te maak dat stropers nie dié sensitiewe inligting bekom nie.

Veldthuizen het ook gesê hologram-tegnologie gaan in wildtuine en natuurreservate ingespan word. “Ons wil seker maak dat toeriste en kinders, wat nog nooit renosters in die natuur gesien het nie, steeds ‘renosters’ kan sien. Met die hologram-tegnologie sal dit moontlik wees om die renosters steeds te sien rondbeweeg in die veld. Dit is nie die beste keuse nie, maar dit is die enigste keuse wat ons tans tot ons beskikking het om dié pragdiere te red.

“Die eerste renosters sal op 1 April na die nuwe terrein geskuif word,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jasper ·

Wat nog ? Jacob Zuma het bedank, of Juliaas het by die Boeremag aangesluit. ha ha

Kobus ·

‘n Magdom gesentreerde horings om van te kies en te keur as hierrie April beriggie sou slaag.

pop ·

Dalk moet hulle ons plaas boere ook sentraliseer en wagte kry. Net tot ons ekonomie weer op die been is en plaasmoorde iets van die verlede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.