Laaste paar ure oor om te stem

(Foto: Maroela Media)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ʼn beroep gedoen op kiesers wat nog nie hul kruisies gaan trek het nie om voor 21:00 by hul betrokke stemlokaal aan te meld om te stem.

Suid-Afrikaners het minder as drie ure oor om hul stemme uit te bring. Stemlokale sal om 21:00 vanaand sluit. Die OVK het kiesers egter verseker dat alle kiesers wat teen 21:00 in die ry is geleentheid gegun sal word om te stem, ongeag hoe lank dit neem.

Die kommissie sê in ʼn verklaring hy is oor die algemeen tevrede met hoe die stemproses tot dusver verloop het. Dit ten spyte van die feit dat vyf kiesstasies teen 17:00 steeds gesluit was.

Die OVK sê “ondanks die beste pogings van wetstoepassers, regeringsbeamptes en die verkiesingskommissie” kon hulle nog nie daarin slaag om dié kiesstasies te laat oopmaak nie. Dit sluit ʼn stemlokaal in Buffalo City in die Oos-Kaap en een in Ntabankulu, ook in die Oos-Kaap, in. Die ander drie stemlokale wat steeds toe is, is in die uThukela-distrik in KwaZulu-Natal.

(Foto: Maroela Media)

“Pogings om die probleme in hierdie gebiede op te los om kiesers ʼn kans te gee om hul demokratiese reg uit te oefen, duur voort en sal voortgaan vir so lank as wat dit nodig is,” lui die verklaring. “Vier kiesstasies in Vuwani, Limpopo, wat vroeër vandag oopgemaak het, was ook gedwing om weer vir ʼn tyd gedurende die dag te sluit weens onluste en kommer oor veiligheid. Hierdie vier stasies het egter intussen weer oopgemaak.”

Die OVK het sy teleurstelling uitgespreek met betogers se gebrek aan respek vir die demokrasie en die regte van ander.

Die verkiesingskommissie het ook bevestig hy is bewus dat sommige stemlokale ʼn probleem ervaar het met stembriewe wat opgeraak het. Dié probleme is egter intussen opgelos en stemmery by hierdie stasies het intussen hervat.

“Die verkiesingskommissie doen ʼn beroep op alle geregistreerde kiesers wat nog nie gestem het nie om van die laaste paar uur gebruik te maak om hul stem te laat hoor en hierdie die suksesvolste, vreedsaamste en mees inklusiewe verkiesing in ons land se geskiedenis te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thomas

Een reuse klug en vermorsing van energie en tyd!