Laaste parlementsitting voor korona-reses

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

Die Suid-Afrikaanse parlement het Woensdag een van sy kortste en vreemdste sittings gehad toe die Nasionale Vergadering byeengekom het voordat daar onbepaald verdaag is weens die koronavirus.

Geen debat is gevoer nie en alles is so gou moontlik afgehandel. Baie LP’s het gesigsmaskers en handskoene gedra, deels om hulself te beskerm en deels om die publiek te wys hoe om teen die virus aan te trek.

Die Nasionale Vergadering moes oor vier sake besluit. Die eerste was die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste (in die wandelgange bekend as die Dora-wet). Daarsonder kan provinsiale regerings nie die geld bekom om noodsaaklike dienste te lewer nie.

Hiervoor was ʼn kworum van 201 lede van die Nasionale Vergadering nodig, en met 254 lede teenwoordig was dit nie die probleem wat in sommige kringe voorsien is nie.

Die wetsontwerp is sonder teenstem aanvaar, maar met die beswaar van die DA, EFF, VF Plus, ACDP en UDM. Dit word nou na die nege provinsies gestuur om hul insette te verkry voordat dit voor die Nasionale Raad van Provinsies sal dien.

Die tweede wetsontwerp van die dag was die Wysigingswetsontwerp op Regskwessies, wat ʼn sogenaamde rammelkaswet is – ʼn wet van klein veranderings aan verskeie wette maak om die regsproses beter te laat vloei.

In hierdie geval handel dit oor veranderings met egskeidings en die termyn van die nasionale direkteur van openbare vervolgings.

Daarna is die nuwe vergoedingspakkette vir landdroste en regters goedgekeur en toe was dit alles verby – binne ʼn halfuur.

ʼn Vreemde atmosfeer het geheers – ʼn bietjie van ʼn opgewondenheid oor die abnormale omstandighede om in die skadu van die virus te vergader, en ʼn mate van vrees oor die onbekende tyd wat vir die land voorlê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Scalla

Hulle was dus meer as 100 bymekaar in die kabinet!!!