Laaste skuldige gevonnis vir Zelda van Niekerk se moord

Zelda van Niekerk (Foto: Facebook)

Die laaste van die drie mans wat skuldig bevind is aan die moord op Zelda van Niekerk, is Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis.

Elton Abrahams is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir moord en 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Van Niekerk, ʼn 45-jarige ma van Kaapstad, het op 28 September 2018 onder die N7-oorbrug op die N1 stilgehou om vir ʼn ander motorfietsryer te wag toe sy oorval is. Sy is beroof en in die maag geskiet en het later in die hospitaal aan haar wond beswyk.

Drie verdagtes is kort na die moord in hegtenis geneem. Lucien Ackerman en Michael Pietersen is reeds in Februarie vanjaar gevonnis. Ackerman is tot lewenslange tronkstraf gevonnis en Pietersen tot 20 jaar.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het gesê Abrahams (24) het wag gestaan terwyl Van Niekerk beroof en vermoor is, maar dat die staat hom van gemeenskaplike oogmerk aangekla het.

Abrahams het aan die hof gesê dat hy en sy medebeskuldigdes die oggend van die moord dwelms gebruik het en dat hulle mense in Summer Greens gaan soek het om te beroof nadat hulle nie meer dwelms gehad het nie. Ackerman het gesê dat hy ʼn vuurwapen het.

“Hulle was onsuksesvol in Summer Greens en het op pad terug na Facreton Van Niekerk aangetref waar sy langs haar motorfiets langs die snelweg gesit het. Hulle het besluit om haar te beroof.”

Blomme op die plek waar Van Niekerk geskiet is. Foto: Courtney Africa/African News Agency

Pietersen het haar rugsak, wat R3 000 in gehad het uit die verkope van T-hemde, probeer gryp. Van Niekerk het egter terugbaklei waarna Ackerman die vuurwapen uitgeruk en haar in die maag geskiet het. Hulle het haar rugsak gevat en op die vlug geslaan.

Adv. Esna Erasmus, namens die staat, het gesê hoewel Abrahams nie vir Van Niekerk geskiet het of haar rugsak gegryp het nie, het hy erken dat hulle mense wou beroof en het hy met gemeenskaplike oogmerk opgetree.

“Hy het geweet Ackerman het ʼn vuurwapen en dat dit saamgevat is met die doel om iemand te beroof. Hy het geweet dat Ackerman deel van die Americans-bende was en moes kon voorsien dat die gebruik van ʼn vuurwapen tydens ʼn rooftog daartoe kon lei dat iemand geskiet en beseer kon word of selfs kon doodgaan.”

Erasmus het die sinnelose moord op Van Niekerk veroordeel en gesê die afgryslike gewetenlose moord het helder oordag plaasgevind deur mense wat geen waarde aan ʼn lewe heg nie.

Van Niekerk was die stigter van die nieregeringsorganisasie Bikers with a Cause.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Androclus ·

Hoekom nie nie ‘n paar lewenslange vonnis nie.SA regstelsel verkramp.

Jakkie ·

Ek stem saam dat ons regstelsel teleur stel. Dit maak nie saak hoeveel misdade jy pleeg nie, jy gaan net vir een gestraf word.

Willempie ·

“Adv. Esna Erasmus het gesê die afgryslike gewetenlose moord het helder oordag plaasgevind deur mense wat geen waarde aan ʼn lewe heg nie.”
Nou hoekom sal ons regstelsel hiedie mense nie finaal uit die gemeenskap haal nie ?

Thea ·

20 jaar vir moord? Net ‘n skamele 20 jaar!!!! Geen slegter land op aarde as SA nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.