Laaste van drietal ontsnaptes vasgetrek

Tumelo Kgoedi. Foto: Verskaf.

Die laaste verhoorafwagtende gevangene wat Maandag saam met twee ander uit die polisie se aanhoudingselle in Limpopo ontsnap het, is aangekeer.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Tumelo Vincent Kgoedi is Sondagoggend vasgetrek ná die polisie ʼn wenk van die publiek ontvang het. Volgens Ngoepe is daar twee ongelisensieerde vuurwapens in sy besit aangetref toe hy weer in hegtenis geneem is.

Maroela Media het vroeër berig die polisie se taakspan het vroeër vandeesweek inligting opgevolg rakende die bewegings van die ontsnaptes en hulle by twee verskillende plekke opgespoor.

“Toe Simon Mokone (23) sien hy word in ʼn hoek gedryf, het hy op die polisie begin skiet. Die beamptes het teruggeskiet en Mokone is in die proses doodgeskiet,” het Ngoepe gesê.

Een van die ander verdagtes, Zandile Emmanuel Lebambo (31), is volgens Ngoepe in die been geskiet en gewond terwyl hy inhegtenisneming probeer vryspring het nadat hy glo aangetref is waar hy rituele uitgevoer het.

Maroela Media het vroeër berig die drie verdagtes het Maandag uit die Tubatse-polisiestasie buite Burgersfort se aanhoudingselle ontsnap.

“Polisiebeamptes het omstreeks 06:30 ʼn harde geluid by die selle se deur gehoor en vinnig gereageer,” het Ngoepe vroeër gesê. “Drie gevangenes het egter reeds deur die dak van die oefenkamer ontsnap.”

Lebambo is oorspronklik in hegtenis geneem op aanklag van verkragting, huisbraak, diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mokone is in hegtenis geneem op aanklag van roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn lisensie en die besit van gesteelde goedere. Kgoedi is in hegtenis geneem op aanklag van moord en poging tot moord.

Kgoedi sal Maandag in die Praktiseer-landdroshof verskyn op aanklagte van ontsnapping uit wettige aanhouding en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wat van die beamptes ·

Wat van die beamptes wat hul ontsnapping moontlik gemaak het, is hulle ook al aangekeer??

Neewat ·

Ag gaan seker weer op R10 borg vrygelaat word en voortgaan met dit waarvoor hulle aangekla is. Ek het geen vertroue in die polisie of in die regstelsel wat so skeefgetrek het die afgelope paar jaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.