Laaste verdagte in sertifikaat-bedrogspul gevonnis

hof-hamer

Argieffoto

Die laaste verdagte wat betrokke was by ʼn sindikaat wat bedrieglike padwaardigheidsertifikate geregistreer en uitgereik het, is Maandag in die streekshof in Bellville in die Wes-Kaap gevonnis.

Thembile Diyamane Daphula (51), ʼn voormalige kassier by die eMthanjeni- plaaslike munisipaliteit in die Noord-Kaap, is tot ses jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê Daphula se skuldigbevinding volg op ʼn uitgebreide ondersoek deur lede van die Wes-Kaapse eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke na die bedrogsindikaat wat in De Aar in die Noord-Kaap en Port Elizabeth in die Oos-Kaap bedrywig was.

In 2016 het lede van die Valke gelyktydig op persele in Adam Tasweg in Belhar, asook in Strandloperstraat in Mitchells Plain in Kaapstad toegeslaan en beslag gelê op R3,8 miljoen kontant, twee voertuie, dokumente en ʼn hele klomp ID’s. Die items is in die besit van Elton Bernard Abrahams (37) en sy vriendin, Bronwyn Davids (33), gevind.

“Abrahams is in hegtenis geneem nadat daar bevind is dat hy die verkoopspersoon was wat voertuie geregistreer en gelisensieer het, asook polisieklarings teen ʼn vasgestelde bedrag gereël het,” sê Hani.

Die geld waarop beslag gelê is, is aan die staat verbeur.

Dit het later aan die lig gekom dat Abrahams sy onwettige bedrywighede voortgesit het selfs nadat hy op borgtog vrygelaat is. Hy is egter wéér aangekeer.

Thembile Diyamane Daphula (Foto: Valke)

Nog ʼn verdagte, John Julies (67), is ook in verband met die bedrogspul in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het die Valke daarna na Daphula gelei. Tydens ʼn gesamentlike operasie deur die Valke in die Wes-Kaap, die Noord-Kaapse misdaadintelligensie-eenheid en die provinsie se honde-eenheid, is Daphula op 30 November 2016 in Nonzwakazi in De Aar opgespoor.

Hy is ook verbind met die bedrogspul, veral met betrekking tot vragmotors en busse.

In 2017 is bevind dat Davids en Laurelle Richards (39), ʼn voormalige amptenaar van die provinsiale departement van vervoer in die Wes-Kaap, deel van die sindikaat was. Sy is ook in hegtenis geneem.

Die ondersoek het amptenare ook na die Korsten-voertuigtoetsstasie in Port Elizabeth gelei en Leonard Michael Spark, Hannes Adams, Ayanda April, Suemaya Kassiem en Grant George Grobler is daar in hegtenis geneem.

Spark is op 20 Februarie 2016 tot ses jaar tronkstraf gevonnis en het ingestem tot ʼn  beslagleggingsbevel van R60 000 wat die hof toegestaan het. April is tot 18 maande direkte gevangenisstraf gevonnis, plus vyf jaar gevangenisstraf, wat heeltemal opgeskort is.

Abrahams is in 2018 skuldig bevind op aanklagte van korrupsie en is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie.

Davids is vyf jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig.

Richards is skuldig bevind en drie jaar tronkstraf opgelê, terwyl Kassiem en Grobler ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Laasgenoemde twee is drie jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Dit kom daarvan.

Kokerboom

Die klein vissies word spoedig aangekeer en tronkstraf opgelê en dis reg so maar die groot vet katte in ANC pleeg grootmaat bedrog en dit neem jare om hul opgesluit te kry. Siek regstelsel!!!

Gerhard

Die Howe luister nie, jy kan nie vir crooks meer borg gee nie.

Danie

Kla hom aan vir moord, want indirek is hy verantwoordelik vir pad ongelukke en dood!