Laat maatskaplike toelae ‘klap in gesig’ vir begunstigdes

(Argieffoto)

Die DA het talle boodskappe ontvang van ontvangers van maatskaplike toelaes wat deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) in die steek gelaat is ná die agentskap se jongste vertraging met die uitbetaling van toelaes.

“Toe Ramaphosa die verlenging van die maatskaplike toelaes aangekondig het, het miljoene werklose en benadeelde Suid-Afrikaners geglo dat hulle kos op die tafel sal kan sit, en hierdie vertragings is ’n klap in die gesig. Die DA veroordeel hierdie laat betaling van toelaes,” het Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, gesê.

“Die is totaal onaanvaarbaar vir miljoene desperate begunstigdes wat op die toelaes staatmaak omdat dit hul enigste bron van inkomste is.”

Volgens Masango het die DA talle desperate telefoonoproepe van ontvangers ontvang wat sê dat hierdie toelae gewoonlik teen die 16de van die maand betaal word, maar hulle het nog niks ontvang nie en die maand is amper verby.

“Volgens inligting wat die DA verkry het, wag Sassa steeds vir goedkeuring om president Cyril Ramaphosa se aankondiging in werking te stel. Dit is totaal onaanvaarbaar en dui op groot regeringsadministratiewe mislukkings.”

Die DA doen ’n beroep op Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, om Ramaphosa se aankondiging van die verlenging van die toelaes te eerbiedig deur alle struikelblokke uit die weg te ruim ten einde die krisis as ’n saak van dringendheid af te weer.

Die DA het reeds vroeër die maand gesê hy wil die Menseregtekommissie (MRK) nader oor die voortslepende stryd wat behoeftige mense het om hul maatskaplike toelaes in die hande te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Jip, dit sal altyd tegnologie /die rekenaar se skuld wees want die wese agter die regkenaar is nie in staat om die werk te verrig nie.

Swerwer ·

Dit is absoluut ‘n magsspel van die Regering. Kollegas van my, jonger as ek kan nie verstaan waarom ek nog nie “Oumens pensioen” van die staat ontvang nie. Hoe meer ek verduidelik ek werk en mag nie aansoek doen nie, is ek meegedeel dat hul van 58jarige ouderdom slegs hul ID dokument na Sassa neem en siedaar hul ontvang pensioen/toelaag al werk hul nog. Geen bankstate of enige bewyse word verlang nie. Net jou ID en jy kry! Waar word die streep gestrek……………………………..

Christina ·

Dis nie waar nie, iemand het nie hulle werk gedoen nie. Op die vorm moet jy verklaar as jy nog ‘n inkomste het. En jy teken daardie verklaring, gee bankstaat in saam dit, en jou toelae word persentasie gewys verminder. Ek kry al jare sassa.

Swerwer ·

Nogal gewag op die reaksie. Ons weet wat die voorwaardes is maar ongelukkig word dit nie op al die landsburgers toegepas nie. Miskien is dit tyd dat jul steekproewe doen en sien hoe dit werklik op die grond gedoen word.

maruis ·

Wat is die verskil tussen twee en twee miljoen – weet nie ons sal ‘n kommisie van ondersoek aanstel om met voorstelle te kom – gee ons net agtien maande kans want ons sal die buiteland ook moet betrek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.