Laat matrieks toe om in vrede te skryf – LUR

(Argieffoto: Morné van Rooyen)

Die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, Debbie Schäfer het ʼn beroep op Eskom én inwoners gedoen om matrieks toe te laat om in vrede hul eindeksamen af te lê.

Die praktiese eksamen begin vandeesweek.

“Ongelukkig staar die bedreiging van beurtkrag, wat vir ʼn groot deel van verlede week in werking gestel is, ons in die gesig. Dit is uiters teleurstellend dat dit weer kop uitgesteek het net voor die eindeksamen se praktiese werk moet begin,” sê Schäfer.

Schäfer sê die moontlikheid van beurtkrag is so beduidend dat die departement met Eskom beraadslaag met die hoop dat die kragonderbrekings verhoed kan word. Die departement het egter reeds voorsorgmaatreëls getref en ʼn bykomende dag geskeduleer indien dit nodig sou wees om ʼn praktiese eksamen op ʼn ander dag af te lê. Die departement het ook ander maatreëls getref in die geval van ʼn kragonderbreking, selfs al is dit nie geskeduleer nie.

“Ek doen ʼn beroep op Eskom om alles moontlik te doen om nie net kragonderbrekings tydens die praktiese eksamens te verhoed nie, maar ook tydens die eksamen wat vanaf 27 Oktober afgelê word.”

Schäfer sê dit is goed om rugsteunplanne te hê, maar dit is geweldig ontwrigtend vir leerders en moet liefs vermy word.

Sy sê dit is ook nou die tyd van die jaar dat betogings en stakings al hoe meer gereeld voorkom.

“Ons het vroeër vanjaar die verwoestende uitwerking van ʼn taxistaking op skoolbywoning gesien. Ek hoop werklik dat dit nie weer tydens die eksamen gebeur nie. Ek is ook bewus van die naderende verkiesing en die geneigdheid daarvan om ontwrigtende gedrag na vore te laat kom.

“Enige optrede wat leerders verhoed om by hul eksamen te kom – en dit in vrede te skryf – is onaanvaarbaar en voeg ekstra spanning by ʼn reeds uiters stresvolle tyd.”

Schäfer het ʼn beroep op politici, gemeenskapsgroepe en ander organisasies gedoen om die belange van kinders oor die volgende twee maande eerste te stel.

Dit is die eerste matriekgroep wat hul hele gr. 12-jaar onder pandemietoestande moes voltooi.

“Hulle is deur genoeg. Ons skuld dit aan hulle om te verseker hulle het die beste moontlike kans om die eksamen te slaag en hul skoolloopbaan te voltooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hondjie

Eskom worry net mooi niks.as hy wil krag sny sny hy hom vir beurt krag, of da mense in hospitale is of nou n matriek.beurtkrag is mar net ons voorland…..hul moet dit skyf tot stem dag toe dan forseer di mense mos eskom om di krag aan te hou vir stemme……. Se mar net hoe dinge gaan

annie

Waarom nie wag totdat die eksamens verby is voordat druk op die jonger groep geplaas word om in te ent nie? Baie newe-effekte is reeds bekend tov die onderskeie middels. Om met hoofpyn en erger nóg stres te moet beleef na 2 jaar van hot-en-haar, dan skool dan nie, is leerders werklik onder hoë druk, maar die onderwysdepartement en sekere medici plus die staat wil die show voortsit. Sit hulle opgeskeep met ou entstof en hoop die jeug gaan die reste (soos soet kinders) opgebruik?

Rinette

Asb Eskom! en dan aan die Departement van Onderwys! Kan julle asseblief seker maak dat julle vraestelle nie uitlek nie en ou vraestelle (soos in die Rekordeksamen met Rekeningkunde) nie weer afgelewer word nie en kinders dan sodoende weer die vraestel moet oorskryf. Julle word betaal om julle werk te doen. Doen dit asseblief!!!!