Laat ons toe om ‘oorlogkamer’ te ondersoek, sê ANC

anc-verkiesing

Foto: Reint Dykema

Die ANC het Maandag tyd en ruimte versoek om bewerings van ʼn sogenaamde “oorlogkamer” te ondersoek wat teen Ignatius Jacobs, sy algemene bestuurder van Luthuli House aanhangig gemaak is.

Die sogenaamde “oorlogkamer” was glo ʼn geheime ANC-projek met ʼn begroting van R50 miljoen om opposisiepartye tydens die plaaslikeregeringsverkiesing in 2016 te diskrediteer met invloed op sosiale media en vervalste plakkate.

Tydens ʼn Lekgotla-vergadering wat Maandag gehou is, het ANC-sekretaris-generaal Gwede Mantashe gesê die party beskou die bewerings in ʼn “baie ernstige lig”, en doen ʼn beroep op die media om die party die kans te bied om dit behoorlik te hanteer.

“Ons doen ʼn beroep op julle om vir ons ruimte te gee. Laat ons toe om die saak te hanteer. Dis ʼn baie ernstige saak vir ons,” het Mantashe gesê. “Indien daar opnames en ander bewyse is, sal ons dit in ʼn dissiplinêre proses hanteer.”

Mantashe wou nie verder kommentaar lewer oor die bewerings wat moontlik teenstrydig kan wees met die verkiesingskode nie.

Opnames tussen Jacobs en ander rolspelers wat die geheime veldtog bevestig, het die afgelope naweek uitgelek.

Die “black ops”-kwessie het aan die lig gekom toe Sihle Bolani, skakelbeampte, die ANC gedagvaar het vir ʼn uitstaande bedrag van minstens R1 miljoen vir werk wat sy vir die party gedoen het tydens die verkiesing. Sy het Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof aangevoer sy was deel van ʼn span wat saam met Shaka Sisulu, kleinkind van Walter Sisulu, aan die “oorlogkamer”-projek gewerk het, na bewering onder leiding van Jacobs.

Sisulu het die bewerings teen hom ontken en gesê dit is inherent vals, vergroot en daarop gemik om hom te diskrediteer, en dat Bolani se hofsaak ten doel het om die ANC af te pers.

Die ANC het homself aanvanklik gedistansieer van die bewerings en gesê hy het nooit enigiemand toestemming gegee om ʼn “black ops”-veldtog te bestuur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Danie ·

Nou sal Zuma en sy trawante natuurlik hulself veronskuldig. Die anc se wa se wiele het nou behoorlik afgekom.

Jan ·

Hulle kon nie eens Nkandla ondersoek nie en kyk wat het hulle daar mee voor ‘n dag gekom. Video en als om die vuurpoel te wys. Ek sidder as ek moet dink wat hulle hieroor gaan opdis.

pieter ·

Tyd vir wat hoe de hel weet die ANC nie wat in hulle party aangaan nie .Dis omdat hulle so korrupt is en te besig is om die land in die afgrond te dryf.

PMB ·

So lieg die ANC leierskap van een skandaal tot n ander. Hoeveel lewens het hierdie mense? Wat meer verbasend is, is al die ondersteuners wat aan hul neuse rond gely word en volg blindelings.

lettie ·

Die ANC maak skande op skande, probeer dit toesmeer en dink die samelewing is dom. Nou word iemand se kop geeis terwyl hul vingers ook in die koekieblik was.

Jaco ·

Dis net “werkskepping” vir nog ANC trawante. ‘n “Wettige” manier om nog n paar kamerade te verreik om nog n kommissie.

John ·

Die foto is baie gepas met die geliefde swart stralekransie op die ondersoekbeampte se kop. Onder le sy towerstaffie…

Johann ·

Ek sien verseker nie die ou landsvlag wapper nie, dit sou ‘n skande gewees het.

Pieta ·

Weet nie of MM n probleem daarmee het nie, maar ek bid gereeld dat God verwarring in die bose se kamp sal bring. Hier verwys ek veral na goddelose knoeiers wat in die duister konkel. Weet verseker dat alles uiteindelik geopenbaar sal word.

My tweesent bydrae ·

Ek sal so teen 2020 kyk hoe ver die appel gevorder het .

Johanna Botha ·

Skandes op skandes week na week ….tot waneer wil julle kans he vir die ondersoek …2035 ? Alles neem n ewigheid ! Intussen word daar lekker verder gelieg en gesteel!

ian ·

Sal nogals wonder wat se geheime projekte is daar teen die wittes?????

Wolf in skaapsklere ·

Sal nooit verstaan hoe die skuldiges self hulle eie oortredings moet ondersoek nie .. hoe op aarde sal hulle enigiemand skuldig bevind as hulle self betrokke was?

Melt Olckers ·

Die ANC het heel moontlik die idee by Poetin gekry. Kameraad Poetin het ook seker die opleiding verskaf deur middel van Cosy Bear en Fuzzy Bear.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.