‘Laat regering toe om studentegeldeverslag te bestudeer’

Minister van hoër onderwys en opleiding Hlengiwe Mkhize tydens ‘n perskonferensie met die besoekende minister van hoër onderwys van die Islamitiese Republiek van Mauritanië, dr Sidi Ould Salem in Pretoria (Foto: ANA)

Die minister van hoër onderwys en opleiding het Dinsdag ʼn beroep op Suid-Afrikaners, en veral die studentebeweging, gedoen om die regering die ruimte te bied om die studentegeldeverslag te ondersoek en daarna beleidsbesluite te maak.

“Die kommissie [wat aangestel is om die lewensvatbaarheid te ondersoek van gratis hoër onderrig] het aansienlike werk gedoen om die inligting te prosesseer en sienings te bekom van ʼn wye reeks bronne om hul aanbevelings te maak,” het minister Hlengiwe Mkhize gesê. “Dit is egter baie belangrik dat almal van ons, die publiek, studente en instansies, ten volle begryp dat die verslag nie enige uitspraak gelewer het nie. Dit bevat nie enige besluite nie,” het hy tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê.

“[Die verslag] verskaf slegs aanbevelings vir die regering. Die besluite moet nog deur die regering gemaak word. Die regering moet ruimte hê om dit noukeurig te oorweeg, insluitend die moontlike gevolge, sodat die president ʼn pad vorentoe kan aankondig.”

Mkhize het die land verseker dat die beleidsbesluite, wat uiteindelik deur pres. Jacob Zuma gemaak sal word, ʼn oplossing sal bied vir die krisis in die opleidingsektor, wat in ʼn stadium instansies van hoër onderrig lamgelê het weens studentebetogings en onrus.

“Die beleidsbesluite wat ons maak, nadat ons die aanbevelings in die verslag oorweeg het, moet tot lewensvatbare besluite lei wat jare lank kan duur. Ons moet van die ad hoc-situasie, wat ons in 2015 gehad het, beweeg na sekerheid oor hierdie kwessies in die toekoms.”

Hy maan veral studenteleiers en die bestuur om ʼn vreedsame einde van die akademiese jaar te verseker en toe te laat dat eksamens sonder ontwrigting afgehandel word. “Die veiligheid en sekuriteit van ons personeel en studente op ons kampusse moet nie in gedrang gebring word nie, die reg van byna ʼn miljoen studente oor die land heen om hul akademiese jaar af te handel, kan nie opgeoffer word wanneer ons so naby aan ʼn oplossing is nie.”

Die kommissie, onder leiding van regter Jonathan Arthur Heher, het aanbeveel dat Suid-Afrika sy uitgawes op hoër onderwys en opleiding verhoog tot minstens 1% van die nasionale bruto binnelandse produk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Brekende nuus ·

Staatsgreep in zimbabwe volgens ander media, nou aan die gang.

Leahim ·

Tyd mors niks is verniet en die regering het nie geld om te betaal nie pleks privatiseer hulle die universiteite dan kan die wat werk vir wat hulle wil hê in vrede studeer.

Alida ·

Verkeerde tyd om nou hierdie onderhandelings aan te pak. Die kinders gaan nie tevrede wees met hulle besluite nie en sit gereed om die Universiteite te verwoes en af te brand. Zuma moes NOOIT eers die woord “gratis onderrig” ge-opper het nie. Weereens het hy drooggemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.