Laat wysigings aan Wet op Diensbillikheid hersien, maan Solidariteit

Argieffoto

Solidariteit het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag in ʼn skrywe gemaan om nie dié gewysigde wet op diensbillikheid te onderteken nie, maar dit eerder vir hersiening terug te verwys.

Ramaphosa is glo van plan om die gewysigde wet op diensbillikheid reeds vroeg volgende maand te teken. Solidariteit sê nou sy skrywe aan die president is ’n laaste uitweg. Indien Ramaphosa nie daaraan gehoor gee nie, “sal Solidariteit die hof nader om die regering weer eens te dwing om die regte ding te doen,” sê die organisasie nou.

Solidariteit hou vol die gewysigde wet op diensbillikheid is nie net ongrondwetlik nie, maar ook strydig met ʼn vroeëre bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) wat daarop dui dat Suid-Afrika se rassewetgewing ongrondwetlik is en nie met internasionale norme en waardes strook nie.

“Dit is verstommend om te sien hoe ver hierdie regering bereid is om te gaan om sy agenda deur te voer,” sê dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.

Maroela Media het vroeër berig die wysigingswetsontwerp stel numeriese sektor-spesifieke indiensnemingsteikens om diegene wat steeds onderverteenwoordig in die werkplek is – swart mense, vroue en mense met gestremdhede – in diens te neem.

Hermann sê die wet soos gewysig staan in teenstelling met die Grondwet en met wat goed is vir die Suid-Afrikaanse samelewing. “Dit ignoreer daargestelde internasionale konvensies waarvan Suid-Afrika ʼn ondertekenaar is en dit trek selfs die president se mandaat in twyfel om ingevolge die Grondwet op te tree.”

Solidariteit wys daarop dat Ramaphosa as president by magte is om die grondwetlikheid van voorgestelde wetgewing te bevraagteken en om dit vir hersiening na die parlement terug te verwys.

“Die voorgestelde wetswysiging ingevolge waarvan rasseteikens op sektore afgedwing sal word, sal rampspoedige gevolge vir ons ekonomie inhou. In baie gevalle gaan dit diegene wat wel gelukkig genoeg is om hul werk te behou van enige moontlikheid op bevordering ontneem. Dit gaan meebring dat die uittog van vaardighede na die buiteland net versnel en die Suid-Afrikaanse ekonomie sal – soos sy staatsdiens – toenemend in ʼn spiraal van ondoeltreffendheid, inkrimping en dreigende ineenstorting vasgevang word.

“Die staat se rasmalheid moet tot elke prys teengestaan word. Ons kan dit eenvoudig nie bekostig om dit nie te doen nie.

“Sonder ingryping sal hierdie regering sy beleid van ondoeltreffende sentralisasie voortsit en sal selfs so ver gaan om die mensehulpbronfunksie in organisasies oor te neem. Hierdie skrywe aan die president is ʼn laaste uitweg, een wat in ʼn funksionerende demokrasie onnodig behoort te wees. Indien die president nie aan ons eise gehoor gee nie, sal Solidariteit hom voor die hof daag en grondwetlikheid deur die howe afdwing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frank ·

Ek wonder of die top bras besef dat sulke wetgewing letterlik daarop neerkom dat die regering self nie blankes as minderwaardig en ondergeskik aan blankes beskou en wetgewing die enigste manier is om nie blankes iets te laat beteken.

Wetgewing om 3 jarige teen 17 jarige te beskerm is een ding maar as wetgewing nodig is om ‘n 17 jarige teen 3 jarige te beskerm se dit nie veel van die 17 jarige nie

Johan ·

Hulle bly maar pateties, het wetgewing nodig om mee te ding. Dit werk wel gladnie, dit verniet net alles.

Geert ·

Ek is dankbaar vir Solidariteit se pogings om die ANC deur die hof te dwing om die regte ding te doen. Maar ek voel baie sterk dat die privaat sektor se uitvoerende besture nie moet meewerk om wit mense hulle, hulle werk te ontneem ten gunste van BEE nie, ongelukkig gebeur dit op groot skaal. Die besighede is allermins deur die ANC gevestig, inteendeel hulle maak dit moeilik vir besighede om te oorleef. Ek kan om die dood nie verstaan waarom die privaat sektor nie net doodeenvoudig die beste persoon vir die werk aanstel nie, hulle gebruik mos nou nie die ANC se geld om hulle besighede te bedryf nie.

Danie ·

Die publiek word nie geken in die sake nie daar word net eenvoudig besluite geneem en gestoomroller wat die belasting betaler miljoene kos om te beveg .

Manie ·

Ek word gereeld gepla deur maatskappye wat wil verneem of hulle my behulpsaam kan wees met BEE registrasie. Ek sit die gesprek lekker aan die gang en sit dan my foon neer dat hulle heerlik met hulself kan gesprek voer en hul eie tyd en geld mors. Dis my bydrae tot BEE.

Kobus ·

Dit is nie duidelik watter bestaande Wet deur die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid gewysig word nie. Is dit dalk die Wet of Gelyke Indiensneming van 1998, soos gewysig in 2014. In Engels heet dié wet: Employment Equity Act, 1998. Die Staatskoerant 37871 van 25 Julie 2014 gee die titel van die wet in Afrikaans en Engels. Hoe verklaar ‘n mens die tersluikse naamsverandering van ‘gelyke indiensneming’ na ‘diensbillikheid’? Die nuwe vertaling van Employment Equity na ‘diensbillikheid’ impliseer dat dié Wet billike diens aan die samelewing bevorder! As dit wel die geval is, dan het ek nie ‘n probleem daarmee nie. Kom ons hou liewer by wat ons weet. Ek stel dus voor dat Maroela Media en al die ander instansies wat in Afrikaans oor die wetswysiging berig, terug keer na die Afrikaanse titel soos in die Staatskoerant van 2014 gepubliseer is. ‘n Deeglike ontleding van hoe hierdie wetswysigings dienslewering kan verbeter, is sekerlik nodig.

Althes ·

Die ANC wil seker maak hul bly in beheer by die stembus,deur sulke belaglike besluite op besighede af te dwing.
Wat hul nie besef nie, is dat hulle nie al die balle in die lug kan hou nie, en daarom vind nasionale shutdown plaas.
Pleks van ekonomiese groei te stimuleer en te vergemaklik wil hul voortstrompel met die reeds mislukte BEE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.