‘Lady R’: Departement gee nog geen antwoorde

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

“ʼn Brief wat die departement van verdediging aan my gestuur het, maak dit baie duidelik dat daar ʼn plan is om die waarheid oor die voorval rakende die Russiese skip Lady R te verdoesel.”

Só sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, kort ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy van voorneme is om die verslag oor die beweerde laai van ammunisie op die Russiese skip, as geheim te laat klassifiseer.

Marais het ʼn maand gelede ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ʼn versoek aan die departement van verdediging gerig waarin hy besonderhede vra oor die manifes van goedere wat op en af van die skip gelaai is toe dit by Simonstad vasgemeer het. Die DA het ook invoer- en uitvoerpermitte aangevra. Hiermee saam wou die DA ook weet wat presies op ʼn Russiese vliegtuig wat vroeër by die Waterkloof-lugmagbasis geland het, op- en afgelaai is. Die DA het ook die landingspermit aangevra.

Die departement het ingevolge wetgewing 30 dae om op die versoek te reageer, maar het eers nou laat weet dat die versoek deur verskeie kantore in die departement se bevelstruktuur verwerk moet word.

Volgens die departement is ʼn gedeelte van die aansoek na die departement se regsdiensteafdeling verwys, terwyl ʼn ander gedeelte na die lugmag vir die lewering van rekords verwys is. Hierna word die versoek na die hoof van die weermag vir ʼn aanbeveling verwys, en dan word dit weer na die sekretaris van verdediging gestuur vir goedkeuring.

Marais sê indien die departement werklik in aanspreeklikheid belanggestel het, sou hy dié proses dadelik van stapel gestuur het.

“Die vertraagde reaksie dui op ʼn doelbewuste poging om die bekendmaking van die belangrike inligting te vertraag of in die wiele te ry,” sê Marais.

“Dit is baie duidelik dat hulle weet wat op daardie Russiese skip en vliegtuig was en aktief besig is om dit toe te smeer.”

Indien die departement glo hy kan die proses vertraag met die hoop dat bevindings van Ramaphosa se paneel van ondersoek geklassifiseer word, maak hulle ʼn groot fout, sê Marais.

DA-leier John Steenhuisen het reeds gesê die party sal ʼn regsmening inwin om planne om die verslag geheim te hou, te betwis.

“Ons gaan nie toelaat dat belangrike bewyse oor die beweerde smokkel van ammunisie om Rusland te bewapen in sy oorlog teen Oekraïne en ander dele van Afrika, toegesmeer word nie. Die doel van die ondersoek self word ondermyn indien die volledige prentjie nie bekend gemaak word nie.”

Marais sê die DA gaan nie rus voor die waarheid nie bekend is nie en eis aanspreeklikheid en deursigtigheid van die regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

melaney ·

Moet nie ‘n antwoord verwag nie. Indien dit wel gebeur, sal ons nie die waarheid hoor nie.

Jessey ·

Kyk net hoe aandagtig word daar geluister as Poetin vir hom vertel wat om volgende te doen

Eugene ·

Het ons al iets gehoor van die gewilde staatskaping verslag? GEEN WOORD word daaroor gerep nie moenie julle verwagtinge te hoog plaas nie 2024 is vinnig oppad.

Harley Davidson ·

Dit is asof daar so baie dinge gebeur dat die opposisie nie oral kan aandag gee aan al die anc se ongerymdhede nie ,stig afvaardigings en hou hulle verantwoordelik vir elke insident wat verkeerd is.

Marthinus W ·

Ons moenie naief wees nie. Elke land het geheime. n Kommentator het bv genoem dat dit ammunisie was wat SA in Mosambiek en die DRK gebruik, as dele van die Afrika-Vredesmag. indien dit so is, is daar niks verkeerd nie. Ons moenie toelaat dat Amerika elke dingetjie wat ons doen sit en dophou en n eier le nie; hulle is self nie onskuldig nie.

Christoffel ·

Stem saam oor VSA, maar dit sal ook goed wees vir landsburgers om te weet. As dit wapens is eindig dit dalk weer in die hande van bankrowers op..

Johan ·

Poetin fluister vir Ramaphosa: “Doen en sê nou presies soos ek jou opdrag gegee het en jy kan nog vir lank lekker dinge vir jouself koop op my rekening.”

Henk ·

Geen regering in die wêreld gaan alles uitblaker as dit kom by verdediging verwante transaksies nie. Hou maar op vra.

minnie muis ·

kan ons werklik verwag dat die anc oop kaarte speel, lieg en verdoesel is in hul dna

Vanessa ·

Die ANC is skuldig!! waarom word alles geheim gehou. Waar ‘n rokie trek brand ‘n vuurtjie. Ons staan 100% agter die DA. Julle is ons enigste hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.