Ladybrand-ouma se verkragter sit lank

Argieffoto (Foto: safarinow.com)

Argieffoto (Foto: safarinow.com)

ʼn 38-jarige man wat ʼn 78-jarige ouma vroeër vanjaar in die Ladybrand-omgewing in die Vrystaat verkrag het, is in die dorp se streekshof gevonnis.

“Bentikie Phofane van Platberg naby Ladybrand is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting wat op 27 Februarie vanjaar omstreeks 00:30 plaasgevind het,” het sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Die ouma het in haar bed lê en slaap toe Phofane haar kamer betree, en die komberse afgetrek het. Die ouma het wakker geword en besef sy ken haar aanvaller.”

Phofane het die ouma met sy vuiste geslaan en haar verkrag. Hy het daarna opgestaan en die ouma agter gelaat. “Sy het die hele naweek in haar huis gebly en is eers die Maandag na die hospitaal en daarna na die plaaslike polisiestasie om die saak aan te meld,” het Xuma bygevoeg.

Lede van die gemeenskap het Phofane die Woensdag opgemerk en die polisie ontbied en hy is in hegtenis geneem.

Speurderkonstabel Sootho Litabe moes op die slagoffer se getuienis staatmaak tydens die hofverrigtinge, aangesien geen DNS-monsters beskikbaar was nie. “Dit is noodsaaklik dat slagoffers verkragtings so gou as moontlik aangemeld word sodat die nodige monsters geneem kan word,” het Litabe gesê.

Phofane is Maandag skuldig bevind op aanklag van verkragting en moet 12 jaar direkte tronkstraf daarvoor uitdien. Hy is skuldig bevind op aanklag van huisbraak met die doel om te verkrag en is tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Hy moet dus 20 jaar tronkstraf uitdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anet ·

My vraag ook Andre. Ek dink die meeste vonnise wat opgele word klink dramaties, maar as jy mooi jou somme gaan maak besef jy dat daar ‘n groot leemte is in ons regstelsel.

Theresa ·

Nee hy gaan nie 20 jaar sit nie want almal word mos skielik engeltjies in die tronk en is model gevangenes en word in ‘n rekordtyd gerehabiliteer, net om weer droog te maak as hulle vrygelaat word. Ek hoop hy kry wat hom toekom in die tronk……………………………

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.