Ladysmith-man vasgetrek na hy glo R250 000 steel

Konstabel Maduma, sersant Mofokeng en konstabel Nqulunga van Ladysmith-speurdiens tel die kontant wat opgespoor is. Foto: SAPD

Konstabel Maduma, sersant Mofokeng en konstabel Nqulunga van Ladysmith-speurdiens tel die kontant wat opgespoor is. Foto: SAPD

ʼn 39-jarige man van Ladysmith is Donderdagoggend by sy meisie se huis aangekeer nadat hy glo R250 000 van ʼn maatskappy gesteel het.

“ʼn Sake-eienaar het die werknemer Dinsdag omstreeks 14:15 by ʼn bank afgelaai om R250 000 in te betaal,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. “Nadat die man ʼn paar minute lank in die ry gestaan het, het hy weggeloop sonder om die geld te deponeer.”

Die sake-eienaar het ‘n kort rukkie later besef die werknemer het nog nie teruggekeer nie, en ontdek die geld is nog nie gedeponeer nie.

“Die polisie is ontbied en ʼn saak van diefstal is aanhangig gemaak,” het Zwane gesê. “Die polisie het na die verdagte gesoek en vanoggend inligting ontvang dat die man by sy meisie se huis in Bergville wegkruip.”

Die man is by die huis aangekeer en die helfte van die kontant is opgespoor. “Die geld is opgedeel en in verskeie plekke in die huis versteek,” het Zwane bygevoeg. “Die polisie soek steeds na die res van die kontant.”

Die verdagte sal binnekort in die Ladysmith-landdroshof verskyn op aanklag van diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antjie ·

Watter regdenkende werkgewer stuur ‘n werknemer om soveel kontant te gaan inbetaal? As ek soveel geld kontant het wat inbetaal moet word, sal ek dit waaragtag self loop doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.