Laer brandstofprys sal verligting bring

(Argieffoto: Paul Brennan/pixabay)

Die daling in brandstofpryse wat Woensdag in werking tree word wyd verwelkom.

Die VF Plus meen terwyl dit die druk op verbruikers sal verlig, kan die regering ‘n deurslaggewende rol speel om pryse verder te verlaag.

Maroela Media het vroeër berig verbruikers sal van Woensdag af R2,04 per liter goedkoper vir 95- en 93-oktaan-petrol betaal, terwyl die groothandelprys van diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% met 56c per liter sal daal. Dit beteken dat verbruikers in Gauteng net meer as R23 per liter vir 95-oktaan-petrol sal betaal en verbruikers aan die kus sowat R22,73.

“Die departement van minerale hulpbronne en energie is besig om die samestelling van brandstofpryse in geheel te hersien. Verskeie pryskomponente is op veronderstellings gegrond, wat in werklikheid minder kan kos. Tydsduur van seevervoer en staantyd in hawens is voorbeelde daarvan,” sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie. “Die VF Plus is van mening dat hierdie tariewe nie vasgestel moet word nie, maar geskat moet word.”

Oorverhaling kan tot die bestaande stabiliseringfonds (slate levy) toegevoeg word sodat pryspieke van korte duur geabsorbeer kan word, voeg Boshoff by.

“Die VF Plus het hom tevore reeds oor die padongeluksfonds (Pof) se heffing uitgespreek, wat eerder met ‘n verpligte derdepartyversekering vervang kan word. Die belangrikste bydrae wat die regering kan lewer, is steeds om vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstel.”

Boshoff meen dit kan die waarde van die rand verbeter, wat een van die grootste bydraers tot ‘n hoë brandstofprys is.

“Die brandstofheffing is steeds hoogs omstrede. Die werklikheid is dat die Suid-Afrikaanse staatskas onder groot druk is. Om hierdie belasting af te skaf, sal ‘n ander belasting noodsaak; iets wat deeglike beplanning sal verg. Terwyl alternatiewe energiebronne oor die langer termyn verligting kan bring, lyk dit of dit voorlopig van verbruikers self afhang om brandstofkoste te spaar deur minder te ry.”

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê dié vakbond verwelkom ook die goeie nuus van die grootste petrolprysdaling sedert 2020.

“Werkers sal ʼn sug van verligting slaak, want die afgelope paar maande was baie moeilik met die prys van petrol wat tot meer as R25 per liter gestyg het, en met die styging terselfdertyd van die verbruikersprysindeks, rentekoerse en inflasie. Dit het tot finansiële probleme gelei vir werkers wat kop bo water wil hou te midde van ʼn hoër lewenskoste.”

Moyo sê die vakbond hoop om binnekort ook ʼn afname in vervoerkoste te sien en terselfdertyd ʼn afname in kos- en ander kommoditeitspryse wat van vervoerkoste afhanklik is.

“Uasa maan die regering om sy hersiening van die brandstofprys af te handel en maniere te vind om koste verder te besnoei om werkers te help om kos op die tafel te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Moet ons nou regtig juig oor die troosprys..
Die prys is steeds geweldig hoog.

Nico ·

Geen voedsel pryse word verlaag nie, die middelman lag al die pad bank toe, en die cANCer government get the petrol for free, what about all the levy’s we have to pay on petrol. The decrease of R2.04c of petrol is a big yoke.

Christelle ·

Ek stem! Wat van kospryse? Dit moet ook dan af. Die mense kry swaar!!!! Almal kry swaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.