Laer brandstofprys verligting vir boere

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

TLU SA sê hy is “verheug” oor die algehele daling in die brandstofpryse wat Woensdag in werking tree aangesien boere tans steier onder stygende insetkoste.

Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA se Noordstreek, sê die organisasie het die afgelope ruk klagtes van lede en ander boere ontvang oor die geweldige prysstygings in onder meer kunsmis en ander middele wat boere benodig om kos op mense se tafels te hou.

Die daling in die brandstofpryse is dus ’n bestiering.

Die petrolprys het om middernag met tussen 68c en 71c per liter gedaal, terwyl die prys van diesel met tussen 67c en 70c per liter gedaal het. Paraffien is nou 95c per liter goedkoper.

“Ons wil ’n beroep op ons lede, landbouers en die algemene publiek doen om daarop te let of sekere pryse inderdaad gaan verlaag noudat die pryse met sowat 70 sent per liter daal.”

Van de Graaf sê dié verlaging behoort aan die verbruiker deurgegee te word.

“Feitlik alle noodsaaklike produkte wat die verbruiker gebruik, het ’n rakleeftyd van ongeveer ’n week. Dus behoort die verbruiker ná ongeveer ’n week verligting te kan voel.

“TLU SA sal veral daarop let dat boere verligting by hul tradisionele aankooppunte ervaar, en ons doen ’n beroep op maatskappye wat leweransiers aan boere is, om inderdaad die verligting deur te gee, veral omdat boere uiteindelik steeds prysnemers bly, terwyl die hoë insetkoste dit moeilik maak om nog volhoubaar te produseer.”

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig oor die stygende insetkoste wat ’n probleem vir die landboubedryf bly. Sekere kunsmisprodukte is dubbel die prys as ʼn jaar gelede, terwyl sommige gifstowwe tot drie keer duurder is.

Dít terwyl talle boere in hierdie stadium diep bekommerd is weens versuip-, hael- of vloedskade te midde van die reën wat die afgelope maand oor groot dele van die land uitgesak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Nou wonder ek so by myself of al die pryse wat so flink opgemerk was agv die brandstof prys verhoging nou weer net so flink afgemerk gaan word ?

Herman ·

Die probleem is die verbruiker betaal die groothandelaar en nie die boer. Die verlaging wat die boer moet deurgee sal nooit by die verbruiker uit kom nie.. Dir rykes word ryker. Dis hoogtyt dat daar meer boeremarkte begin word, sodat daar direk by die boer gekoop kan word.

Pietertjie ·

Dis maar hoe kruipende armoede werk : Twee Rand op, sewentig sent af, dan juig almal.

Annamarie ·

Too little too late!!!! Laat RSA betaal wat die buurlande betaal. Dan is die “speelgrond” gelyk.

Stofdonkie ·

Nes die brandstofprys styg as die brent ru-olie se prys styg, maar as die prys van bernt ru-olie daal dan bly die brandstofprys onveranderd, net so styg alles se pryse saam die brandstofprys maar daal nie as die brandstofprys daal nie. Effektief betaal die verbruiker dus net al meer en meer soos die brandstofprys op en af gaan

KB ·

Maar die lewenskoste (kos en kruideniersware) bly dieselfde prys. Wie flous hulle?!

Arno ·

Dit is alles n klugspul en almal val daarvoor. Petrol gaan op, almal suffer, petrol gaan af en almal is bly, oor drie maande gaan dit maar net weer op met nog n tien of meer sent en so ry die staat die gratis beursie

Nico ·

Steeds loop die ANC regering weg met die helfte van die petrol prys. Dit nadat miljoene liters olie verkoop is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.