Laer kragtariefverhoging ‘steeds ’n harde slag’

Nersa het ’n kragtariefverhoging van onder 10% aangekondig – ongeveer die helfte van wat Eskom aanvanklik versoek het. (Argieffoto ter illustrasie: Mujahid Safodien/AFP)

Die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het Donderdag aangekondig dat Eskom se kragtarief vir die 2022-’23-boekjaar met 9,61% verhoog word. Die verhoging sal op 1 April vir Eskom-kliënte in werking tree, en op 1 Julie vir munisipale kliënte.

Kenners meen hoewel dit baie laer as Eskom se aanvanklike versoek vir ’n 20,5%-verhoging is, is dit steeds ’n groot terugslag vir sukkelende Suid-Afrikaners wat reeds onder hoë lewenskoste gebuk gaan.

Die tariefverhoging is op 3,49% vir die 2022-’23-boekjaar, asook terugwerkende aansoeke wat voorheen goedgekeur is, bereken. Nersa waarsku egter dat hierdie verhoging slegs aanduidend is, aangesien die werklike prys nog gefinaliseer moet word.

Maroela Media het vroeër berig dat Eskom vir ’n 20,5%-verhoging gevra het. Dié versoek is uit verskeie oorde gekritiseer, onder andere deur die DA, wat ’n petisie teen die verhoging van stapel gestuur het. Die petisie is binne vyf dae deur meer as 30 000 mense onderteken.

Eskom se aansoek vir vanjaar se verhoging is ’n jaar gelede opgestel, maar Nersa het nooit daaroor beraadslaag nie. Die energieverskaffer meen sy kosteverhoging word deur faktore buite sy beheer gedryf, naamlik die vereiste om kragaankope van onafhanklike kragprodusente te verhoog en die verhoging in koolstofbelasting.

Luidens ’n verklaring deur Eskom het Nersa die verskaffer ingelig dat hy van plan is om die metodologie vir die bepaling van toelaatbare inkomste te verander, wat ’n nuwe aansoek vereis. In Desember het Eskom die hof genader en ’n bevel verkry dat Nersa die 2022-’23-aansoek onmiddellik moet oorweeg om nuwe tariewe teen 1 April in te stel.

Calib Cassin, Eskom se finansiële hoof, sê die finansiële implikasies van Nersa se besluit op Eskom se langtermynvolhoubaarheid moet nog uitgeklaar word.

“Na verneem word, het Nersa die trefslag op verbruikers en die finansiële volhoubaarheid van Eskom in sy besluit oorweeg.

“Die Eskom-direksie sal verder beraadslaag voordat daar besluit word oor hoe om voort te gaan om elektrisiteit volhoubaar te verskaf soos in die konteks van hierdie besluit moontlik is.”

Verhoging laer, maar steeds ’n groot slag 

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale bronne en energie, sê hoewel hulle die verwerping van Eskom se 20,5%-verhoging verwelkom, is ’n verhoging van 9,61% steeds ’n groot slag vir “sukkelende Suid-Afrikaners”.

“Die aangekondigde tariefverhoging van 9,61%, hoewel dit steeds hoog is, is ver van die 20,5% wat Eskom versoek het. “Hierdie verhoging, wat heel moontlik deur Eskom in die hof betwis kan word, sal steeds ’n slag wees vir Suid-Afrikaners wat reeds kreupel is onder uiters hoë lewenskoste.

“Brandstofprysstygings, voedsel- en vervoerkosteverhogings, verbruikersprysstygings en alle regeringstariewe bombardeer Suid-Afrikaners meedoënloos.”

Mileham meen baie van Eskom se verliese kan teruggevoer word na wanbestuur en ongebreidelde korrupsie onder vorige leierskap.

“Die las word oorgedra na verbruikers, wat die grootste deel van Eskom se mislukking dra, terwyl die onbekwame ANC-regering van die kantlyn af toekyk.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Pleks dat eskom 40% verhoging gevra het. Dan het Nersa 19,5% toegestaan, en ons sheeple sou nog steeds dankbaar wees dat die verhoging nie erger is nie.

Aikie ·

Wel, daar het jy dit. Wanneer ek iets verkoop, sit ek ekstra by om ‘n “afslag” te gee indien die klient daarna vra. Eskom wou 10% hê en vra toe vir 20. Die reël van “lesser of two evils” kom in werking en NERSA gee hulle wat hulle oorspronklik wou hê.
Indien ons vuisvoos eindbetalers dink ons krag sal net met 10% opgaan sal ons weer moet dink.

SlinkseKoljander ·

Dankie ANC vir nog meer van julle gemors wat die belasting betalers moet probeer red.

Pieter ·

Ek vra myself af hoe kan Eskom vir hul personeel sulke astronomiese salarisverhogings toestaan as die instelling kwansuis so sukkel. Dit is hul eie werknemers wat die situasie veroorsaak het, dan verwag hulle dat die publiek net meer betaal, en dit terwyl GEPF pensioenarisse verlede jaar ‘n skamele 3.2% verhoging gekry het!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.