Laer tariewe in Kaapstad nadat waterbeperkings verslap word

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Inwoners van Kaapstad slaak ʼn sug van verligting nadat die metro aangekondig het dat waterbeperkings en die gepaardgaande hoër tariewe vanaf Oktober verslap sal word.

Ian Neilson, adjunk- uitvoerende burgemeester van Kaapstad, het in ʼn verklaring gesê die Moederstad se gemiddelde damvlakke is naby aan 70% danksy die goeie reënval aan die begin van die winter en besparingspogings van die stad se inwoners.

Die droogte wat die Wes-Kaap vir lank in ʼn knelgreep gehad het en die al meer dalende damvlakke het tot gevolg gehad dat Vlak 6B-waterbeperkings vanaf Februarie ingestel is. Dit het gepaardgegaan met hoër watertariewe en Kapenaars moes behoorlik planne maak om water genoegsaam te bespaar om Dag Zero te vermy.

Neilson het gesê nadat damvlakke voldoende gestyg het en dit duidelik geword het dat die dreigende waterkrisis afgeweer is, het die stad ʼn voorlegging aan die nasionale departement van water en sanitasie gemaak om te versoek dat waterbeperkings verslap word.

“Die verslapping van beperkings is ʼn gematigde voorstel wat gebaseer is op ʼn hidrologiese risiko-assessering wat aangedui het dat dit veilig is om dit te doen op die risikovlak waarop daar ooreengekom is. Natuurlik sal die aangepaste Vlak 5-beperkingsriglyne vir waterverbruik steeds van toepassing wees en ons is vol vertroue dat die ingrypende gedragsverandering wat ons gesien het rakende waterbesparing steeds tot ʼn groot mate sal seëvier,” het Neilson gesê.

Neilson het gesê die verslapping van die waterbeperkings sal ʼn verlaging in watertariewe van tussen 26,6% en 70% per kiloliter meebring, afhangend van die verbruik en die tariefkategorie. Die waterverbruik-teiken sal van 50 liter per persoon per dag vermeerder word na 70 liter per persoon per dag, en die daaglikse gesamentlike verbruiksteiken sal met 50 miljoen liter vermeerder na 500 miljoen liter per dag om te verseker dat waterbesparing steeds toegepas sal word.

Volgens Neilson is die Wes-Kaapse watervoorsieningstelseldamme nou op 68% kapasiteit, ʼn aansienlike verbetering van die situasie die vorige winter toe damme op 38% kapasiteit was.

Verdere besluite rakende aanpassings in die toekoms sal geneem word sodra die nasionale departement van water en sanitasie ʼn besluit geneem het oor die nuwe hidrologiese jaar.

Residensiële tariewe (BTW uitgesluit) lyk dus nou as volg:

0 tot 6 kl: Verlaag van R28,90 per kl na R21,19 per kl (verlaging van 26,6%)
6 tot 10,5 kl: Verlaag van R46 per kl na R34,43 per kl (verlaging van 25%)
10 tot 35 kl: Verlaag van R120,27 per kl na R52,39 per kl (verlaging van 56%)
Bo 35 kl: Verlaag van R1000 per kl na R300 per kl (verlaging van 70%)

Kommersiële en industriële tariewe:

Verlaag van R45,75 per kl na R37,50 per kl (Verlaging van 18%)

Neilson het daarop gewys dat die verhoogde tariewe direk verband hou met waterbeperkings en die hoeveelheid water wat in Kaapstad gebruik word. “Die stad begroot nie om wins te maak op die verkoop van water nie. Daarom, wanneer die beperkingsvlakke verslap word, word daar verwag dat individuele waterverbruik sal vermeerder en daarom kan tariewe verlaag word sodat die stad steeds genoeg geld het om die waterinfrastruktuur te herstel en te onderhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

1. Wat van die R100 tarief NET omdat ‘n sekere dikte pyp water toevoer na my huis toe?
2. Wat ook van die duisende water management devices wat gereeld nie reg werk nie?
3. Wat van rioolpype wat tot 3 dae lank oorloop? My verkose, uiters aktiewe DA-raadslid kon dit nie eens gouer gestop kry nie. Ongelukkig beteken ‘n DA-beheerde stadsraad nie beter diens nie, want meeste munisipale amptenare is in ANC- en COSATU-geaffilieerde vakbonde. Hulle besluit of die werk regtig gedoen moet word.

Maar aan die anderkant: hierdie verslapping van die water beperkings kom te gou. teen Februarie volgende jaar is daar weer te min water. Twee volle jare met die huidige beperking van 50liter per persoon per dag en DUUR tariewe vir diegene wat mors, sou veel beter tot ‘n langtermyn oplossing gelei het.

francois ·

Uiteindelik! Dis lekker om vir ‘n slag goeie nuus te kry.

Jannie ·

Dit wil ek nog eers sien! Hulle maak tans ‘n fortuin uit heffings vir water en selfs die krag wat jy vooraf koop!!! Korrupsie geld op alle vkakke van regering…….ook plaaslik!!!

HPV ·

Hier in Bankrot Mangaung, (Bloemfontein toe alles nog gewerk het) gebruik hulle die verhoogte watertariewe as ‘n verskoning om hul skuld te probeer betaal! Kom Mangaung toe as julle ‘n “City on the move”, reguit oppad na ‘n afgrond, wil sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.