Laersdrif-plaasaanval: ‘Hulle het my ouers gemerk’

Die Laersdrif-omgewing. Foto: Google Maps

Die Laersdrif-omgewing. Foto: Google Maps

Yda Ruthven (65) sal moontlik nie weer haar regterhand kan gebruik nie, nadat sy en haar man op hul plaas in Laersdrif in Limpopo aangeval is en sy in die arm geskiet is.

Yda en haar man, Hannes (75), bedryf ʼn drankwinkel op hul plaas. Martie Ruthven, die egpaar se dogter, het aan Maroela Media gesê haar ouers het omstreeks 17:00 Saterdagmiddag besluit om die winkel te sluit, maar hulle het dit gewoonlik eers 17:30 gesluit. Volgens Ruthven moet haar ouers deur verskeie hekke gaan om agter by die drankwinkel uit te kom en na die plaashuis, sowat 20m verder, te stap.

Ruthven het gesê haar ouers was reeds buite toe hulle drie koeldrankbottels op ʼn muurtjie gewaar het. Hulle het die botteltjies weggegooi. “My ma het gebuk en toe sy weer regop kom was ʼn man voor haar, wat ʼn pistool teen haar bors gedruk het. My ma het geskree en vyf skote is afgevuur.” Volgens Ruthven het geen skote haar ma getref nie. “Sy het weer gebuk en toe skiet hy haar in die regterarm.”

Yda Ruthven. Foto: Facebook

Yda Ruthven. Foto: Facebook

Volgens Ruthven was daar twee verdagtes en hulle het ʼn sak wat in haar ma se hand was, gegryp en weggehardloop. Daar was tydskrifte en ʼn tabletrekenaar in die sak. “My ouers het geld en selfone by hulle gehad maar dit is nie gevat nie.” Ruthven se pa het ʼn ent agter haar ma gestaan tydens die voorval. Hy is nie beseer nie, maar was erg geskok.

Ruthven het gesê hulle vermoed die botteltjies is daar geplaas om te wys hoeveel mense daar in die onmiddellike omgewing is, aangesien ʼn Indiërman langs haar ouers se plaas ʼn winkel het. “Ek dink as my ouers die bottelstoor later gesluit het dié dag, was daar dalk meer aanvallers en was my ma dalk dood.”

Ruthven het gesê haar ma is Sondag en Dinsdag geopereer en ʼn plaat is in haar arm gesit. “Die dokter het gesê sy gaan moontlik nie weer haar regterhand kan gebruik nie. Die koeël het naby haar elmboog ingegaan en agter uitgegaan. Die been is vergruis en baie senuwees is beskadig. Sy het nog baie pyn en sal oor ses weke weer geopereer moet word.”

Volgens Ruthven is dit die vierde keer wat haar ouers aangeval word. “My ma is tydens een van die vorige aanvalle gewurg. Hulle gaan nou maar alles verkoop en Pretoria toe trek waar my broer bly.”

Die polisie in Limpopo kon nie onmiddellik besonderhede oor die voorval verskaf nie. Dit is minstens die tweede plaasaanval in Laersdrif in minder as ʼn week. Japie du Toit (60) en sy vrou, Christina (55), is op 8 Junie omstreeks 03:00 die oggend deur ses gewapende rowers in hul huis oorval. (Lees meer hier).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Moeg ·

More – ek het gisteraand Treurgrond gaan kyk – en my hart is net seer seer oor wat met ons mense gebeur – plaasaanvalle is nou deesdae ‘n alledaagse ding – MENSE ONS MOET BEGIN SAAMSTAAN – dit is nie normaal nie – mense word seergemaak daagliks daagliks. Ons moet begin saamstaan.

ina ·

julle praat van saam staan maar rooiman is meer bekommerd oor die verkeerde gebruik van die woord Bottlestoor nee regtig.

Katryn ·

Ja, wragtag, mense soos Rooiman is regtig maar eenvoudig, maar ook ongevoelig.

Rooiman ·

“Bottelstoor”!!!! Wat n swak woord om onderaan die foto te plaas. Wat het geword van “Drankwinkel”???

Johan 2 ·

Wats fout met Bottelstoor? Klink na eg afrikaans, drankwinkel klink vertaal.

Pietertjie ·

Bottle store = bottelstoor. Drankwinkel = drinks shop? Bottelstoor klink vir my meer Anglisisties.

Dave ·

…’rooiman’ herinner aan die rooimanne wat lede is van die EFF en keer op keer die parlementsittings op hol jag.

Capie ·

Mense praat gereeld van ons moet saamstaan, maar hoe? Hoe moet ons saamstaan?

Deon ·

Ons het nog net een keer saam gestaan en dit was op die boot toe ons gekom het, daar was nie sitplek nie

Dave ·

Dieselfde vraag was in my gedagtes ook, Capie. Mens word Moeg gelees aan dieselfde niksseggende rympie sonder meegaande voorstelle.

Jana ·

Ag my genade, ek ken die oom en tannie en het vir jare by hulle gekuier op die plaas. Hulle is sooooooo skadeloos, waarom hulle so seer maak?! Dink aan julle Ruthven gesin!

P Nel ·

Reg Ina , die arme man staan ongevoelig teenoor gebeure wat eintlik ter sake is. Foeitog Siestog-Siestog ! Die land se grootste skande in heugenis dat ons so iets kan toelaat gebeur met ons volk. Skrik net asb ! SKRIK WAKKER ! ( Om die minste te sê. )

Dave ·

En dan P Nel? As wakker geskrik is, wat moet daarna gebeur? Opgestaan word natuurlik? En dan, wat moet daarna gebeur? Skrik tog net wakker en moet nie halwe sinne praat nie!

Wiebo ·

Hoe kan wittes saamstaan. Julle hierbo baklei oor woorde soos bottelstoor en drankwinkel. Net n bewys dat wittes ook probleme tussen mekaar het en nooit sal kan samstaan nie……….?

Kathleen ·

Saamstaan is daar nie meer in SA nie, ons land is besig om te verval in ‘n tweede Zimbabwe. Sterkte aan oom Hannes en tannie Yda. Hoop tannie word gou gesond. Ek hoop die boosdoeners word gevang.

Sharmain van der Westhuizen ·

Boodskap aan tannie Yda, ek is in 2008 geskiet – hoofspier was afgeskiet ek het vrede gemaak met die feit dat ek nooit weer my arm totaal gaan kan gebruik nie maar ons leef om die storie te kan vertel hulle kan nie ons gees steel nie en tannie moet kies om of die SURVIVOR te wees en die VICTIM ek kies SURVIVOR vir myself en kan sien dat tannie as oorwinnaar gaan uitstap. Trots op tannie – “you go girl”!!!!!!!!! Sterkte aan julle en julle gesin die wonde vat tyd maar ‘n mens kom anderkant hoe mens wonder soms hoe maar mens kom daar deur. Lewe steeds voluit!

Jaco Groblet ·

Ek wonder altyd hoekom se mense ‘wittes’ of ‘Afrikaners’ moet saamstaan teen misdaad, dis ons almal; Ons kan saamstaan om taal en kultuur te bou, maar misdaad is almal se probleem. My swart werkers is ten minste een keer per jaar ‘n slagoffer van een of ander misdaad, so veel so dat hulle dit half aanvaar dat die ‘tsotsis’ hulle inwag op sekere plekke/tye. Hulle meld ook nie die misdaad aan nie, want hulle weet die SAPD gaan niks uitrig nie. Hier by ons reageer ons gereeld op insidente in die omgewing, met gedeeltelike sukses, sodra die skekms ‘n swart gebied binne gaan is hulle weg, ek dink ons suksesse soy verdubbel sou ons met daai gemeenskappe kon skakel, en mekaar ondersteun, hulle weet alles van mekaar, en dit is moeilik om onopgemerk so dig bevolkte gebied te kom. Ons werkers kyk dikwels na ons vir hulp en leiding, een hand was die ander….

Dave ·

Jaco, daardie holruggeryde storie van ‘wittes wat nie kan saamstaan nie’ moet bloot geignoreer word. Holrug is dit gery en word gesê deur mense met ‘n gebrek aan woordeskat. Dit is waarom ek dit ignoreer. Seker wil hulle hê die wittes moet saamstaan soos die ANC en die EFF of Inkatha en die res. Of selfs soos Zuma en Mbeki. Ignoreer bloot die rympie want dit is ‘n copy en paste sinnetjie.

CHRISTA ·

Wat sê jy hiervan Capt. Antonio? Of maak dit nie saak nie, wat hulle is WIT?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.