Laerskool verpletter oor ‘staatmaker’ se dood

Luan Schutte (Foto: Verskaf)

Die Laerskool Tygerpoort is platgeslaan nadat een van hul gr. 6-leerders, Luan Schutte (12), die afgelope Vrydag in ’n motorfietsongeluk van hulle weggeneem is.

Vriende en onderwysers het Maandag hulde aan Luan gebring en het vertel hoe hulle hom sal onthou as ’n seun met ’n glimlag op sy gesig, wat energie uitgestraal het waar ook al hy gaan.

Maroela Media het vroeër berig Luan het in ’n ongeluk op ’n vierwielmotorfiets op sy ouers se plaas naby Vryburg in Noordwes omgekom.

Luan se motorfiets het op die grondpad reg van voor teen die plaasbestuurder se bakkie gebots en hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Sy vriend, Jaykin van Heerden (12), is tydens die ongeluk ernstig beseer en is tans besig om in ’n hospitaal in Johannesburg aan te sterk.

Luan was n kranige rugbyspeler [Foto: Verskaf]

Luan word onthou as ’n sportman van formaat wat aan enige sport onder die son deelgeneem het. Hy was veral ’n kranige rugbyspeler en het vir die eerste rugbyspan uitgedraf. Hy het ook in krieket en atletiek uitgeblink.

“As ek aan Luan dink, sien ek ’n pragtige, glimlaggende sproetgesig, maar ook ’n uiters talentvolle sportman wat alles met volle oorgawe gedoen en uitnemend presteer het. ’n Seun wat altyd die mooiste maniere openbaar het. Hy het hom in die tyd by ons skool op vele terreine laat geld,” sê Nico Coetzee, skoolhoof van die Laerskool Tygerpoort.

Ewan Vlok, eerstespan-rugbykaptein, beskryf Luan as die glimlag in hul span en sê hy was bekend vir sy vriendelikheid en kameraadskap. “Hy was ’n staatmaker in ons agterlyn en ons gaan hom ongelooflik mis,” sê Ewan.

Luan se vriend, Christiaan Jacobs, vertel Luan het geweet wat die regte ding is om te doen op die regte tyd en dit was veral opmerklik op die rugbyveld. “Sy geesdrif en ywer sal my altyd bybly. Veral ook hoe hy ’n gaping op die veld kon raaksien,” vertel Jacobs.

Talle maats beskryf Luan as ’n vriendelike mens, wat altyd reg was vir ’n grappie.

Jaykin se familie beskryf sy en Luan se vriendskap as spesiaal met soveel liefde, aanmoediging en ondersteuning.

“Julle het dieselfde sport- en avontuurtaal gepraat en kon julle saam so daarin uitleef. Dit was altyd heerlik om jou in ons huis te hê. Jou grappies, laggies en manewales het ons altyd aan die lag gekry. Jou vriendelike groet en warm drukkie langs die veld of waar ons jou sien, was altyd vir ons so kosbaar gewees,” sê die Van Heerden-familie.

’n Gedenkdiens word Vrydag om 13:00 vir Luan in die NG kerk Tygerpoort gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariaan ·

Ag nee! Dis net te erg…SO jammer vir sy ouers en sus…dis tragies hartseer verby….mens moet nie jou kinders begrawe nie…ek sal dit nie oorleef nie..baie sterkte aan hierdie familie…mag die ander seun mooi herstel

Papsak ·

Dit is hartseer ek sal van my kop af gaan as dit my kind was maar sterkte vir ouers en familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.