Laerskoolleerder voor skool gegryp

(Argieffoto ter illustrasie.)

ʼn Laerskoolleerder is glo vroeg Woensdagoggend deur drie mans ontvoer terwyl sy voor haar skool gewag het om teen Covid-19 ontsmet te word.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, is die 11-jarige kind om 07:11 voor die Laerskool E.P. Baumann in Mayfair, Johannesburg, met ʼn vuurwapen gedreig en gegryp.

Die mans het na bewering in ʼn nuwe wit of silwer Toyota Yaris met die nommerplaat JS 62 CS GP met die kind op die vlug geslaan.

Hoewel daar teenstrydige berigte is oor die kind se ouderdom en wat presies gebeur het, ondersoek die polisie glo reeds die omstandighede rakende die voorval.

Maroela Media het ook navraag aan die polisie gerig, maar wag nog op terugvoer in dié verband.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het intussen sy kommer oor die beweerde ontvoering uitgespreek. Hy het ook die misdadigers wat ontvoerings op jong kinders uitvoer ten sterkste veroordeel.

“Ons doen ʼn beroep op lede van die publiek wat die ontvoering gesien gebeur het of inligting in verband daarmee het, om in aanraking met die plaaslike polisiestasie te kom,” sê hy.

“Die departement se sielkundig-maatskaplike eenheid is ook na die skool ontplooi om hulp te verskaf aan die leerders en personeel wat deur die voorval getraumatiseer is.”

Toename in ontvoerings

Die jongste ontvoering volg kort nadat die verdwyning van die Moti-broers in Oktober landwyd opslae gemaak het. Die broers is op pad skool toe deur ʼn aantal verdagtes aangekeer en ontvoer.

Hoewel die vier broers verlede week in raaiselagtige omstandighede met hul ouers herenig is, meen Mike Bolhuis, privaat speurder, dat ontvoerings soos dié meer algemeen geword het.

In ʼn onlangse onderhoud met Salaamedia het Bolhuis gesê daar is ook ʼn toename in die vraag na private lyfwagte en eksterne veiligheidsmaatskappye.

“Ons sien al hoe meer ernstige misdade soos ontvoerings, kapings en aanvalle op inkopiesentrums die afgelope ruk en wanneer booswigte sien dat dié soort misdade werk, sal daar net nog meer daarvan plaasvind.”

Amnestie Internasionaal in Suid-Afrika het die jongste ontvoering veroordeel en die toenemende berigte oor kinders wat ontvoer word as ontstellend bestempel. Hulle het ook ʼn beroep op lede van die polisie gedoen om in sulke gevalle meer inligting bekend te stel en nie, soos in die geval van die Moti-broers, ʼn embargo op inligting te plaas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anton ·

Ek voel die probleem is tweevoud. Eerstens, vanaf die huis totdat die kind binne die skoolterrein is, is dit die ouer/voog se plig itv die kind se sekuriteit. (Ongelukkig is dit die realiteit waarin ons bly. Wie onthou nog hoe hulle as kaalvoel laaities en meisies skool toe gestap het? Mens kan nie meer nie.)

Tweedens voel ek dat die skole nie kinders by die hekke moet saniteer nie, maar wel n area binne die skoolterrein moet afbaken vir die sekuriteit van die klein mensies. Want al wat die skool nou gaan se is “meh”.

Ek hoop hulle vind die meisie ongedeerd. Dis my grootste nagmerrie.

Karina ·

Ek stem saam met jou veral dat kinders nie buite die skoolhek gesaniteer moet word nie.

Genis ·

Hiedie Covid ry stanery is klomp bog…. en almal weet dit… Dis baie sleg….

marius ·

Dis die nuutste . As daar eers een keer losprys geld betaal word , gaan dit met rasse skrede toeneem Hou maar dop .

Faraway ·

Kind is ontvoer . . .
Moes die foto van die kind nie op elke nuus kanaal al gewees het nie?
Hoe moet ons help soek!

Zombie ·

Hoe beplan jy om te help soek as jy oor ń foto van die kind beskik, Faraway? Deel asseblief jou metode, sodat daar by jou geleer kan word.
Die arme kind, dink net deur wat se ontsettende trauma sy gaan.

Skappie ·

Hierdie is so hartseer. Hoekom ‘n laerskool kind? Mag die vervoerders vinnig vasgetrek word. Sterkte aan die ouers en res van die gesin.

annievantshwanie ·

n kind is ontvoer volgens die berig, maar niemand is op die uitkyk vir haar nie?

Natalie ·

Ai jinne waarheen gaan die wereld??.. My dogtertjie van 10 moet ook eers saniteer buite skool maar ek staan saam in daai ry tot dat sy deur die hekke stap… Ek bid vir die Dogter en haar gesin dat sy veilig gevind sal word… Ek glo dis die ergste nagmerrie vir ouer om te hoor jou kind is weg..

SlinkseKoljander ·

Die lewe is lekker vir skelms hier, onder die ANC se beskerming.

Misky ·

Hoe moet die publiek help en uitkyk? Plaas fotos en oral, soveel moontlik dan kan ons mos iets doen. Na wie soek ons?

Zombie ·

Hoe gaan jy “soek”, Misky? Dis nou wanneer ń foto vir jou beskikbaar gemaak is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.