Laerskoolseuns ‘hou op asemhaal’ toe weerlig tref

Ethan Jacobs. Foto: Verskaf.

Twee seuns van Potchefstroom, onderskeidelik 10 en 11 jaar oud, is Donderdagmiddag net ná hul skool verdaag het deur weerlig getref.

Aletta Myburgh, Ethan Jacobs (11) se ma, het aan Maroela Media gesê die seuns was besig om van ʼn klaskamer na die naskoolsentrum by die Laerskool Bailliepark te stap. “Toe Ethan by ʼn boom kom, wou die ander maatjie terughardloop, en toe slaan die weerlig. Soos ek verstaan, het die straal die grond geslaan en hulle van onder af getref,” het Myburgh vertel.

“Ethan het basies dood neergeslaan. Die onderwysers het dadelik begin met kardiopulmonêre resussitasie. Hulle het hom bygekry en toe weer verloor, wéér bygekry en wéér verloor – dis toe dat die paramedici opdaag,” het Myburgh verduidelik.

Sy vertel sy het solank direk Mediclinic Potchefstroom toe gejaag waar dokters met Ethan se aankoms by die hospitaal onmiddellik begin het met toetse, skanderings en sonars om die skade te bepaal. “Sy voete was persblou,” sê Myburgh.

Volgens haar word Ethan steeds in die hoësorgeenheid van dié hospitaal behandel. “Die dokters het vir ons gesê hy het ʼn gifstof in sy liggaam wat as gevolg van die weerlig ontwikkel het. Gister was sy telling 500 en vandag is dit ʼn 1 000. Hy sal op die langste nog vyf dae in die hospitaal wees tot al die gifstowwe deur middel van urine uit die liggaam geskei kan word.”

Sy sê dat Ethan in baie pyn verkeer. “Hy krul sommer so op van die pyn. Hy’s baie bang, jy kan die vrees in sy ogies sien.”

Dylan van Wyk. Foto: Verskaf.

Maroela Media het vroeër berig Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 13:30 na die toneel ontbied. “Die twee seuns was in die noodhulpkamer toe paramedici by die toneel opgedaag het. Een van die seuns was in ʼn ernstige toestand en die ander een het matige beserings opgedoen.”

Hy het gesê albei seuns het brandwonde opgedoen. “Die seuns is behandel en het pynverligtingsmedikasie ontvang voor hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere behandeling.”

Marilise van Wyk, Dylan Van Wyk (10) se ma, het Vrydag aan Maroela Media gesê Dylan is na die Potchefstroom-hospitaal gehaas, maar is intussen weer ontslaan. Volgens Van Wyk het Dylan tans korttermyn-geheueverlies. “Hy onthou net so stuk-stuk wat gebeur het. Hy het vertel Ethan was onder die boom en hy het na hom toe geloop om vir hom te sê hulle moenie onder die boom staan nie, toe die straal tref.”

Dylan het ophou asemhaal en het tydelik sy sig verloor. “Hulle het my by die werk gebel. Ek het net my selfoon en sleutels gegryp en het toe saam met die ambulanse by die skool aangekom,” het Van Wyk vertel.

“Dylan het brandwonde van sy kroontjie oor sy lyf tot waar die straal uit is by sy voet opgedoen. Ons sal al sy hare moet afskeer, want alles is geskroei. Hy het baie lam en seer. Die twee [Dylan en Ethan] sien mekaar nou vanmiddag, dan sal ons die storie mooi bymekaar kan sit. Ek vat Dylan ook vanmiddag vir gehoor- en oogtoetse. Hulle het vir my gesê hy kon moontlik ʼn traumakatarak opgedoen het,” het Van Wyk gesê.

“Ons is net dankbaar altwee seuns is oukei. Dit is net genade van Bo.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sammy ·

So bly hierdie twee mannetjies lewe en kan aangaan met hulle lewens, dit kon soveel erger gewees het. Ek haal my hoed af vir die onderwysers en paramedici wat hierdie kinders se lewens gered het. Julle is die eintlike helde. I salute you. Ek is seker die ouers sal julle vir ewig dankbaar wees. Sterkte aan die twee seuns. Hoop julle herstel sommer gou 100%.

CJ ·

Sjoe! Wat ‘n dramatiese storie! Ek dink voortaan gaan daar ‘n baie besondere band russen die betrokke onderwysers en hierdie kinders wees. En ten spyte van alles is daar nog ‘n glimlag! Baie, baie indrukwekkend! Dankie en sterkte aan almal! Dankie vir die genade van Bo.

Ekke ·

Sterkte met jul herstel. Almal is, maar veral die onderwysers is die helde. Uitstekende werk! Geniet julle almal jul rus vakansie.

Colette Pretorius ·

Dankie aan die fantastiese onderwysers en nooddienste.

Janét Krüger ·

Die onderwysers wat die twee seuns te hulp gesnel het verdien ‘n medalje! Ek glo vas dis te danke aan hulle en genade van Bo dat die kinders leef.

Han ·

En almal word dank, erkenning en eer toegebring, BEHALWE aan die Almagtige God wat die seuns se lewe gespaar het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.