Laeveldse DBV sluit omdat munisipaliteit nie betaal

Marlies Liebenberg en Lana Renken van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Barberton. (Foto: Verskaf)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Barberton was einde verlede maand genoop om die tak ná 36 jaar se bestaan te sluit nadat die plaaslike munisipaliteit byna twee jaar lank versuim het om fondse wat die tak toekom, oor te betaal.

Die Mbombela- plaaslike munisipaliteit se gesloer om ʼn betalingsooreenkoms tussen die munisipaliteit en die Laeveld DBV (Witrivier, Mbombela en Barberton) na te kom, het glo daartoe gelei dat die Barberton-tak einde Februarie sy deure moes sluit.

Dié sluiting is ongetwyfeld ’n groot slag vir die dorp se diere aangesien die enigste veeartspraktyk in Barberton toevallig óók einde vandeesmaand sluit.

Freddy Robinson, VF Plus-raadslid, sê daar bestaan ’n ooreenkoms tussen die Mbombela- plaaslike munisipaliteit en die Laeveld DBV wat bepaal dat die verantwoordelikheid vir die bestuur en instandhouding van die skutte in Witrivier, Mbombela en Barberton van die munisipaliteit na die DBV oorgedra word. Die munisipaliteit moet dan ook die nodige fondse aan die DBV betaal om dié skutte te bedryf.

Die munisipaliteit het egter op 5 Augustus 2020 laas geld vir die 2018-‘19-boekjaar aan die DBV oorbetaal en skuld die DBV in die stadium ʼn allemintige R3,2 miljoen vir die laaste twee finansiële jare.

Hierdie ooreenkoms het boonop Julie verlede jaar tot ʼn einde gekom en is na vele versoeke nog nie hernu nie.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Barberton. (Foto: Verskaf)

Robinson sê dit is onaanvaarbaar dat die tak moes sluit weens die munisipaliteit se wanbetaling. Hy wys dan ook daarop dat dit druk op die oorblywende twee takke in Nelspruit en Witrivier plaas om dienste aan die Umjindi-gebied te lewer wat voorheen deur die Barberton-tak bedien is.

“Ons is nie jammer vir ons self nie. Ons is jammer vir diegene wat nou die dienste namens ons sal moet kom lewer,” beaam Marlies Liebenberg, wat 13 jaar lank op die Barberton-tak se komitee gedien het.

“Daar is ’n groot leegte in my,” vertel sy Dinsdag aan Maroela Media oor die sluiting van die tak wat vier mense in diens gestel het. Die meerderheid van dié werknemers sal nou by ander DBV-takke ingespan word.

‘n Fondsinsameling vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Barberton. (Foto: Verskaf)

Liebenberg was die afgelope dekade as komiteelid aktief betrokke by die vereniging en het gereeld planne beraam om fondse vir die tak in te samel. Die tak het egter die afgelope paar jaar swaar getrek weens die impak van die Covid-19-pandemie en die munisipaliteit se wanbetaling.

“Jy moet onthou dat ’n DBV net fondse in sy betrokke gebied mag insamel. Barberton het dus nie dieselfde inkomstebasis as ’n plek soos Nelspruit nie. Ons dorp is maar klein met slegs twee winkelsentrums, waarvan een glad nie voorsiening maak vir fondsinsameling nie…”

Al die toerusting van die Barberton-tak – waaronder hokke en voertuie – is na afloop van die sluiting verlede maand deur die nasionale DBV na ander sukkelende takke versprei.

Liebenberg sê sy het intussen ’n brief aan die munisipaliteit gerig waarin sy daarop wys dat hulle voortaan dienste namens die DBV in Barberton sal moet lewer. “Of hulle dit gaan doen, is ’n ander saak.”

Dit lyk in die stadium of die Mbombela-tak gereeld die rit van byna 50 km na Barberton sal moet aanpak om pa te staan vir die dienste wat voorheen deur die plaaslike tak gelewer is.

“Arme Nelspruit,” sê Liebenberg.

Sunday Ngweya, skutassistent, en ‘n optelhond by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Barberton. (Foto: Verskaf)

Dié tak sowel as die Witrivier-tak is boonop onlangs in kennis gestel dat hul munisipale dienste opgeskort gaan word, weens wanbetaling. Dit ten spyte van ʼn ooreenkoms wat bepaal dat die munisipaliteit nie enige eiendomsbelasting, water-, riool- en elektrisiteitsverbruiksheffings sal hef op eiendomme wat die DBV gebruik nie.

Liebenberg sê sy en ander komiteelede het reeds besluit om die DBV se winkel op die dorp privaat oor te neem en dit oop te hou. Hulle beplan om die fondse wat die winkel voortaan genereer, weer terug in die gemeenskap se diere te ploeg.

“Op daardie manier gaan ons probeer om die gemeenskap steeds by te staan waar ons kan. Ons grootste bekommernis is maar die welsyn van diere in Barberton.

“Dit staan nou enige jonger mens in die gemeenskap vry om weer met ʼn diereskuiling te begin. Dié met ervaring is meer as bereid om hulle by te staan.”

Robinson sê die diens wat die Laeveld DBV namens die munisipaliteit lewer, is uiters noodsaaklik en die VF Plus sal druk op die munisipaliteit uitoefen en sorg dat die verskuldigde bedrag vereffen word en ʼn nuwe ooreenkoms gesluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Nou ly die diere ook onder die regering se onvermoë om enigiets in stand te hou.

Kokerboom ·

Dis baie sleg. Besef die land se belastingbetalers teen watter spoed die ANC besig om die land totaal te verwoes? En dit pla kaders nie..hulle kan nie iets onderhou wat hul nooi geken het!

Casper ·

Onbevoeg,ongevoelig.Wat kan jy verwag as jou slaagsyfer net 30% moet wees dan kla hulle nog oor beurtkrag vol riviere ens hoekom hulle nie kan slaag nie.Daai een belangrike tor wat ons intelligensie noem ontbreek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.