Laeveldse familie span saam vir blommeprag by funksies

Clasina Powell (78) is die familie se blommatriarg en kundige in rangskikkingskringe. Sy is ‘n beoordelaar by nasionale blomrangskikbyeenkomste en tans president van die “Kwa-Zulu Natal Association of Flower Art”. (Foto verskaf)

Blomme is die ware liefdestaal. Marilyn Monroe – die Amerikaanse blondine wat eerder diamante wou hê – sou nie hiermee saamstem nie, maar vir ʼn Laeveldse familie is blomrangskikkings vir familietroues geskenke uit die hart. Hulle rangskikkings spreek van liefde en omgee-in-aksie, van kreatiwiteit en ʼn viering soos min, skryf Sarie Marais-Nell.

Wanneer twee sussies, hul niggies en die familie se blom-matriarg saamspan en hul verbeelding vrye teuels gee, skep hulle asemrowende blomrangskikkings vir familietroues as hul geskenk aan die bruidspaar. Al moet hulle soms die blomhouers en staanders daarvoor self maak.

Alles het in 1976 begin toe Clasina Powell kort na haar seun Louis se geboorte ʼn blomrangskikkingskursus in Pretoria gedoen het. Sy het ritse pryse vir haar rangskikkings begin wen en daarna die blomme vir talle troues gedoen.

Intussen het Clasina se broer, Sallidoor du Preez van Komatipoort, al die bome wat hy op sy plaas moes uitploeg ter wille van nuwe landerye, gemerk en weggebêre. Later jare het hy tafels daarvan gemaak – erfstukke waarop hy die datum geskryf het, asook die tipe hout, botaniese boomnommer, plus die naam van die nasaat vir wie hy dit maak. Hy het ook ʼn informele, natuurlike kerkie in sy plaastuin vir familietroues gebou.

“Ons hele familie aan my pa se kant is kreatief en lief vir plante,” vertel Annalie Joubert, Sallidoor se dogter. Toe Annalie en haar sussie Elmarie Cronjé destyds in Pretoria studeer en sommige naweke by hul tant Clasina kuier, het dit vanself gebeur dat Annalie, Elmarie en Clasina se dogter Helena moes inspring en help rangskikkings maak.

“Eintlik moes almal in die nabye omgewing kom help rangskik,” onthou Clasina. “My seuns, my man John, selfs ons bure – niemand is ontsien as die tyd min raak en trourangskikkings moet klaarkom nie.”

Destyds het Clasina en die hele familie saamgewerk toe Sallidoor se dogters Annalie en Elmarie op hul Komatipoortplaas trou. “Annalie se troue was aards en pragtig,” vertel Clasina. “Ons het swartbostakke en groot maroen piesangblomme gebruik. In die natuur blom piesangblomme onderstebo, maar ons het dit omgedraai en die blare effens oopgetrek vir tafelblomme. Sallidoor het self die bruidstafel se blomme gedoen.

“Vir Elmarie se troue het Sallidoor reusagtige piesangtrosse bo-aan houtpale vasgemaak en ons het geel Vlamklimoptakke, wat ons in die veld gepluk het, daar rondom rangskik,” onthou hierdie 78-jarige wat deesdae in Durban woon.

“Nadat die familie my troue destyds help mooi maak het, was ek so dankbaar. Daarom wou ek terugploeg en help wanneer my ander neefs en niggies trou,” vertel Elmarie.

Clasina Powell se inskrywing vir “Demonstrator of the Year” by ‘n nasionale byeenkoms. (Foto verskaf)

Hierdie ingesteldheid het daartoe gelei dat Sallidoor en Clasina se kinders, en nou ook hul kleinkinders, sedertdien saamstaan en familielede se huwelike opvrolik: Gewillige hande onder Clasina se vlerk en haar visie om altyd ʼn idee groter, mooier oop te dink; plus haar haar vermoë om die Laeveld se ryke verskeidenheid subtropiese plantegroei kreatief te benut.

Deesdae kan niemand onthou hoeveel eie-neefs en niggies se troues hulle met hul persoonlike aanslag opgekikker het nie. Van die derde generasie was Annalie se dogter Anri, wat November in Mbombela (Nelspruit) getrou het, die sewende een.

Die werkverdeling het spontaan ontwikkel: Sodra ʼn nuwe bruid haar blommewens deurgee, bedink Clasina planne sodat die rangskikkings ʼn wow-faktor tot die huwelik bydra. Daarna stig hulle ʼn WhatsApp-groep en vertel mekaar hoeveel blomme en loof hul tuine teen die troudatum sal kan lewer.

Helena bereken hoeveel blomme aangekoop moet word en plaas die bestellings by die blommemark.

Die laaste week voor die troue vlieg boodskappe heen en weer, want groot houers vol blomme moet uit Elmarie en haar broer Loekie se groot plaastuine buite Komatipoort gehaal word – want nie alle troues is plaastroues nie. Helena en Clasina reis van Richardsbaai en Durban na die Laeveld toe met loof en blomme as deel van hul bagasie. Stopplekke langs pad word só beplan dat hulle nog loof en blomme kan inlaai.

“Die troues het nie regtig temas nie; eerder kleur- en blomvoorkeure,” vertel Annalie.

Een van Annalie se blomkroontjies. (Foto verskaf)

Wanneer die blomspan die dag voor die troue opdaag, weet elkeen wat haar take gaan wees. Helena verdeel die blomme sodat rangskikkers weet wat is beskikbaar per tafel, vir die bruidstafel, kerk en ingangsportaal.

Clasina maak die kerkblomme asook ʼn voorbeeld van ʼn tafelrangskikking. Almal – dit sluit nefies in, want Clasina glo almal kan blomme insteek – help met tafelrangskikkings terwyl die vierde generasie-peuters rondom hul voete speel.

Dit is harde werk, maar dis ook kuiertyd met grappies, mekaar help en dikwels nuwe planne maak.

Later sal iemand na al die tafels kyk en vinnig iets byvoeg of uithaal indien nodig. Selde raak hulle geaffronteer as ʼn rangskikking verander word. “Ons is nie kleinserig nie,” lag Clasina.

“Annalie is die blomkroontjie-koningin, sy maak ook skouer- en polsruikers. Helena is die bruidsruiker-fundi; sy en haar dogter Robin doen dikwels die bruidstafelblomme. Elmarie werk aan die groot en hoër rangskikkings.”

“Elmarie se dogter Elmè het ʼn goeie oog en wanneer ons vra of iets reg lyk, sal sy die regte antwoord hê.”

Was daar al flops? “Nee,” lag Helena. “Soms moet ons net die planne ʼn bietjie verander.”

Wat is van die belangrikste lesse wat die span blommerangskikkers al geleer het? “Begin betyds, veral omdat sommige ruikers tydrowend is,” sê Elmarie. “Moenie rangskikkings probeer perfek doen nie, uiteindelik gaan dit oor die geheelprentjie. Almal van ons plant ook deesdae meer loof en bruikbare blomme in ons tuine; dit hou die aankope-bedrag kleiner.”

Die sewe onlangse familietroues sluit in ʼn neef se klein pre-Covid-troue rondom Sallidoor se tafels plus sy ‘regte troue’; en ʼn neef wat met sy Amerikaanse bruid op die strand in Barra, Mosambiek wou trou.

“Ons moes baie items van die huis af saamry en produkte uit die omgewing gebruik: Palmtakke en lallapalmsade, groen kokosneute wat sommer daar oopgekap is vir drankies, skulpe, sushi en seekos.

Daar was ook Elmarie se dogter Elmè se plaastroue met reuserangskikkings bo-op houtstompe van verskillende hoogtes, strooibale, baie woestynrosies, orgideë – en stoetperde wat per ongeluk deur ʼn oop hek na die strooibale galop! Voordat Elmarie se broer Loekie sy Appaloosaperde met lekkernye kon weglok, kon die fotograaf lieflike foto’s teen die pragtige sonsondergang neem.”

Indien nodig sal hierdie raakvatters die onthaalkos kan voorberei; hulle bak en versier ook dikwels die troukoeke. Annalie het self die troukoeke vir haar kinders se troues gebak; hulle is twee maande uitmekaar getroud in September en November. ʼn Niggie, Cara, het die koeke versier.

“Ons volgende troue is Augustus – ons doen dit net vir familielede, kosteloos en met liefde!”

Sou Marilyn, die blonde Amerikaner met haar heserige stem, dalk met terugskoue eerder sulke familie-saamstaan en omgeeblomme bo diamante verkies het? As sy slim was – beslis!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peach ·

Baie kreatiewe familie wat die bruid’s pare seker tonne geld aan versierings spaar.

Ronél ·

Sjoe, kan nie ophou kyk nie, passie en talent in die oortreffende trap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.