Lafenis aan kus eindig tragies

NSRI Wildernis het Saterdag op twee gevalle geageer, waarvan ‘n man in die een geval vermoedelik verdrink het. Dié foto is geneem tydens ’n NSRI-optrede gistermiddag in Seepunt toe ’n swemmer uit die see gered is. Foto: NSRI

ʼn Man word ter see vermis by ʼn strand in Wildernis aan die Kaapse suidkus, terwyl ʼn toeris gered is nadat hy in dieselfde omgewing in die moeilikheid beland het.

Die NSRI se span van Wildernis en die Wes-Kaapse gesondheidsnooddienste is Saterdag 11:45 na die toneel ontbied ná berigte van ʼn verdrinking by Lientjiesklip, het die reddingsinstituut in ʼn verklaring gesê.

Die seereddingsvaartuig Clemengold Rescuer is te water gelaat en ʼn NSRI-reddingsvoertuig, ʼn metroreddingsvoertuig en die polisiediens het gereageer.

Daar gekom, het reddingsbeamptes begin soek na ʼn 26-jarige Oudtshoorniet wat ʼn uitstappie vir die dag na die kus saam met vriende en familie geniet het toe hy in die branders verdwyn het.

Ten spyte van ʼn deeglike soektog ter see en al langs die kuslyn, is geen teken nog van die man gewaar nie. ʼn Duikeenheid van die polisie het Sondag die soektog voortgesit.

In ʼn afsonderlike voorval, laat Vrydagmiddag, is die NSRI van Wildernis omstreeks 17:15 ontbied nadat berigte van iemand wat aan die verdrink was by Wildernis se hoofstrand ontvang is.

Toe die NSRI-beamptes daar aankom, het hulle gesien dat ʼn plaaslike branderplankryer, Phillip Crankshaw, ʼn Britse toeris gered het nadat hy die see ingetrek is terwyl hy geswem het. Hy is vir behandeling en waarneming na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.