Lambertsbaai-tragedie: ‘Hulle het passie gedeel’

David Smit. Foto: Facebook

David Smit. Foto: Facebook

Die vier vriende van Lambertsbaai wie se visvanguitstappie in ʼn tragedie ontaard het, het ʼn passie gedeel en amper weekliks saam gaan visvang.

Maroela Media het vroeër berig een visserman, Willem “Hottie” Pretorius, het die tragiese ongeluk oorleef. Herman “Plattie” Tolken en Hugo “Vissie” Visser se liggame is Dinsdagaand in die vlakwater gevind. David Smit (63) se liggaam word steeds gesoek.

Yan Smit, David se broer, het Donderdag aan Maroela Media gesê die familie sal eers berusting kan kry wanneer sy broer se liggaam gevind is. “Ons het Dinsdagnag tot in die vroeë oggendure met behulp van sterk flitse gesoek, maar kon niks vind nie. Gisteroggend het een polisieduiker help soek en vanoggend was daar darem twee polisieduikers,” het hy gesê.

“Wat ons eintlik dringend nodig het, is ʼn helikopter of klein vliegtuig wat met die soektog kan help. David het sy oranje reddingsbaadjie aangehad, so dalk kan ’n mens hom uit die lug uit raaksien. Ongelukkig kon ons nog niemand kry om ons hiermee te help nie.”

Herman “Plattie” Tolken. Foto: Facebook

Herman “Plattie” Tolken. Foto: Facebook

Yan het vertel dat die ongeluk nie ʼn paar honderd meter van die kus af gebeur het soos vroeër berig nie, maar dat die boot omtrent drie tot vier kilometer in die see in was. “Die ankertou het in die skroef van die boot beland en hulle kon nie gou genoeg die enjin afskakel nie, wat veroorsaak het dat die agterkant van die boot onder die water in getrek is. Nadat hulle die tou afgesny het, het die boot al meer water ingeneem totdat dit uiteindelik omgeslaan het,” het hy gesê.

Volgens Yan het al vier mans aan die boot vasgehou en die gety toegelaat om hulle nader aan die strand te bring. Toe hulle sowat 100 meter van die kus af was, het hulle besluit om die boot te los uit vrees dat die branders hulle teen die rotse sal vasslaan. “Hulle het besluit dat dit van hier af elke man op sy eie moet wees en dat hulle moet doen wat hulle kan om by die kus uit te kom. David het ʼn lang en ernstige gebed gedoen en daarna het al vier die boot gelos,” het Yan gesê.

Hugo “Vissie” Visser. Foto: Facebook

Hugo “Vissie” Visser. Foto: Facebook

“Toe Hottie uiteindelik by die kus uitkom, het hy lank daar gelê omdat hy heeltemal uitgeput was. Hy kon die boot nog so 50 meter diep in die see in sien, maar daar was geen teken van die ander drie manne nie. Hy het uiteindelik daarin geslaag om na die pad toe te strompel om hulp te kry.” Sowat ʼn uur nadat Pretorius die kus bereik het, is Tolken en Visser se liggame gevind.

Yan het vertel dat die vier mans ʼn passie vir visvang gedeel het en die afgelope twee jaar elke week ʼn paar keer saam gaan visvang het. “David was voorheen ʼn laerskoolonderwyser en het later geboer voordat hy afgetree het. Maar hy was nog altyd ʼn mense-mens. Hy sou nooit van jou af weggestap het sonder om te hoor of daar nie dalk iets is waarmee hy jou kan help of ondersteun nie. Hy was nederig en nou betrokke by die kerk. Sy vrou en twee kinders kry bitter, bitter swaar.”

Volgens Yan is Pretorius ná die ongeluk deur ʼn dokter behandel, maar nie in die hospitaal opgeneem nie. Hy is egter baie getraumatiseerd deur die gebeure. Gesie Visser, Hugo se vrou, het Donderdag ook die gebeure van die ongeluk aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê haar man se begrafnis sal Sondag plaasvind.

Tolken se begrafnis sal Saterdag gehou word. Yolandé Tolken-Burger, Tolken se dogter, het op Facebook hulde aan haar pa gebring. “Pappa, dis maar nog net ʼn klompie ure vandat Jesus jou kom haal het, maar die verlange brand so seer. Nooit sal ek Pappa se stem weer hoor of Pappa se sterk arms vir ʼn drukkie voel nie. Rus veilig en gelukkig in Jesus se arms tot ons weer ontmoet,” het sy geskryf.

Maroela Media wag steeds op kommentaar van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

TTh ·

Ai, waar was die reddingsbaadjies, ek vang self so vis en gaan nie uit sonder reddingsbaadjie nie – tragies.

Tina ·

Dit berig sê die man wat nog vermis word HET ‘ n reddingsbaadjie aangehad.

Hannelie ·

My hart gaan uit na hulle wat geliefdes verloor het en na hulle wie se pa en man nog nie gevind is nie. Julle is in ons gebede.

CC ·

Almal het reddingsbaadjies aangehad. Dit het Lambertsbaai se mense hard getref. Dink aan elke liewe familie en inwoner van lambertsbaai.

Illa ·

TTh, ek verwys na paragraaf 4: “David het sy oranje reddingsbaadjie aangehegad,…..”

Opreg jammer vir die familie. Sterkte vir almal wat deur die afsterwe van hierdie mense geraak word en ek bid saam met jul dat David gevind sal word.

Joany ·

Ja Christie, ‘n vorige berig het gesê dat hy ‘n oudpolisieman was.

JJ Fraser ·

Ja, Oom Plattie Tolken was die Stasiebevelvoeder van Lambertsbaai SAP en het in die ’90’s afgetree. Verder het visgevang en die Here gedien wat sy passie was. Ek is die susterskind van Oom Plattie. Die familie is diep getref, maar as julle iets wil uitvind, kan julle my kontak. Yan Smit se storie stem ooreen volgens gebeure, en ons het ook berusting daarby.

NEL ·

Mense ‘n hartseer dag in die lewe van Lambertsbaai. Ek sien nou eers die berug, geruk deur die skok dat die drie vriende nie meer daar is nie. Sout van die aarde en die see. Sterkte aan Yan en die res van die families.

Pieter Botes ·

Ek het Plattie baie goed geken en is baie geskok om te hoor dat so n ervare seeman verdrink het. Kan iemand my dalk se of sy vrou Anna nog lewe en hoe dit met haar gaan.

Bianca Gersbach ·

Ja Anna lewe nog. Ek verstaan dat onder omstandighede is sy ok.

Juani ·

Mnr Smit was my Wiskunde- en Wetenskap onderwyser, en sy dogter my jarelange klasmaat.Hy was ‘n wonderlike mens,en ek hoop en bid sy liggaam word gou gevind. Dit is alreeds so hartseer om ‘n geliefde aan die dood af te staan, maar as jy hulle nie tot ruste kan lê nie, weet ek nie hoe mens vrede kan maak nie.

ADRI ·

Mnr Smit was destyds my Wetenskap en Wiskunde onderwyser…ek is SO jammer vir sy gesin!! Ek sal nooit sy opgewekte en vinnige stappie vergeet nie en ook nie sy netheid nie…al ewig die kidz se siele uitgetrek!! Goeie meneer gewees!! Ek bid hul kry sy liggaam sodat sy familie behoorlik kan afskeid neem.

Tania ·

Ek dink aan almal, maar die meeste aan Ethna. Haar geliefde is soek. Hulle was so ‘n mooi voorbeeld van ware liefde. Baie baie sterkte aan haar en haar familie. Ai David dat jy op so ‘n wyse moes groet

Ursula Moolman ·

Sjoe wat n tragedie, maar vir seker het hul heengegaan op die wyse van hul geliefde passie, op die see. Mag die families en vriende berusting kry, God het besluit Sy Tyd het vir hul aangebreek.?

Marien ·

Mnr. Smit was ook my Wiskunde, Wetenskap en Lewensopvoeding onderwyser. Hy’t ons kosbare waarhede geleer in die lewe en het ons kinders altyd vriendelik en met respek behandel! Ek sal nooit die keer vergeet wat ek en ‘n ander kind gesukkel het om ‘n som te verstaan nie, en hoe hy moeite gedoen het en toe die ander kind dit verstaan, het hy in die lug in gespring en die dak geraak van opgewondenheid! Later die middag het hy my in die poskantoor raakgeloop en vinnig weer by my kom staan en nog ‘n som neergeskryf, en toe ek dit regkry, was hy weereens opgewondenheid self! So sal ek hom onthou! Vol passie vir die lewe! My hart gaan uit na Suzanne, Ryan en tannie Edna! Ek bid regtig dat hul hom sal opspoor en jul rus kan kry!

Anlie ·

‘N diepe hartseer het ons dorp getref.
Ek bid vir berusting vir een en elk geraak in die hartseer tyd

Magda Engelbrecht ·

Ons harte gaan uit na Dawid se familie. Sal nooit vergeet hoeveel hy altyd vir ons omgegee het , veral die laaste paar maande.

Magda Engelbrecht ·

In hierdie moeilike tyd vir Lambertsbaai se gemeenskap, wil ons net ons diepe medelye met Plattie Tolken, Hugo Visser en Dawid Smit se families oordra, maar dan is ons ook in ons gedagtes saam met Hottie Pretorius . Ons weet dat dit vir hom besonder moeilik moet wees.

Callie Ferreira ·

Het saam met David en Edna aan die WOK gestudeer 1972 -1974 David was n uistekende rugbyspeler wat vir Boland agsteman gespeel her. Het ook Springbokproewe gespeel in die sewentigjare. Sterkte aan Edna en die familie

Marlene Thompson (Myburgh) ·

Ek was stom van die skok toe my suster Lizette my laat weet van die tragedie. Ek is ‘n gebore Lambertsbaaier en het saam met Plattie-hulle grootgeword. Ek is so jammer, Anna en Jolandie en Plattie se broers Johan en Arrie. Sout van die aarde was hy. Seer tye vir julle almal. My innige simpatie ook aan die familie van die ander afgesterwenes.

Albert van Zyl ·

Ian jammer om te hoor van jou broer David wat heen gegaan maar net God weet wanner die tyd is.
Groete
Albert

Weezie ·

My hart gaan uit na elkeen van die families, en die visserman gemeenskap. sterkte!

Belinda Grobbelaar ·

Oom Vissie was ons “Bloed oom”. Hy het 3lke dag van Vredendal na Loeriesfontein, Calvinia en Nieuwhoutville gery om ons laboratorium monsters te haal. Ons was baie lief vir hom en báie hartseer. Sterkte vir familie. Mieta en res van personeel Loeriesfontein Kliniek,

Tobie van der Spuy ·

Yan, my innige simpatie met die verlies van jou broer, so ook my simpatie aan die naasbestaandes van die res van die manne wat hul lewens op so ‘n tragiese manier verloor het, laat ons asseblief nie oordeel oor wat kon gedoen wees of nie gedoen is nie, as dit ons Hemelse Vader se doel was om hul op hierdie wyse te kom haal, wie is ons om te oordeel. Sterkte aan al die families in hierdie tydperk van rou en ons bid dat julle berusting sal vind. RIV

Tier Muller ·

Wat n skok .Ek is laat Kom nie meer op FB nie maar vandag het iets my gedryf. Hy was my klasmaat, tydgenood en goeie vriend. Ek bid vir berusting vir sy familie al ken ek hulle nie. My hart is daar waar oneindige pyn nou is—ook vir ander wat betrokke is. Ek is leeg, weet nie wat om te se nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.