‘Lammie kan nie nou geskuif word’

Lammie, die Johannesburgse Dieretuin se olifantkoei, in gelukkiger tye. Foto: Youtube.com

Dit sal kortsigtig wees om Lammie, die 39-jarige olifantkoei van die Johannesburgse Dieretuin, te skuif terwyl sy nog rou oor die dood van haar maat.

Jenny Moodley, woordvoerder vir dié dieretuin, het aan Maroela Media gesê hulle waardeer dit dat die publiek soveel belangstelling in Lammie se welstand toon.

Sy het verwys na die betogers wat Donderdag by die Johannesburgse Dieretuin se Jan Smuts-ingang bymekaar gekom en daarop aangedring het dat die olifant vrygelaat moet word.

“Lammie is beslis in ʼn roufase en dit gaan eintlik tans nie so goed met haar nie. Ons pleit by die publiek om ons genoeg tyd te gee om haar ten volle te evalueer. Eers dan kan ʼn besluit geneem word oor wat haar toekoms inhou, en dit sluit die besluit in om haar in die natuur te hervestig.”

lammie-bds-south-africa

‘n Betoging is Donderdag buite die Johannesburgse Dieretuin gehou waartydens daar gevra is dat Lammie, die olifantkoei, vrygelaat moet word. Foto: BDS South Africa/Facebook.

Moodley het bygevoeg dit is algemeen bekend dat olifante ʼn soortgelyke gevoel van verlies ervaar as mense wanneer ʼn geliefde sterf.

Lammie se maat, ʼn 35-jarige olifantbul genaamd Kinkel, is vroeër vandeesmaand onverwags dood. Hy het skielik siek geword en dadelik mediese behandeling ontvang, maar is ʼn dag later dood. Kinkel het gesukkel met koliek.

Maroela Media het berig dat talle omgewingsregteorganisasies Donderdag ʼn wettige betoging gehou het in ʼn poging om die dieretuin te oorreed om Lammie na ʼn wildreservaat te skuif waar sy vrylik kan rondbeweeg en met ander olifante kan omgaan.

Die EMS-stigting, ʼn organisasie wat aan bewaring toegewyd is, het aangebied om ʼn geskikte blyplek vir Lammie te vind en al die koste vir haar hervestiging te dek.

Lammie is in die Johannesburgse Dieretuin gebore en haar ma en pa, Dolly en Jumbo, is in die 1970’s in dieselfde dieretuin aangehou. Hulle is later ʼn jaar ná mekaar dood. Lammie se broer, wat ook in die dieretuin gebore is, is kort nadat hy aan ʼn Franse dieretuin verkoop is, dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

leser ·

ek hoop regtig dat daar ‘n goeie besluit gaan wees oor lammie

Nita ·

As julle nou vir Lammie wil doodhe, skuif haar. Wat moet sy tussen al daai vreemdelinge gaan doen. Haar mensvriende moet haar nou bystaan en baie vir haar gaan kuier en met haar gesels.

Theo Visser ·

‘n Olifant wat in gevangeniskap gebore is,pas nie noodwendig maklik aan tussen ander olifante nie.Gee die kenners kans om die besluit na goeie oorweging te neem sonder druk.

Abe ·

Theo,
Ek stem saam. Trouens, ek dink dis onwaarskynlik dat sy nou sal reg optree tussen vreemde olifante en hulle sal haar nie aanvaar nie. Moet haar asb. nie skuif nie.

Mrs H ·

Koop haar boetie terug?! Spandeer eerder dan die geld om haar boetie weer by haar te he asb

Nikita ·

Ai jinne, dit is baie hartseer. Kan glo did n moeilike besluit. Ons vertrou die kenners in die saak, julle ken vir Lammie, doen asb wat die beste vir haar is. Ons bid vir haar en hou styf duimvas. Baie sterkte.

Elsa ·

Siestog, dis darem maar tragies om te dink ‘n olifant is in ‘n dieretuin gebore en het vir 39 jaar lank nog nooit vrylik in die natuur kon lewe nie. Hoe traumaties sal so ‘n skuif wees en om vir die eerste keer tussen ‘n trop vreemde olifante te moet lewe? Ek hoop haar huidige toestand verbeter en dat die regte besluite vir haar geneem sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.