Lamoer se verhoor uitgestel

Lt.genl. Arno Lamoer. Foto: www.defenceweb.co.za

Die saak teen die voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Arno Lamoer, vir beweerde bedrog van R1,6 miljoen, is Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgestel.

Lamoer, drie brigadiers en ʼn sakeman staan tereg op meer as ʼn honderd aanklagte van bedrog, geldwassery en rampokkery.

Lamoer, Darius van der Ross, Sharon Govender en haar man, Colin Govender, en die Kaapstadse sakeman Mohamed Saleem Dawjee het vlugtig voor regter Rosheni Allie verskyn.

Allie het gesê daar is voor die aanvang van die verhoor in haar kamers op die uitstel besluit.

Colin Govender se prokureur het aan die hof gesê probleme met finansiële instruksies sal teen volgende Maandag opgelos wees.

Allie het gesê ʼn advokaat wat onlangs vir drie van die beskuldigdes aangestel is, benodig tyd om alle dokumentasie na te gaan om hom van die saak te vergewis. Allie het die saak tot 24 April uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Lamoer staan tereg op agt aanklagte van korrupsie nadat hy na bewering geld in sy bankrekening ontvang het en sy klererekening en sekere vakansieakkommodasie deur Dawjee laat betaal het. Hy het ook glo sy private voertuig deur Dawjee laat herstel in ruil vir onwettige gunste. Twee van die aanklagte teen hom het betrekking op sy betrokkenheid by ʼn misdaadsindikaat.

Dawjee besit ʼn hele aantal ondernemings, insluitend Towbars Cape en Towbars King en het volgens die staat ʼn reeks belonings van senior polisiebeamptes in die provinsie ontvang.

Dawjee was glo die middelpunt van ʼn web van beweerde korrupsie en rampokkery wat kontant en duur geskenke aan Lamoer en lede van die topbestuur ingesluit het om sodoende invloed in polisiekringe te koop en gunste van sy medebeskuldigdes te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shrek ·

Ja die arme land is in n staan van vervale – dit gebeur wanneer ‘individuals’ te lank in poste sit veral in veiligheids poste en werk waar hulle op gegroei het en werk verplaas hulle na ander provinsies dieselfde sal gebeur met die provisiale verkeer wag en kyk

Zoro ·

Ek stem volkome saam Shrek gereelde verplasings van senior amptenare sal verhoed dat die misbruik van magte plaas vind . Gemaak sone dis waar

MANIE ·

Bestaan daar nie meer so iets soos n eerlike polisiehoof. Ek kry die gevoel dat die tendens begin het met die sogenaamde nuwe S.A. Kyk net hoeveel hoofde word ondersoek. Dit is skandelik hoe die polisie hoofde hulle deesdae gedra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.