Lance James, country-koning van Suid-Afrika, is Maandagoggend in die ouderdom van 81 oorlede.
James is Maandag om en by 11:30 in ʼn hospitaal in Johannesburg dood met sy dogter, skoonseun en vriendin by hom, het Lydia Winchester, James se agent van die afgelope 35 jaar, aan Maroela Media bevestig.
James was die afgelope sewe weke in die hospitaal. Maroela Media het vroeër berig James is met hartprobleme opgeneem. Hy het kort daarna ʼn terugslag beleef nadat hy in die hospitaal geval en sy heup gebreek het. Hy het ʼn noodheupvervanging ondergaan en ook gesukkel met ʼn hardnekkige infeksie ná die operasie.
Winchester sê sy is nog nie seker wat gebeur het nie, maar dat sy aanneem James se liggaam het ingegee ná ʼn strawwe sewe weke se siekbed.
“Ek was gister by hom in die hospitaal en toe kon ek sien dit is die einde. Hy kon nie praat nie en dit het my baie ontstel.
“Ek is emosioneel, my selfoon hou nie op lui nie, so dit is moeilik. Maar hy het ’n goeie lewe gehad. Hy was een van ons land se top-kunstenaars en die grootste gentleman wat die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nog opgelewer het.”
Sy dogter Chanel en kleinseun Tyron het intussen uit Londen in die land aangekom om saam met James se uitgebreide familie te wees.
James het diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap met sy country-musiek en hy was radio-omroeper by Springbok Radio van 1954 tot 1985. Van sy grootste treffers sluit in “Dankie”, “Vicki” en “Ahoy, Madagaskar Ahoy!”.
By Huisgenoot se 2009-Skouspel is hy vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek vereer en het ook in 2019 soortgelyke erkenning van die FAK ontvang.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Baie hartseer nuus, hy was altyd so vriendelik en hoflik met ons. A real gentleman. RIV Oom Lance
“Dankie vir hierdie mooie lewe,
dankie vir hierdie ouderdom!
Dankie dat U oor hom gewaak het,
hy’t nou na U gekom!
“DANKIE” Liewe Lance James, jy het soveel vreugde met jou musiek gebring…..
RIV… Legende!
Rus in vrede Big Daddy. Jy het vir baie vermaak gesorg..