Land se ‘ergste’ reeksverkragter kry swaar straf

Argieffoto.

ʼn 29-jarige man wat deur die polisie as die ergste reeksverkragter in die land bestempel word, is Vrydag in die Grahamstad-hooggeregshof in die Oos-Kaap gevonnis.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het gesê die verkragter, Lonwabo Solontsi, se vonnis volg nadat hy vroeër in dieselfde hof skuldig bevind is aan 39 aanklagte van verkragting, sewe aanklagte van roof, 14 aanklagte van roof met verswarende omstandighede, vier aanklagte van huisbraak met die opset om te verkrag en drie aanklagte van huisbraak met die opset om te verkrag en te roof.

“Die misdrywe het tussen November 2010 en Julie 2015 plaasgevind en die sake strek oor drie provinsies – die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Noordwes,” het Govender gesê.

“Sy slagoffers was uitsluitlik meisies en vroue tussen 11 en 46 jaar oud.”

Regter Thamie Beshe het in haar vonnisoplegging die ondersoekspan geloof vir hul toewyding tot die ondersoek en koördinering van DNS-bewyse.

Beshe het gesê sy sou Solontsi 12 lewenslange vonnisse met ʼn totaal van 706 jaar tronkstraf kon oplê, maar het hom egter vir ʼn onbepaalde tyd tronk toe gestuur.

“Hy word as ʼn gevaarlike krimineel verklaar en word vir ʼn onbepaalde tydperk gevangenisstraf opgelê. Ingevolge artikel 286 (B)(2) moet hy weer ná ʼn periode van 25 jaar se tronkstraf voor die hof gebring word sodat sy vonnis heroorweeg kan word.”

Die beskuldigde se aansoek om verlof tot appèl is geweier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Handeklap en goedkeurende knip vir Thamie Beshe met afkeurende kyk na (meeste van) die res.

PJC ·

Daar is baie misdadigers in hierdie land wat ń soortgelyke vonnis verdien. Ongelukkig versuim die meeste howe om hierdie straf op te lê.

Manie Strydom ·

En volgende jaar kry hy amnestie omrede die tronke oorvol is en daar word nie nuwes gebou nie maar die bevolking vermeerder.

Sarel ·

Ons ” beskaafde” wereld. Hoe kan enige persoon nog twyfel oor die doodstraf?

Susan ·

Sa is nie meer n beskaafde land nie dit het n welsyn staat geword waar daar nie eers meer respek vir die dooies is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.