Land se hoogste eer aan Sandra Prinsloo toegeken

Sandra Prinsloo Foto: Facebook

Sandra Prinsloo Foto: Facebook

Die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo ontvang Sondag ʼn Nasionale Orde van pres. Jacob Zuma, die hoogste toekenning in Suid-Afrika.

Zuma gaan op 27 April, Vryheidsdag, Nasionale Ordes aan ʼn uitgesoekte groepie mense oorhandig. Prinsloo ontvang die Orde van Ikhamanga (silwer) vir haar uitsonderlike bydrae tot die kunste en die standpunt wat sy teen rassisme ingeneem het.

“Soos ek hier sit is dit nog nie heeltemal ʼn realiteit nie,” het Prinsloo Saterdag aan Maroela Media gesê. “Dit is ʼn geweldige groot eer. Natuurlik is dit wonderlik want dit is die hoogste verering wat jy kan kry van jou land af.”

Sy sê dit is vir haar ook wonderlik ná al die negatiewe publisiteit wat sy jare gelede ontvang het toe sy Miss Julie saam met John Kani opgevoer het. Prinsloo en Kani het in 1985 ʼn opskudding veroorsaak met dié verhoogstuk. Sy het die rol van ʼn wit vrou vertolk wat ʼn swart man verlei het. Die gehoor het verskrik uitgestap in dié opvoering waar ʼn swart man ʼn wit vrou vir die eerste keer op ʼn verhoog gesoen het.

“Wat mense van my gesê het en briewe wat hulle vir my geskryf het en so, dit is asof dit nou vol sirkel gekom het,” sê Prinsloo. “Dis lekker dat daar erkenning is vir werk wat mense destyds verskriklik aanstoot gegee het.”

Natalie du Toit, Gary Player, André P. Brink, Ingrid Jonker en Alan Paton is van die persone wat in die verlede al hierdie toekenning ontvang het.

Die bekende akteur Danny Glover van Amerika ontvang Sondag ‘n silwer Orde van die Kamerade van OR Tambo vir sy uitsonderlike bydrae tot die anti-apartheidsbeweging in Amerika en dat hy sy kunsvorm gebruik om internasionaal bewustheid te skep oor die ongeregtigheid van apartheid.

Die “ou Suid-Afrikaanse” Ordes het vir ʼn paar jaar lank behoue gebly ná 1994. Die sporttoekennings is egter dadelik vervang. ʼn Nuwe reeks ordes is in 2002 ingestel, as deel van die proses om nuwe nasionale simbole te skep. Die huidige burgerordes is die presidensiële sporttoekenning, en die Ordes van Kremetart (demokrasie, menseregte, kuns en wetenskap en gemeenskapsdiens); Ikhamanga (kuns, kultuur, literatuur, musiek, joernalistiek en sport); Luthuli (struggle vir demokrasie, menseregte, nasiebou, geregtigheid, vrede en konflikoplossing); Mapungubwe (uitsonderlike prestasie); Mendi (uitsonderlike daad van dapperheid); en Kamerade van OR Tambo (vir staatshoofde en senior diplomate vir hul vriendskap teenoor Suid-Afrika).

Die persone wat Sondag toekennings ontvang is soos volg (klik hier vir meer inligting):

Orde van Mendi (dapperheid):
Elizabeth Barrett
Russell Maphanga
Indres Elatchininathan Naidoo
Shirish Nanabhai
Reggie Vandeyar

Orde van Ikhamanga:
Mokgadi Caster Semenya
Cameron van der Burgh
Rashid Lombard
Lindiwe Mabuza
Fanie van der Merwe
Zanemvula Kizito Gatyeni “Zakes” Mda
Victor “Bra Vic” Mheli Ntoni (postuum)
Sandra Prinsloo
Lucas Sithole
Ephraim Matsilele “Jomo” Sono

Orde van Kremetart:
Tshepo Thobakgale Khumbane
Abraham September (postuum)
Raymond Ackerman
Chris Ball
Alexander Boraine
Katrina Esau
Dawid Kruiper (postuum)
Frederick Van Zyl Slabbert (postuum)

Orde van Luthuli:
Mittah Seperepere (postuum)
Abdhulhay Jassat
Wolfie Kodesh (postuum)
Vader Simangaliso Mkhatshwa
Popo Molefe
Zephania Lekwame Mothopeng (postuum)
Agnes Msimang
Jeanette Schoon (postuum)
Zola Sidney Themba Skweyiya
Frances Baard
David Wilcox Hlahane Bopape (postuum)
Ruth First (postuum)
Abdullah Haron (postuum)
Sir Bob Hepple
Florence Matomela (postuum)

Orde van Mapungubwe:
Dr Namrita Lall
Professor Ismail Mohamed (postuum)
Professor Simon Hendrik Schaaf
Professor Barry David Schoub
Dr William Soga (postuum)

Orde van die Kamerade van OR Tambo:
Lord Richard Samuel Attenborough (Verenigde Koninkryk)
Professor Gwendolen Margaret Carter (postuum)
Jeanne Martin Cissé
Jerry David Dammers (Verenigde Koninkryk)
Danny Glover (VSA)
Quincy Delight Jones (VSA)
Thomas Karis (VSA)
Lord Neil Kinnock (Verenigde Koninkryk)
Alexander Moumbaris (Frankryk)
Ruth Neto (Angola)
Alfre Woodard (VSA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Deon ·

Orde van Communistae aan J Zuma vir die suksesvolle onderdrukking van minderheidsregte en selfbeskikking in samewerking met die verligte aksie groep.

Cobus ·

Sandra, wat van die volgende fotosessie met ‘n paar mooi sandaaltjies aan wat die prentjie perfek sal afrond?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.