Land se taaiste brandbestryders gekroon

Baigum Abrahams van Stad Kaapstad (links) en Emile Conrad van die Eden-distrik (Tuinroete) (Foto verskaf)

Brandbestryders van oor die land het die afgelope naweek aan die “Toughest Firefighter Alive”-kompetisie in Kaapstad deelgeneem.

Altesaam 106 brandbestryders het aan dié twee dag lange kompetisie by die Roelandstraat-brandweerstasie deelgeneem. Dit is die sesde keer dat dié kompetisie aangebied word.

Emile Conrad van Eden-distrik (Tuinroete) het vir die vyfde agtereenvolgende jaar die kroon gedra. Stad Kaapstad se Baigum Abrahams het die vroue-kategorie vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen.

“Brandbestryding is fisies uitdagend en die kompetisie toets elke aspek wat daagliks van hulle vereis word,” het JP Smith, Kaapstad se burgemeesterslid van veiligheid en sekuriteit, gesê. “Suid-Afrikaanse brandbestryders kan met die beste in die wêreld meeding en hulle het hul al internasionaal ook bewys. Mens moet reeds taai wees om ʼn brandbestryder te wees, en daarom is daar geen verloorders nie. Baie geluk aan Emile en veral ons eie Baigum wat stof in die ander se oë geskop het.”

Brandbestryders se fiksheid, uithouvermoë en vaardigheid is getoets en hulle moes ʼn aantal uitdagings voltooi in volledige brandbestrydingstoerusting – insluitend om ʼn brandweerslang te sleep, ʼn hindernisbaan te oorkom, om teen ʼn toring uit te klim en 800 m te hardloop.

“Die doel van die kompetisie is om ʼn gees van uitnemendheid te bou en brandbestryders te bou wat in die internasionale arena kan deelneem. Om hulle vaardighede te bou en seker te maak hulle presteer tot die beste van hul vermoë.”

Hope, die pienk brandweerwa

Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens het ook ʼn inisiatief aangekondig om die Sunflower-stigting te ondersteun wat pasiënte bystaan wat met kanker gediagnoseer is. “Om ondersteuning te verskaf en lig te werp op die goeie werk wat deur die stigting gedoen word, het ons ʼn pienk brandweerwa bekom wat ʼn simbool van hoop sal wees vir diegene wat met lewensbedreigende siektes gediagnoseer is, en ʼn aanmoediging vir persone wat die inisiatiewe ondersteun,” het Smith verduidelik.

Die pienk brandweerwa, genaamd “Hope”, verteenwoordig vroue en kinders en is ʼn opgeknapte Ford FMC. Hope is die eerste pienk brandweerwa in die vloot en die eerste in die land. “Hope is ʼn akroniem vir ‘Helping Our People Everywhere” en sal vanaf Wynberg-brandweerstasie bedryf word.”

Hope sal hoofsaaklik gebruik word vir die “Reach for a dream”-projekte, besoeke aan kinderhospitale, bewusmakingsveldtogte van terminale siektes soos kanker, en veldtogte om skoliere bewus te maak oor die belangrikheid daarvan om gesond te leef en die risikofaktore van kanker.

Die Pink Drive is ʼn organisasie wat individue wil bewus maak oor die voorkoming van bors-, servikale-, prostaat- en testikulêre kanker.

“Hope moet nie verwar word met ʼn voertuig wat op noodgevalle reageer nie en sal slegs gebruik word vir bewusmakingsveldtogte. Ons glo dat Hope almal sal bemoedig as hulle haar in die straat sien,” het Smith bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerhardt ·

Publiseee asb die volledige uitslae. Dit gaan meer oor net n mans en vrouens wenner. Daar was spanne van oor die hele land en hulle verdien ook melding.

sannie ·

Haal my hoed af vir dié mense. So jammer vir die negatiewe kommentaar hierbo. Brand is VREESLIK

JohanR ·

Het groot respek vir die manne en vroue. Hoekom word die volgende kompetisie nie voor die publiek gehou nie? Miskien in die Waterfront of Kaapstad-Stadion. Ek is seker dit sal die publiek nader trek.

Herman Goosen ·

Jammerte dat die goeies so dikwels deur slegre lui adminustreerdes lamgeĺê word. Ek het so drie jaar gelede ‘n brand in ‘n kompleks aangemeld. Na die derde oproep het die Roodepoortse brandweer nog nie opgedaag nie en die ontvangsdame die laaste oproep afgesny

Annette ·

Baie geluk aan die wenners met hierdie puik prestasie. Ook aan elke span wat deelgeneem het. Julle is baie spesiale manne en vroue!

Annette ·

Baie geluk aan die wenners! Ook aan al die spanne wat deelgeneem het. Julle is spesiale manne en vroue. Ek dra die `Fireman’s prayer’ aan elkeen van julle op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.