Landbank boer steeds agteruit

Hoewel die komitee die behoefte benadruk het vir finansiering aan ontluikende boere, is dit steeds die Landbank se plig om kommersiële boere ook te finansier. (Foto: Maroela Media)

Hernieude pogings word aangewend om die beleërde Landbank van algehele ineenstorting te red.

Die sukkelende staatsinstelling het vir die derde agtereenvolgende jaar ʼn verlies getoon – vanjaar minstens ʼn kleiner verlies as die vorige jare. Bankhoof Ayanda Kanana het Dinsdag ʼn voorlegging aan die parlement se staande komitee oor toewysings gedoen wat wys dat die bank steeds agteruit boer.

Die bank verwag om in die huidige boekjaar ʼn verlies van R1,06 miljard te ly, ʼn daling van die verlies van R1,3 miljard wat hy ʼn jaar tevore gely het. Boonop verwag die bank om tot in die 2023-’24-boekjaar verdere verliese aan te teken.

Een van die grootste gevare is dat die bank nie sy steun aan die landbousektor sal kan voortsit nie.

Die Landbank het verlede jaar ʼn reddingsboei van R3 miljard van die staat gekry en verwag dat ʼn verdere toewysing van R7 miljard in die nuwe begroting gedoen gaan word.

Die bank het in April verlede jaar versuim om sekere van sy betalings te doen en dit het ʼn rimpeluitwerking op die res van sy lenings gehad. Onderhandelings met krediteure het in Mei verlede jaar begin en duur steeds voort.

Kanana sê ingevolge die omkeerplan moet die bank uit sy huidige skuldgat gekry word, die terugbetaling van lenings aan die bank moet ingevolge ʼn bekostigbare terugbetalingsplan gedoen word en die bank moet toegelaat word om so ver moontlik met sy normale bedrywighede voort te gaan.

Die bank kan tans egter geen nuwe finansiering van buite bekom nie en sal dit eers kan doen sodra sy wanbetalingstatus opgehef word. Die bank sê omdat daar soveel wanbetaling is met lenings wat hy toegeken het, was hy self nie meer in staat om sy krediteure terug te betaal nie en is sy kredietprofiel afgegradeer.

Volgens Kanana het die instelling se likiditeitsprobleme ʼn beduidende uitwerking op die landbousektor, met die bank wat altesame 28% van die bedryf se skuld dra.

“Die bank het nie die likiditeit om die landbousektor ten volle met sy finansieringsvereistes by te staan nie, terwyl daar ʼn groot behoefte aan finansiering in die plantsiklus is.”

S’fiso Buthelezi, voorsitter van die toewysingskomitee, sê toewysings van miljarde rande is aan die bank gedoen weens sy rol om voedselsekerheid te verseker en om sy bydrae tot die stimulering van die ekonomie en steun aan ontwikkeling en transformasie vol te hou.

Hy sê die komitee moet bepaal of die bank steeds dié rol kan vervul.

Buthelezi sê Kanana se voorlegging dui op ʼn bank wat deurspek is van wanbetaling, toenemende waardedaling, laste en verliese op sy skuldboek. Dit het gelei tot die groot likiditeitsprobleme en ʼn behoefte vir die bank om sy skuldboek en operasionele strategie aan te pas.

Kanana sê bank se oorlewing berus op sy herstruktureringsproses, ook die herstrukturering van sy skuldboek, sowel as interne ouditbeheer om sy finansiële posisie te verbeter.

In ʼn poging om dit te doen, stel die bank voor dat sy bedrywighede in twee sakeafdelings opgedeel word: ʼn Korporatiewe en kommersiële onderneming waarvan die kontantopbrengs gebruik sal word om kommersiële lenings terug te betaal en wat later afgewentel sal word, asook ʼn ontwikkeling- en transformasie-onderneming wat die grondslag sal wees vir die hervestiging van die bank se ontwikkeling- en transformasiemandaat.

Buthelezi sê hoewel die komitee die behoefte benadruk het vir finansiering aan ontluikende boere, is dit steeds die Landbank se plig om kommersiële boere ook te finansier.

Hy het ook ʼn beroep op die nasionale tesourie gedoen om sy pligte na te kom.

“Daar moet ʼn spesiale fokus op die Landbank wees. Indien nie, sal ons nie voedselsekerheid hê nie en die land sal honger ly. Kom ons maak seker die bank slaag in al sy projekte. Daar is baie op die spel,” sê Buthelezi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries ·

“Wanbetalings van lenings toegestaan” – Ek herhaal my kommentaar van verlede jaar – n Landbank lening is aan n naaldwerkster, in my vrou se diens, toegestaan . Dit is vir my duister hoe sy vir n lening by Landbank gekwalifiseer het. Sy het die geld gebruik om lenings aan aan haar vriende te doen. Die lening van Landbank is nooit terug betaal nie. Is ons dan verbaas dat Landbank verliese toon.

absoluut ·

Soos ons die anc ken, wanaanwending van vondse en geldverduistering waarmee daar niks fout is nie. En dit is ook n groot rede vir kommer omdat die geld nie gaan om die regte mense te help wat kos voorsien aan ons bevolking nie

Willem ·

Wat is nié deurgetrek nie? Die kaders van die ANC is nie bevoeg om ‘n stalletjie op die sypaadjie te bedryf nie maar hier word alweer van miljarde (!) Rand gepraat. Die Kaap moet afstig en gou ook. capexit.org

andre ·

BEE aanstellings het n besliste rol gespeel. Miskien help n naamsverandering na n Afrika naam !

Pieter9 ·

Persoonlike ondervind; personeel kan nie finansiele state kan lees nie (ontleed) eindelose lys van forms wat voltooi word en dan maande neem om terugvoering te gee… dan sien jy hulle het niks gelees wat gestuur is. Verstaan nie risiko nie en more is nog ‘n dag aanslag sal die Landbank nog’ n slagoffer van onbevoegdheid word.

Ian ·

Begin by die woor transformasie saam met dit kom wanbetalings. Jy kannie nie mense as gevolg van ras net lenings gee nie. Dit is nie transformasie nie dit word sommer net rassisme genoem. So nou maak die bank toe want dit kan nie werk as jy wil transfoemeer die heeltyd nie.

annie ·

Europese lande se linies lê seker al gereed vir oorlog oor daai 20 pragtige koppe blaarslaai wat SA dalk een keer per jaar uitvoer… Oeste vanaf ‘n regstellende-aksie-groenteplaas. Trots geborg deur die Landbank. €500 per kop. Gereed? Vuur!

Andrew ·

Duidelik sê sy dat ontwikkeling-tranformasiemandaat nie die mas op kom nie en nou moet die besigheid in twee gedeel word, moontlik om van die skuld las ontlae te raak. Sy will dus nuwe lenings aan weet nie wat se kommesielle boere gee nie , en dan uit hulle rente en hoe bank kostes die agter stallige gelde terug betaal. En dan as die nuwe suksesvolle boere die skuld terug betaal het, of die eerste been gelikwideer is, dan kan hulle weer die ontwikkeling-tranformasiemandaat toepas met al die nuwe gelde wat hulle gaan ontvang van die weet nie wie kommesiele boere. Ek het n idee n paar broedebond agri maatskappye gaan net nog n klein boere uitkoop met die nuwe bee gelde wat op die tafel gaan wees en sodoende die plattelandse gemeeskap net al meer vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.