Landbank kry nuwe finansieshoof

Argieffoto

Die Landbank het Donderdag die hoof van sy interne oudit, Yatheen Ramrup, as waarnemende finansiële hoof aangestel om Konehali Gugushe te ondersteun in haar amp as waarnemende uitvoerende hoof.

Dit kom nadat Gugushe Dinsdag in die toppos by die Landbank aangestel is nadat Bennie van Rooy sy bedanking ingedien het om persoonlike belange na te jaag.

Ramrup is ʼn geoktrooieerde rekenmeester wat sy leerkontrak by Ernst & Young voltooi het en uitgebreide ervaring in finansiële dienste het met bestuursposisies by Nedbank, Standard Bank en Ubank op sy CV.

Gugushe, wat voorheen waarnemende finansiële hoof was, is in waarnemende hoedanigheid as uitvoerende hoof aangestel totdat ʼn permanente aanstelling gemaak kan word. Volgens Landbank sal Van Rooy en Gugushe oor die volgende maand saamwerk om te verseker dat ʼn gladde oorskakeling kan geskied.

Die raad van Landbank het die bank verseker van sy ondersteuning tydens hierdie tydperk van verandering en het Gugushe en die res van die bestuur sterkte toegewens om die bank in die rigting van sy doelwitte te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.