‘Landbank moet boere eerder bystaan’

Die onlangse voorval het ʼn soeklig laat val op die beweerde intimidasietaktiek wat die Landbank en sekere van sy agente glo gebruik om boere wat die afgelope paar jaar in die moeilikheid beland het, van hul plase af te kry. (Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die DA wil in ʼn skriftelike navraag van Enoch Godongwana, die minister van finansies, weet presies hoeveel plase reeds weens wanbetaling of gedeeltelike wanbetaling deur die Landbank, Afgri, Unigro, Obaro of die Suid-Wes-Koöperasie teruggeneem is.

Willie Aucamp, ʼn DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) en lid van die gekoste komitee oor finansies – waaronder die Landbank val – wil ook by die minister weet wat die waardasies van elk van dié plase was, wat die bedrag van die leningsverband was asook die prys waarteen die grond eindelik verkoop is.

Benewens hierdie vrae wil Aucamp ook weet wie die prokureurs is wat die Landbank aangestel het om die sake namens hom te hanteer, wie die kurators is vir elke gelikwideerde boedel sowel as wie die eiendomsagentskap of afslaer was wat die verkoop behartig het.

Godongwana moet nog op die vrae reageer.

ʼn Herrie woed nadat veiligheidswagte – glo in opdrag van die prokureursfirma Strydom & Bredenkamp Ingelyf, wat deur die Landbank aangewys is – vroeër op ʼn verkeerde plaas in die Noord-Kaap ontplooi is om dit ingevolge ʼn sekwestrasieproses te beveilig. Die wagte het glo selfs ʼn venster gebreek om toegang tot die huis te kry, maar moes eintlik op ʼn plaas van Carel van der Merwe, ʼn ander boer van die distrik, se plaas gewees het.

Hulle het daarna in groot getalle op Van der Merwe se plaas toegesak om op sekere van sy bates beslag te lê. Van der Merwe het reeds aansoek gedoen vir sakeredding, terwyl hy ook die bevel om likwidasie teenstaan.

Die voorval het ʼn soeklig laat val op die beweerde intimidasietaktiek wat die Landbank en sekere van sy agente glo gebruik om boere wat die afgelope paar jaar in die moeilikheid beland het, van hul plase af te kry.

Die DA sê boere, wat nie net onder ʼn droogte nie, maar in sommige gebiede ook ʼn sprinkaanplaag, brande en oorstromings deurgeloop het, moet in hierdie tyd eerder bygestaan word.

Die boer verskaf werk, voedselsekerheid. Hy moet in ʼn posisie geplaas word om sy lening terug te betaal.

Aucamp sê dit gaan nie hier oor die reg van die Landbank om ʼn plaas op te eis nie.

“Die vraag is of dit die regte ding is om te doen. Pleks van opeis en likwideer moet die Landbank en boere saam sit om die herstrukturering van lenings te doen.”

Bewerings ondersoek

Terwyl die storm steeds woed, het Rebecca Phalatse, woordvoerder van die Landbank, Maandagoggend net gesê ʼn deeglike ondersoek na die bewerings word gedoen en wanneer dit afgehandel is, sal die instelling in ʼn posisie wees om meer omvattend kommentaar te lewer. Sy wou nie enige verdere kommentaar op die bewerings van boelietaktiek en intimidasie lewer nie.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê dié organisasie raak wel bewus van kliënte van die Landbank wat voel dat die bank se regslui “boelietaktiek” gebruik om druk te plaas op desperate kliënte wat finansieel onder druk is.

Jansen waarsku dat dit nie bydra tot stabiliteit in die landbou en die behoud en uitbreiding van eiendomswaarde nie. Hy het ʼn beroep op boere gedoen wat ʼn soortgelyke ervaring gehad het om hom te kontak en van skriftelike bewyse te voorsien.

“Agri Noord-Kaap sal waar nodig ook Agri SA betrek om hierdie boere by te staan deur direk met die Landbank die saak op te neem en reg te stel. Die Landbank het Agri SA die versekering gegee dat hy verbind is tot landboufinansiering en uitbreiding van die sektor.

“Dit strook nie met ervarings van sogenaamde boelietaktiek nie en moet met gesprekvoering, onderhandeling en bewyse reggestel word. Agri SA en sy strukture is geposisioneer, gewillig en het die kapasiteit om lede in die verband by te staan,” sê Jansen.

Die organisasie het ook sy teleurstelling te kenne gegee in die veiligheidsmaatskappy wat namens die kurators op ʼn verkeerde plaas opgedaag het. “Dit het daartoe gelei dat die gemeenskap ontsenu is en verwarrende reaksie en gevolgtrekkinge aangewakker het. Waar die wagte buite hul mandaat en opdrag opgetree het, moet die gereg sy gang gaan,” sê Jansen.

Hy sê die betrokke veiligheidsmaatskappy, Salutem Sekuriteit, het ʼn fout begaan, en behoort die gemeenskap en die eienaar van die grond skriftelik om verskoning te vra.

Jansen sê egter dit is onwaar dat die Landbank boere van hul grond verdryf deur van voormalige 32 Bataljon se soldate gebruik te maak. “Agri Noord-Kaap het die feite aangaande die situasie geverifieer met die provinsiale polisie, die Landbank, Salutem Sekuriteit asook die prokureursfirma, Strydom & Bredenkamp Ingelyf, wat namens die Landbank optree.

“Agri Noord-Kaap het ʼn lang verbintenis met die Landbank en ʼn oop kommunikasiekanaal met die instansie. Die Landbank is ʼn kern rolspeler binne landboufinansiering en het ʼn groot aandeel in die groei en uitbreiding van die landbousektor in die Noord-Kaap. Die ongegronde negatiewe publisiteit rondom die Landbank dra nie by tot verbeterde landboufinansiering vir die sektor wat broodnodig is ná die nege jaar lange droogte wat die Noord-Kaap moes deurstaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Kan net van ‘our people’ dot verwag. Geen empatie nie.

Anel

My oupa het altyd gesê” waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie”. Waarom sou die boere dan nou eweskielik so ‘n storie opmaak? Ons weet mos almal hoe die ANC te werk gaan! As jy nie vrywillig iets wil gee nie, dan vat hulle dit, onder wat ook al se voorwendsel!

Henri

“Jansen sê egter dit is onwaar dat die Landbank boere van hul grond verdryf deur van voormalige 32 Bataljon se soldate gebruik te maak.”

Voor berigte, soos die vorige een oor die Landbank, met sappige sensasie geplaas word, moet die inligting eers 100% feitlik wees. Anders raak lesers sonder rede erg emosioneel.

Stephen

Lawyers. The Vultures of society. Reg en geregtigheid bestaan nie meer nie. Slegs geldsug.

Kokerboom

Die Landbank moet probeer om ‘n produsent so lank moontlik op die grond te hou totdat ALLE alternatiewes uitgeput is. Selfs dan moet alle pogings aangewend word om sy/haar spesifieke unieke ekspertise te behou. Hy/sy ken plaas en potensiaal deur bloed en sweet.
Agri Sa moet dringend aandag skenk aan tipe genoemde cowboy sekuriteitsmaatskappye wat uiters skadelik vir landnbou kan wees. Veral as hul nog ANC meelopers is