Landbank R97 miljoen in die rooi

Die Landbank boer stééds agteruit ondanks die R7 miljard-reddingsboei wat tydens die 2021- nasionale begroting aan hom toegeken is.

Die tesourie het vandeesweek ʼn verslag oor staatsuitgawes vir die derde kwartaal (Oktober tot Desember 2023) aan die parlement se bewilligingskomitee ter tafel gelê.

Dié verslag dui daarop dat ook die Landbank misoes ná misoes oplewer wat die terugbetaling van skuld betref.

R6,5 miljard van die R7 miljard-reddingsboei wat die Landbank in 2021 ontvang het, is gebruik om gewaarborgde skuldeisers terug te betaal.

Tog het dié sukkelende staatsinstelling, wat sedert 2020 in gebreke is met sy skuldverpligtinge en onderhewig is aan herkapitalisering van die staat, teen einde verlede jaar ʼn netto verlies van R97 miljoen teenoor ʼn begrote wins van R99,4 miljoen aangeteken.

Die verslag toon verder dat die Landbank ʼn netto rente-inkomste van R454 miljoen gegenereer het – R196 miljoen minder as die begroting van R650 miljoen, en R87 miljoen minder as die vorige jaar se bedrag van R541 miljoen.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dis baie belangrik vir Suid-Afrikaanse boere dat die Landbank weer op sy voete kom sodat die bank boere met begrip deur onder meer droogtes  en misoeste kan lei.

“Die Landbank is juis gestig om ekonomiese wisselvalligheid in die landbou te oorbrug.

“Boere het finansiering nodig vir insetkoste – soos saad, kunsmis en diesel voor planttyd – wat hulle later terugbetaal wanneer hulle hul opbrengste ontvang. Die Landbank is egter nie in hierdie stadium in staat om dit vir boere te kan doen nie, wat beteken boere is aangewese op ander banke vir finansiering.”

Van Zyl sê sogenaamde normale handelsbanke is egter nie so buigsaam wat die terugbetaling van lenings deur boere betref nie.

“Die Landbank moet dus eintlik ʼn unieke produk vir die landbou daarstel om boere te help om ondanks al die skommelings in die landbou, soos veldbrande, droogte en siektes, in produksie te bly.”

Van Zyl sê dit blyk intussen dat die regering ʼn ideologiese verbintenis met die Landbank het.

“Ek dink die staat verwag van die bank om hom te help om sy ideologiese teikens te bereik in ruil vir die reddingsboeie.”

Die Landbank is nie die enigste staatsinstelling wat ondanks reddingsboeie van miljarde rande sukkel om uit die skuld te kom nie.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig Eskom, wat ʼn massiewe reddingsboei van R254 miljard oor drie jaar sal ontvang, het ná belasting ʼn verlies van R7,5 miljard in die derde kwartaal aangeteken.

Transnet, wat ʼn waarborggerief van R47 miljard ontvang het, was nie in staat om sy skuldverpligtinge van R14 miljard teen die einde van die boekjaar na te kom nie, en Sapo, wat tans in sakeredding is, het ʼn netto verlies van R976,6 miljoen in die derde kwartaal gely.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

hpven ·

Tel die ANC kaders in al die sukkelende staatsinstellings, die antwoord sal vanselfsprekend wees…

Ronel ·

Dis wat oor is van ‘n eens trotse en vooruitstrewende instansie, nadat hierdie ANC regering aan bewind gekom het – net soos die ander instansies wat ons een vir een kan opnoem!!

Christian J M ·

Ramamparra wil ‘n bank he maar die staatsbank wat hulle wel het is bankrot — Die Posbank is op laaste bene. Hoe nou?????

Dries ·

Ek het al vantevore hierdie kommentaar gelewer.
Ek is nie verbaas omtrent Landbank nie. n Naaldwerkster in diens van my vrou het n Landbank lening bekom. Hoe sy gekwalifiseer het daarvoor, sal ek my voortande gee.
Sy het die geld gebruik om kitslenings aan ander persone te gee. Het sy die Landbank lening terugbetaal? Die tandemuis glo ook nie sy het nie. Sy is kort na sy die lening bekom het, bedank uit ons diens.

Di ·

Orals waar ANC KADERS betrokke is, eindig in ‘n totale verval. Wys my EEN positiewe ding wat hulle bereik het in 30 jaar???? GEEN. VERWOES alles sover hulle gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.