Landbank se omkeerplan werp vrugte af

Die Landbank het vroeër ʼn omkeerplan in werking gestel in ʼn poging om die instelling uit sy skuldgat te kry. (Foto: Jo Raubenheimer)

Die sukkelende Landbank het vordering met sy omkeerplan gemaak en sy skuld met 28% verminder sedert die hy verlede jaar sekere van sy terugbetalings gemis het.

Die wanbetaling het beduidende druk op die bank se bedrywighede geplaas en sy vermoë om die landbousektor te steun en bestaande skuld te delg geweldig geknou. Die bank het geen nuwe finansiering ontvang nie en sy vermoë om sy sleutelrol te vervul bly steeds uiters beperk.

Die bank het vroeër ʼn omkeerplan in werking gestel in ʼn poging om die instelling uit sy skuldgat te kry.

Rebecca Phalatse, woordvoerder, sê die bank kon finansieringskuld deur gewone invorderings en paaiemente van kliënte verminder, kon sekere rekeninge sluit van kliënte wat na ander finansiële instellings geskuif het en het reeds van sommige van sy nie-noodsaaklike bates ontslae geraak.

“Van die geld is gebruik om broodnodige steun aan bestaande Landbank-kliënte te verskaf,” sê Phalatse.

Die bank is ook gereed om bestaande kliënte met bedryfskapitaal en produksielenings in die plantseisoen te help.

“Nog R11,4 miljard is aan krediteure betaal wat gelei het tot ʼn vermindering van 28% van skuld sedert die bank se wanbetaling. Die bank gaan voort om skuldterugbetaling te prioritiseer en vergader deurlopend met uitleners om die proses volhoubaar te bestuur.”

Die bank se krediteure het intussen gevra dat ʼn onafhanklike hersiening van die instelling se boeke gedoen word nadat drie voorstelle oor die bereddering van die skuld gemaak is.

“Die langtermynvolhoubaarheid van die Landbank moet egter deurlopend in gedagte gehou word en die opsie waarop besluit word moet uiteindelik vir die bank, sy skuldeisers en die regering as aandeelhouer aanvaarbaar wees.”

Dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai, het vroeër gewaarsku die Landbank is stadigaan besig om ineen te stort en dat dit rampspoedige gevolge vir boere kan inhou.

Die bank het in Augustus gesê hy verwag om in die huidige boekjaar ʼn verlies van R1,06 miljard te ly, minstens ʼn daling van die verlies van R1,3 miljard wat hy ʼn jaar tevore gely het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Die regering is ‘n aandeelhouer.Hoekom het die bank in die eerste plek in die verknorsing beland.Daar is mos ministers met plase.

Shakespeare ·

Die inhaal van skuld gaan die korrupte kaders blitsig weer uithaal en in hulle sakke steek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.